Talle spoedvrate in Gauteng vasgetrek

Die verkeerspolisie in Gauteng het 18 bestuurders sedert die begin van die maand vasgetrek omdat hulle die spoedgrens op Gautengse paaie oorskry het.

Onder hulle was die 26-jarige bestuurder van ʼn silwer BMW wat 207 km/h in ʼn 120 km/h-sone bestuur het. Hy is op 11 Desember op die N1 in Midrand vasgetrek. “Die bestuurder kon nie ʼn behoorlike rede vir sy hoë spoed verskaf nie. Hy het ook nie jammer gelyk oor sy oortreding nie en is dus deur die Midrand-polisie in hegtenis geneem,” het Sello Maremane, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, gesê.

Die res van die oortreders is almal tussen 21 en 45 jaar oud en is op die N1 in Pretoria, die N4 in Pretoria, die R21 tussen Pretoria en Boksburg en die M1 tussen Pretoria en Johannesburg voorgekeer. Hulle het almal meer as 120 km/h gery.

Al 18 bestuurders is van roekelose en nalatige bestuur aangekla en sal binnekort in die landdroshof in die onderskeie streke waar hulle in hegtenis geneem is, verskyn. Hulle is elk ook op borgtog van tussen R1 500 en R5 000 vrygelaat.

“Die oortreding van die spoedgrens is een van die grootste oorsake van dodelike ongelukke op ons paaie,” het Maremane gesê. Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Woensdagoggend bekend gemaak dat meer mense vanjaar in ernstige ongelukke beseer is as vorige jare.

Hy het motoriste gemaan om versigtig te bestuur en by die spoedgrens te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.