Talle skoolhoofde nie gereed om skole te heropen

(Argieffoto: Unsplash)

Minder as die helfte van skoolhoofde wat aan ʼn opname oor skole se gereedheid om te heropen deelgeneem het, is vol vertroue dat hulle aan Covid-19-protokol kan voldoen wanneer leerders terugkeer. Meer as die helfte van skole het minstens een onderwyssterfte aangemeld en net die helfte van skoolhoofde het aangedui dat hulle verlede jaar se kurrikulum grotendeels voltooi het. Sommige skoolhoofde is ook onseker daaroor of hul leerders wel sal terugkeer skool toe wanneer dit toegelaat word.

Die opname is gedoen onder skoolhoofde wat verteenwoordig word deur die vyf vakbonde in die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC).

Skole se bestuurspanne moet op 25 Januarie en onderwysers op 1 Februarie aanmeld. Leerders moet op 15 Februarie weer by die skool wees.

Teen 18 Januarie het net 37% van skole landwyd aangedui dat hulle gereed is om vir die eerste kwartaal te heropen. In KwaZulu-Natal het net 22% van hoofde aangedui hul skole is gereed en in die Oos-Kaap het hierdie syfer op 30% gestaan.

Hoofde in die Wes-Kaap het hoë vlakke van gereedheid aangemeld – met die uitsondering van genoeg gesigmaskers en skoolgeld – terwyl skole in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, die Noord-Kaap en Oos-Kaap in alle kategorieë lae vlakke van gereedheid aangedui het.

Nasionaal het net 19,5% van hoofde aangedui hulle het genoeg gesigmaskers, byna 40% het aangedui hulle het genoeg handreinigingsmiddels en amper 30% het aangedui dat hulle genoeg ontsmettingsmiddels het om oppervlakke te ontsmet.

Skole wat aangedui het dat hulle nie genoeg voorraad het nie, het boonop bitter min vertroue dat hulle dit gaan ontvang teen die tyd dat die skole heropen.

Op ʼn vraag of die skoolhoof meen sy skool kan ten volle aan die vereiste Covid-19-protokol voldoen, was net hoofde in die Wes-Kaap betreklik seker daaroor.

Ek is vol vertroue dat my skool aan alle soorte Covid-19-protokol kan voldoen
Nasionaal47%
Gauteng52%
Vrystaat61%
KwaZulu-Natal30%
Mpumalanga51%
Limpopo49%
Noordwes49%
Noord-Kaap51%
Wes-Kaap70%
Oos-Kaap43%

Die data uit die opname stem ooreen met die inligting wat vakbonde tot dusver ingesamel het, maar die vakbonde meen dit kan selfs ʼn onderskatting wees van wat die situasie op voetsoolvlak werklik behels.

Sterftes by skole

(Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Uit die 7% van skole wat aangemeld het dat ʼn onderwyser daar dood is, het 4-10% van skole aangedui dat onderwysers weens Covid-19 gesterf het.

Sedert die pandemie in Maart verlede jaar in Suid-Afrika uitgebreek het totdat skole vir die Desembervakansie gesluit het, het 50-76% van skole in alle provinsies een onderwysersterfte aangemeld. In agt van die land se provinsies het 5-14% van skole twee sterftes weens Covid-19 aangemeld.

In die tydperk tussen die sluit van skole en 18 Januarie is nog ʼn sterfte by 17-63% van skole aangemeld en in sewe provinsies het 2-16% van skole twee sterftes weens Covid-19 aangemeld.

“Wanneer onderwysers in Februarie na skole terugkeer, sal tot een uit elke tien skoolgemeenskappe die verlies aan ʼn personeellid moet verwerk. Dit is benewens die verlies aan ander familielede of sterftes in die gemeenskap,” lui die bevindings.

Volgens die opname is dit steeds nie duidelik of onderwysers enigsins meer as enige ander lede van die samelewing deur Covid-19 geraak word nie.

Teen 18 Januarie het 9-20% van skole wat aan die opname deelgeneem het, aangedui dat ʼn personeellid Covid-19 onder lede het. KwaZulu-Natal (23%) en Limpopo (20%) het die hoogste syfers gehad, terwyl Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap die minste geraak is.

Altesaam 2% van skoolhoofde wat aan die opname deelgeneem het, het aangedui dat ʼn lid van die skool se ondersteuningspersoneel weens Covid-19 dood is.

Leerplan

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Uit die hoofde wat aan die opname deelgeneem het, het net 58% aangedui dat hulle die grootste gedeelte van die gewysigde kurrikulum vir die meeste vakke voltooi het. In Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap en Wes-Kaap het sowat 60% van hoofde gesê die werk is grootliks afgehandel.

Die vakbonde sê egter dit is nie ʼn verrassing nie, aangesien die stelsel nog haakplekke ondervind oor hoe om tuisonderrig te doen, dat materiaal vir tuisleer beskikbaar gestel moet word en dat daar onderwysertekorte weens sterftes of siekte was, asook omdat onderwysers met onderliggende toestande van die huis af moet werk.

Roetines wat gereeld ontwrig word, daaglikse of weeklikse afwisseling in skoolbywoning en probleme met tuisleer is verdere hindernisse vir skole.

Altesaam 33% van skole landwyd het aangedui dat die meeste leerders sukkel om te konsentreer en dissipline te handhaaf weens roetines wat omvergewerp word en net 21% van skole wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui dat leerders tuis kan werk.

Verlore leerders

Die opname het ook bevind daar is ʼn toenemende gevaar dat leerders die skool tydens die Covid-19-pandemie permanent verlaat.

Nasionaal het 21% van skole aangedui dat hulle glad nie meer kontak met 6-10% van hul leerders het nie; 7% van skole het aangedui hulle weet nie meer waar meer as ʼn kwart van hul leerders is nie; en 23% van skole skat dat 6-10% van leerders nie vanjaar weens Covid-19 gaan terugkeer skool toe nie.

ʼn Verdere 14% van skole meen 11-20% van leerders gaan nie vanjaar weer terugkeer nie.

Entstof

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Huidige beleid prioritiseer onderwysers om die entstof teen Covid-19 te ontvang sodra dit beskikbaar is en luidens die opname is dit uiters belangrik dat onderwysers teen die virus beskerm word omdat die onderwysstelsel staatmaak op genoeg onderwysers.

Altesaam 49% van hoofde wat gevra is oor onderwysers se opvattings oor inenting, sê hulle weet nie wat onderwysers se houding jeens die entstof is nie.

Altesaam 29% van hoofde het aangedui hulle is onseker oor hoe onderwysers daaroor voel en 6% is na raming gekant teen inentings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

Weereens moet ons kinders daaronder lei. Onderwysers wil eerder by die huis sit en vol salaris verdien terwyl ek moet bly skoolgeld betaal anders verloor hy sy plek in die skool al het skole nog nie oopgemaak

Werner

Kan raai waar die skole is wat nie gereed is nie

Baardman

Nou moet die meerderheid maar wag vir die agterosse. Klink nie vir my demokraties.

Kokerboom

Weereens bewys van TOTALE onbeholpenheid en vermoeë van ANC om ENIGIETS behoorlik te kan beplan en bestuur. So gaan dit jaar na jaar en dit raak nou regtig afgesaag en holrug gery!!!Logistiek vir “ppe” en reiniging moeg end 2020 al in plek gewees het. So ..Quo VADIS SA?????

Lola88

Wat ek nou nie helemal kan klein kry nie, is dat daar skole is wat STEEDS nie gereed is vir oopmaak nie? Iewers hier is 1+1 nie 2 nie?