Talle skoolkinders in Bloem-hospitale opgeneem

Argieffoto Foto: @gavine2009, Twitter

Argieffoto Foto: @gavine2009, Twitter

Meer as 45 kinders is Donderdag na verskeie hospitale in Bloemfontein geneem vir behandeling nadat hulle almal siek geword het.

Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, is paramedici van verskeie nooddienste na ʼn skool in Botshabelo ontbied waar die siek kinders almal by die skool aangetref is.

“Die kinders het gekla van maagkrampe, naarheid en diarree. Sommige het opgegooi,” het Bodasing gesê.

Bodasing het gesê die rede waarom die kinders siek geword het, word ondersoek. Paramedici is egter ingelig dat daar Woensdag ʼn begrafnis was en dat al die kinders dieselfde middagete gehad het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig dat een van die kinders ernstig siek is, terwyl die ander stabiel is. Hy het egter gesê nagenoeg 80 kinders is na verskeie hospitale in die omgewing geneem vir behandeling.

Amanda Appelgryn, woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, het aan Maroela Media gesê ses van die kinders word in die hospitaal se noodeenheid behandel.

“Hulle ontvang behandeling vir simptome soortgelyk aan voedselvergiftiging. Toetse word gedoen om die oorsaak van hul toestand te bepaal, maar hulle is stabiel,” het sy gesê.

Sy het gesê die leerlinge is tussen 13 en 14 jaar oud.

Die kinders is glo leerlinge aan die St Bernard’s High School, ʼn Rooms-Katolieke skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Geen waterstandaarde onder ANC ·

Die Departement van water en sanitasie het permitte vir water suiweringswerke en rioolwerke gegee wat hulle vrywaar van die waterwet.

Die staatsorganisasies kan dus maak wat hulle wil, en daar is geen verantwoordbaarheid nie. Geen wonder die kinders word so siek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.