Talle skole tydens vakansie geplunder, besteel

(Foto: pixabay)

Tydens die onlangse 24 dag lange skoolvakansie is 42 skole in die Wes-Kaap besteel of gevandaliseer, ʼn styging van die 27 wat in die vorige jaar aangemeld is. “Dit is verskriklik,” het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Van Januarie tot Junie verlede jaar is altesame 395 skole in die provinsie besteel of geplunder. In die eerste ses maande van vanjaar, is 471 skole óf besteel, óf gevandaliseer, het sy gesê.

Van Januarie tot Desember verlede jaar is 768 skole geteiken. “Gemiddeld word twee skole dus elke dag besteel of gevandaliseer,” het Schäfer gesê.

Volgens die LUR kom voorvalle boonop nie net binne die metrogebied voor nie. ʼn Skool in George het die afgelope jaar reeds tien voorvalle van diefstal en plundery aanhangig gemaak. Skole in die Paarl, Langebaan en Laingsburg het agt voorvalle aangemeld.

“Die probleem strek oor die hele provinsie en dit is een wat ons saam sal moet help oplos. Ons skole moet plekke wees waarheen ons gaan om te leer, nie waarheen misdadigers gaan om te steel nie,” het Schäfer gesê.

“As ʼn departement speel ons ʼn belangrike rol om veiligheidsmaatreëls soos omheining, diefwering en alarms wat aan ʼn gewapende reaksiemag gekoppel is, met ʼn beperkte begroting te implementeer.

“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement verskaf ook 24-uur sekuriteit by sekere skole. Dit is uiters duur en nie altyd moontlik om te voorspel waar of wanneer ʼn voorval gaan plaasvind nie.

“Tog word selfs skole mét veiligheidswagte soms ook geteiken en ongelukkig is die wagte se lewens selfs in gevaar. Van die 42 skole wat die afgelope skoolvakansie geplunder is, het 24 sekuriteitsbeamptes tydens die vakansie gehad.

“In Mei vanjaar is ʼn veiligheidswag by die Woodlands Sekondêre Skool tragies vermoor terwyl hy by die skool aan diens was. Drie ander skole het ook aanvalle op veiligheidswagte die afgelope jaar aangemeld.

“Ek pleit daarom by alle burgers, organisasies en staatsdepartemente om die vlaag te help stuit.”

Schäfer het gesê hulle maak staat op die polisie om veiligheid en bestendigheid in woonbuurte te verseker, maar dat daar heeltemal te min polisielede in die provinsie is. Polisiesigbaarheid, asook die polisie se reaksietyd, is dus soms onvoldoende.

Sy het gesê skole moet vennootskappe aangaan met plaaslike buurtwagte en gewapende reaksiemaatskappye en moet met hul plaaslike polisiestasie saamwerk om bykomende patrollies by skole te doen.

“Die gemeenskap self is egter ons beste verdediging. Terwyl ons nie vra dat mense self ʼn oortreder probeer keer wat ʼn skool vandaliseer nie, vra ons bloot dat jy ʼn oproep na die polisiestasie maak om dit aan te meld.”

Schäfer het inwoners bedank wat reeds aktief betrokke is om hul skole te help beskerm.

Die departement werk ook saam met verskeie ander instellings om ʼn slagoffer-impakstudie te doen, asook om ʼn getuie-ondersteuningstelsel by te hou sodat sake wat verband hou met misdaad by skole vinniger verwerk kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petrus

Hy laat my lag ,die regering wil sekuriteits firmas verbied om wapens te dra en al bel jy die polisie daag hulle nie op nie.

Johan

Ons het ‘n nasie van diewe geword…..

Pieter

Ja want hulle weet die polisie gaan niks doen nie want hulle weet nie wat om te doen nie behalwe om hulle kruideniers in die polisie vans te laai

Grapjas

Ons plaaslike polisie kantoor het ‘n paniek knoppie wat afgaan by die sekuriteits maatskappy! Hahahaha!

Jdb

Wag net ‘n bietjie. In watter “gemeenskappe” is hierdie skole? Maak dit ‘n bietjie bekend.