Talle sterf reeds op paaie

Drie mense is in die ongeluk naby Potchefstroom in Noordwes dood. (Foto: ER24)

Die begin van die Kersvakansie was reeds dodelik op die land se paaie.

In Reitz in die Vrystaat is 13 mense dood toe twee taxi’s Saterdag in die vroeë oggendure op die R57 buite die dorp reg van voor teen mekaar vasgery het.

Nog vier mense is ernstig beseer, sê brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder.

Een van die minibustaxi’s was van Ficksburg na Gauteng onderweg, terwyl die ander van Pretoria na Fouriesburg op pad was toe die ongeluk plaasgevind het.

Die twee taxibestuurders was onder die 13 mense wat op die toneel gesterf het. Die beseerdes is na die Dihlabeng- en Nketoana-hospitaal vir behandeling geneem.

Makhele sê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek. Die polisie is intussen steeds op soek na die naasbestaandes van die slagoffers.

ʼn Ongeluk op die R53, sowat 10 km buite Potchefstroom in Noordwes, het Saterdagmiddag die lewe van drie mense geëis. Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê die mans wat die onderskeie voertuie bestuur het, is op die toneel dood verklaar.

ʼn 28-jarige vrou wat uit een van die voertuie geslinger is, is etlike meter van die voertuigwrakke aangetref. Sy was in ʼn bedenklike toestand en is kort daarna dood.

Een van die passasiers in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem, terwyl nog twee mense ernstig beseer is.

In Vanderbijlpark is vyf mense Saterdagoggend ook beseer in ʼn botsing tussen twee bakkies in Ravelstraat.

Die 24-jarige bestuurder van een van die bakkies het langs die pad gelê, terwyl verbygangers twee kleuters uit die wrak gehaal en versorg het.

Die man is ernstig beseer en na is ʼn hospitaal gevlieg.

“Die twee kinders, ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie, het ernstige beserings opgedoen,” sê Campbell. Hulle is na die Mediclinic Emfuleni vir verdere behandeling geneem.

Altesame vyf mense, ook twee jongers, is in die ongeluk in Vanderbijlpark beseer. (Foto: ER24)

Twee veiligheidswagte in die ander bakkie het ligte beserings opgedoen.

En in Limpopo is ʼn 27-jarige vrou vroeër die naweek dood toe ʼn minibussie haar glo op die N1, sowat 19 km buite Polokwane, raakgery het. Paramedici het die vrou se liggaam Vrydag kort na 17:00 in die middel van die hoofweg aangetref.

“Die vrou het ongelukkig geen teken van lewe getoon nie en is dood verklaar.”

Die insittendes van die minibussie is nie beseer nie. Die Limpopo-departement van vervoer ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Ek verstaan nie, kan iemand dalk verduidelik hoe word so ‘n saak ondersoek (” ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek”) wanneer albei die bestuurders op slag dood is?

melaney

Niks gaan taxi bestuurders keer nie. Ry gaan hulle ry. Al wat hulle soek is ‘n stuurwiel en die petrol pedaal.

Pienkie

Kom Fikkie wys vir ons al die dronkbestuurders wat hierdie ongelukke veroorsaak het…. Dis jou taxis en oplaai voertuie. Waar is jou mense on daarna te kyk?????

Duck

Elke jaar selfde, raak nie beter nie, al kos petrol R20 per liter bly die mense jaag en onverskillig bestuur op die paaie. So hartseer!

Astrain

Om nie te praat van die VW Polo, Citi Golf, TDI en GTI bestuurders nie.. hulle is nou moordwapens op wiele!!!