Talle sterf, groot skade aangerig ná storm in KZN

‘n 14-jarige meisie is dood nadat sy en nog twee kinders in ‘n informele nedersetting in Durban deur vloedwater meegesleur is. (Foto: Rescue Care)

Minstens ses mense is dood weens die hewige storm wat Durban en omstreke gister getref het.

Verskeie huise het weens swaar reën en modderstortings ineengestort en rampbestuurspanne is ontplooi om inwoners by te staan.

Berigte van huise wat inmekaargestort het, is uit onder meer Malvern, Overport, Chatsworth en Amanzimtoti ontvang. In Ellenweg in Malvern is vier mense dood, een van hulle ʼn baba, toe ʼn modderbank op hulle huis geval het. Paramedici het ure lank in gure weer op die perseel gespook om die slagoffers te help.

In Overport is ʼn 70-jarige vrou lewend uit die puin van haar huis gered toe dit ineengestort het. Die vrou was minstens twee uur lank daar vasgekeer. Haar seun is dood toe die huis meegegee het.

“Haar seun was klaarblyklik in sy 20’s. Hy het bitter ernstige beserings opgedoen en paramedici kon nie sy lewe red nie. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê.

Paramedici spook sedert gister om mense na die storm in die Durban-omgewing by te staan. (Foto: Rescue Care)

“Reaksiespanne het deur die nag op verskeie plekke gaan help,” het Jamieson gesê.

Jamieson het gesê die liggaam van ʼn 15-jarige meisie is vanoggend gevind nadat sy klaarblyklik in die vroeë oggendure deur vloedwater in ʼn informele nedersetting by Wilshireweg meegesleur is. Die gemeenskap het twee kinders gered wat ook meegesleur is.

Oproepe is uit Chatsworth ontvang waar huise glo ook inmekaargestort het. Luidens berigte was talle mense sedert gister in hulle huise vasgekeer.

Die Durbanse nooddienste het die publiek intussen gewaarsku om nié fop-noodoproepe te maak nie en het mense gevra om eerder van die paaie af te bly. Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, het gesê hulle het reeds verskeie sulke fop-oproepe ontvang. Mense stuur boonop foto’s rond van stormskade wat tydens ánder voorvalle aangerig is.

“Ons ontvang fop-oproepe, ou boodskappe word rondgestuur, ou foto’s van vorige vloedskade … Mense maak allerhande goed op. Ons het ons hande vol soos dit is, die vloede hou ons baie besig. Meld asseblief net regte noodgevalle aan,” het McKenzie gepleit.

“Daar val baie reën en daar is baie water, veral in die eThekwini-gebied. Verskeie plekke het oorstroom. Probeer asseblief om nié te reis indien dit enigsins moontlik is nie,” het McKenzie gesê.

Die SA Weerdiens het gister ʼn waarskuwing vir die eThekwini-gebied uitgereik vir ʼn hewige storm en teen gisteraand is rampbestuurspanne op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Vanoggend was verskeie paaie in die suide van die stad oorspoel of versper, ná die Umhlatuzanarivier deur sy oewers gebars en onder meer ʼn brug oorstroom het.

Opdrifsels het die aansluiting tussen Chiltern en Shallcross in die Chatsworth-omgewing versper en die pad buite die Shallcross-stadion, asook die Hans Dettmanpad by Northdene is gesluit ná grondstortings. Die Higginson-hoofweg was in albei rigtings onder water.

Afgesien van die stormweer wat die provinsie teister, het padongelukke ook ʼn tol geëis. ʼn 14-jarige meisie is dood toe vyf voertuie gisteraand op die N3-Suid naby Inchanga in ʼn botsing betrokke was. Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, het gesê nog nege mense is in dieselfde botsing beseer.

Sipho Nzuza, Durban se stadsbestuurder, het ʼn beroep op veral inwoners van laagliggende gebiede gedoen om ekstra versigtig te wees.

Op sommige plekke is skole weens die oorstromings gesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Msp ·

Baie slegte nuus. My innige meegevoel aan mense wat families aan die dood afgestaan het. Julle is in my gebede.

GM ·

Ai, hoe tragies.
Is die regering nie ook gedeeltelik verantwoordelik nie? Die mense word toegelaat om hul huise op te rig net waar hul wil, sonder dat impakstudies en wat nog als gedoen word soos wat die wet bepaal. Ons gewone mense gaan nie ‘n kompleks iewers mag gaan oprig sonder al die nodige dokumente nie.
Netso ook met die paaie wat so gereeld versper word – hulle word toegelaat om langs die hoofpaaie te plak. Daar is seker nie meer ‘n plek wat hulle nie heeltemal tot stilstand kan ruk as hul die paaie reg rondom begin versper nie. Dis kommerwekkend.

Maar, nou is seker nie die tyd/plek om dié dinge op te haal nie.
Sterkte aan die oorledenes se naasbestaandes en reddingswerkers.

Cherokee ·

Ons het skuifvensters op ‘n balkon wat nie die reën kon uithou nie. Tot in die vroeë oggendure water van die vloere opgedroog. Sal die vensters se rubber belynings moet laat hernu. Die reën het gepaard gegaan met donderstorms. Vanmore het son die eerste keer in dae vir enkele minute geskyn en nou is die lug weer heel toegetrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.