Talle troeteldiere haweloos ná feestyd

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl talle Suid-Afrikaners die feestyd saam met hul families deurgebring het, was die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha volgepak met hawelose katte en honde.

In Desember is 26 honde by dié kliniek afgegee, waarvan drie intussen in pleeghuise gesit is. ʼn Verdere 26 katte is afgegee en 14 is tans in pleeghuise.

Hoewel die kliniek hospitalisering en chirurgiese dienste aan troeteldiere in die gemeenskap bied, is hy nie toegerus om ʼn groot hoeveelheid hawelose troeteldiere te huisves nie.

“Mdzananda het ʼn klein skuilingfasiliteit wat 12 honde en 12 katte op ʼn slag kan huisves, maar ongelukkig het ons reeds ons kapasiteit bereik en moet ons troeteldiereienaars begin wegwys of hulle na ander welsynsorganisasies verwys,” sê Marcelle du Plessis, bestuurder van fondsinsameling en kommunikasie.

Weens die toestroming van hawelose diere het die organisasie ʼn finansiële knou gekry.

“ʼn Troeteldier bly ongeveer twee maande in die kliniek voordat ʼn nuwe huis gevind word, maar sommiges kan tot 18 maande aanbly. Dit kos die kliniek reeds R1 565 om net een troeteldier in die eerste maand te versorg,” sê sy.

Volgens Du Plessis is daar tydens die feestydperk dikwels nie ʼn veilige hawe vir troeteldiere nie, en dan moet mense die diere aan nie-winsgewende organisasies oorhandig. “Gegewe die Covid-19-pandemie, etlike werksverliese en verhoogde uitgawes is dié tendens al hoe meer algemeen.”

“Baie mense is regtig verpletter om hul troeteldiere af te gee, maar ons is dankbaar dat hulle na ons toe kom in plaas daarvan om hul diere aan hul eie genade oor te laat.”

Du Plessis sê dat hulle klein aannemingsprogram intussen so gegroei het dat die dierekliniek ʼn toegewyde persoon in diens geneem het wat aannemings bestuur.

Dobbie is een van dié honde wat gereed is om aangeneem te word. “Dobbie is in Khayelitsha gevind en hy was heeltemal uitgeteer. Hy is by die kliniek opgeneem, waar hy vir ondervoeding en bosluiskoors behandel is,” sê dr. Lara Murray, veearts by die Mdzananda-dierekliniek.

“Afgesien van die bosluiskoors het hy soveel ander mediese probleme gehad en het die punte van sy ore eendag begin verrot. Ná ses weke se behandeling, bloedoortappings, medikasie en baie liefde, het Dobby wonderbaarlik herstel. Hy is gelukkig en gesond en is nou gereed vir aanneming.”

Die kliniek het ʼn beroep op die publiek gedoen om hul harte en huise oop te maak vir die bevordering of aanneming van troeteldiere in dié omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JM ·

My hart breek vir hierdie diere, want hulle is só afhanklik van liefde en versorging.

Eiervrug ·

Ek is bitter bitter lief vir diere, maar verstaan nie as jy ‘n uitgeteerde dier soos Dobbie kry, hoekom jy hom nie maar van sy ellende verlos nie. Nou sit die arme hond vir die res van sy lewe in ‘n hok… Dit is ook NIE reg teenoor die diere nie…

Natasha67 ·

Hierdie breek my hart. Ek bewonder die mense wat hierdie honde red, gesond kry en versorg. Ek het al soveel aangeneem, en hulle soek net liefde. Is daar bankbesonderhede as ons geld wil skenk?

Natasha67 ·

Hierdie breek my hart. Ek bewonder die mense wat hierdie honde red, gesond maak en versorg. Ek het al soveel aangeneem – hulle soek net liefde. Is daar bankbesonderhede vir dié organisasie as ons ‘n bydrae wil maak?

Pieter ·

Hoe mense met diere omgaan is ‘n refleksie van hul moraal en menswees. Faal jy ‘n dier dan sal ek sekerlik jou faal in jou uur van nood.

Henk ·

Al wat ‘n hond soek is kos, aandag en ‘n blyplek. In ruil daarvoor sal hy sy lewe gee. Ek het drie brakke maar ek verruil hulle vir niks. Ek bly al 3 jaar net by die huis want ek vertrou niemand anders om hulle te versorg nie. Hulle pas my op en ek pas hulle op.

Genis ·

My diere is my lewe… seer sekerlik kan mens jou bes probeer vir die diere kinders…. Baie mense is net te selfsugtig… ek verstaan daar is soms omstandighede…maar lyk dis norm, Mr wil op vakansie gaan, en die honde is in die pad… sies man…

Sonneblomkind ·

My hart breek vir hierdie diere. Ek bid dat elkeen n huis sal kry wat hulle kan versorg en lief he

Mallie ·

Hoe skaf jy n dier aan en gee dit net weer weg? Ek verstaan dit nie. Dit gaan met ons land se kinders ook so.

pieterweskaap ·

MAROELA MEDIA,

Kan julle dalk help met bankbesonderhede indien mense finansieël wil help?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.