Talle vaartuie te hulp gesnel tydens storm

Die Magenta word deur ‘n NSRI-reddingsboot na veiligheid gesleep. Foto: NSRI

Verskeie vaartuie langs die Durbanse kus het Sondag in die moeilikheid beland toe ʼn skielike donderstorm ʼn onverwagse verandering in windrigting en -spoed teweeg gebring het.

Andre Fletcher, adjunk stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Durban, het gesê die storm het gepaardgegaan met ʼn suidwestelike wind van ongeveer 40 knope. Die NSRI is omstreeks 17:00 deur die Transnet- nasionale haweowerheid (TNPA) ontbied om te help nadat die boot Tequila Sunrise met drie mense aan boord by die Durbanse hawehoof op die rotse beland het.

Een van die hawe se reddingsbote kon dié boot van die keerwal aftrek en na veiligheid bring. Die boot is voorlopig in die hawe voor anker om die eienaars kans te gee om die skade te bepaal.

Volgens Fletcher is die NSRI kort daarna ontbied om die boot Four Years te hulp te snel wat by die ingang van die hawe in die moeilikheid beland het. ʼn Polisie seepatrollie-boot kon egter eerste by dié vaartuig uitkom en het die boot na die veiligheid van die hawe getrek waar dit geanker is.

Terselfdertyd is ʼn NSRI-reddingsboot gestuur om nóg ʼn boot, Magenta, te hulp te snel. Twee mans en ʼn vrou was aan boord van die Magenta toe die storm losgebars en hul enkelenjinboot nie die rowwe seetoestande kon deurstaan nie. Volgens Fletcher het die NSRI-reddingsboot die Magenta ongeveer vier seemyl van die kus af aangetref en haar na veiligheid gesleep.

ʼn Tweede NSRI-reddingsboot is ook ontplooi om ʼn rubberboot, wat van ʼn boot in die hawe losgeruk en deur die see meegesleur is, terug te bring na die hawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karolis ·

Verstaan ek reg, dat jy nie met ‘n enkelmotor-boot verder as 2 seemyl in mag beweeg nie?

Janosh ·

Jy verstaan nie 100% reg nie. Daar is ‘n 1 seemyl beperking indien die vaartuig ‘n “E” lisensie het wat daarop neerkom dat dit nie ‘n radio het nie. Met ‘n “D” lisensie, en radio mag ‘n enkelmotor seevaartuig tot 5 seemyl uitvaar.

Christo ·

Ons dank aan al die onbaatsugtige redders van al die betrokke instansies, SAPD en veral die vrywilligers van die NSRI. Mense wat uitreik na ander in nood in die moeilikste omstandighede. Ondersteun die NSRI want hulle is afhanklik van skenkings van die publiek en ontvang géén salarisse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.