Talle tussenverkiesings landswyd gehou

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Altesaam 24 tussenverkiesings vind Woensdag plaas, met sterk aanduidings van hoe die politieke wind waai wat van oral in die land verwag word.

Twee van die tussenverkiesings is in die Oos-Kaap. Wyk 23 van die Raymond Mhlaba-munisipaliteit setel om die dorpie Bedford en is ʼn ANC-kragpunt, soos ook wyk 13 van die Engcobo-munisipaliteit in die landelike Transkei.

Ook in die Vrystaat gaan twee wyke nuwe raadslede kry. Hoewel die ANC Dihlabeng wyk 20 (Clarens, Golden Gate en plase) maklik behoort te hou, is daar sterk DA-steun in Clarens. Mangaung wyk 11 is makliker vir die ANC. Dit sluit twee oorwegend swart dele van Bloemfontein met uiteenlopende name in, te wete Chris Hani en Turflaagte.

Gauteng se drie tussenverkiesings is al drie aan die Oos-Rand, in die Ekurhuleni-metro. Twee van die wyke is langs mekaar in Benoni, naamlik wyke 27 (Rynfield en Northmead) en 28 (Farrarmere). Albei is al dekades lank DA-hartland, maar beide stadsraadslede het bedank om as onafhanklike ondersteuners van die voormalige Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, te staan. Dit sal ook interessant wees om te sien hoe die VF Plus vaar. Die ander wyk in Ekurhuleni is wyk 42, wat die snel demografies veranderende Elspark-omgewing in Germiston omvat en in 2016 ʼn harde stryd tussen die DA en ANC opgelewer het, met die ANC aan die wenkant.

Net een tussenverkiesing word in KwaZulu-Natal gehou, en wel in wyk 66 van Durban se Ethekwini-metro. Dit is die Bluff (by sommige Afrikaanse mense as Die Bult bekend) en ʼn deeltjie van Wentworth. Die Bluff is ʼn oorwegend wit werkersklasgebied en Wentworth ʼn oorwegend bruin arm gebied. As jy op Durban se hoofstrand staan en jy kyk in die rigting van Amanzimtoti, is die Bluff daardie heuweltjie wat jy sien aan die ander kant van die stad se hawe-ingang. Wentworth is die gebied waar ʼn ontploffing by die olieraffinadery verlede week plaasgevind het. Die besoedeling in Wentworth is erg. Die DA behoort die pyp te rook hoewel die VF Plus ook alles insit in die gebied waar die KP tydens die vorige bedeling die naaste gekom het daaraan om ʼn setel in die destydse Natal te verower (hulle kon nooit nie).

Twee tussenverkiesings vind in Limpopo plaas. Musina wyk 1 loop al met die Limpoporivier af van die dorp tot by die warmwaterbron te Tshipise. Die ANC behoort hierdie wyk te wen, asook die ander Limpopo-wyk, naamlik Blouberg wyk 20, wat ʼn baie groot en ylbevolkte gebied oos van die Groblersbrug-grenspos is.

Vyf wyke in Mpumalanga word betwis waarvan twee veilige ANC-wyke is. Nkomazi wyk 5 is ʼn landelike gebied bekend as Ka-Sibhejane en Nkomazi wyk 15 lê aan die Swazilandse grens. Dis ewe landelik.

Die ander drie bestrede wyke in Mpumalanga is in Bosbokrand en is interessant omdat dit in 2016 verower is deur die Bosbokrandse Inwonersvereniging (BRA), wat nie hierdie keer kandidate gestel het nie. Die drie gebiede is wyk 16 (Arthur’s Seat), wyk 18 (Green Valley) en wyk 32 (Casteel).

Een tussenverkiesing vind in Noordwes plaas, te wete in Ratlou wyk 10, wat sentreer om Mareetsane. Dit is ʼn redelik veilige ANC-wyk.

Die Noord-Kaap bied twee tussenverkiesings aan. Albei behoort deur die ANC gewen te word. Thembelihle wyk 3 is dele van Steynville en Vukasizwe by Hopetown en !Kheis wyk 3 is in die omgewing van Groblershoop.

In die Wes-Kaap vind ses tussenverkiesings plaas, waarvan drie in Oudtshoorn. Twee van die drie wyke is in die oorwegend bruin Bridgton, hoewel een oorloop tot in die oorwegend swart Bongolethu. Die derde wyk is in Dysselsdorp, so 20 kilometer van Oudtshoorn af op die pad na DE Rust. Al drie wyke word tans deur die DA gehou. As die DA meer as een verloor, verloor die party sy algehele meerderheid in Oudtshoorn en sal hy op koalisievennote aangewese wees.

Langeberg wyk 9 is die dorpie Ashton op die R62 tussen Robertson en Montagu. Dit is die tuiste van die Koo-inmaakfabriek en behoort veilige DA-wêreld te wees, maar grootskaalse probleme met ʼn provinsiale padbouprojek kan teen die DA tel.

Overstrand wyk 12 sal met arendsoë dopgehou word. Dit is ʼn deel van die Zwelihle-township aanliggend tot Hermanus. Hoewel die ANC tot voor 2019 hier koning gekraai het, is hulle in 2019 geklop deur ʼn aktivistiese township-party genaamd die Land Party.

Kaapstad wyk 115 hou ook tussenverkiesing. As die Kaapse stadskom ʼn gesig is met Tafelberg die kop en Duiwelspiek die neus, is wyk 115 die glimlag wat al langs die see loop deur Walmer Estate, Soutrivier, Woodstock, Distrik Ses, die middestad, die Waterfront, De Waterkant, Groenpunt en Mouillepunt. Die gemeenskappe in die wyk is baie uiteenlopend. Van Walmer Estate deur Soutrivier tot in die helfte van Woodstock is dit oorwegend Moslemgemeenskappe van ryk (Walmer Estate) tot arm (die res). Die helfte van Woodstock, sowel as die middestad, is opkomende jong gesinne, hoewel die middestad ook baie straatmense (bergies) as kiesers het. Distrik Ses is grootliks studente wat tans nie op kampus is nie. Die Waterfront, Mouillepunt en dele van Groenpunt het van die rykste kiesers in die land, en Mouillepunt het groot ouetehuise. De Waterkant, Groenpunt en Woodstock het baie gay kiesers.

Die uitslae van die tussenverkiesings word teen Donderdagoggend verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

En nou wag die ovk om die tussenverkiesings vry en regverdig te verklaar en nog n kadertaak is afgehandel! Die munisiplale verkiesings is om die draai en raai wie is die personeel wat in jou wyk se stemlokaal in beheer is , en wie ook in beheer van stemtelling is? Dis oorwegend onderwysers, maar nie net sommer onderwysers nie; nee, mense met die regte eienskappe wat seker moet toesien dat sake ‘reg’ verloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.