Talle vas ná diefstal by skole

‘n Skool in Tembisa het ook onder vandalisme deurgeloop. (Foto: Twitter)

Vyf mense is in die Vrystaat in hegtenis geneem vir vermeende betrokkenheid by ʼn inbraak by ʼn skool in die provinsie. Honderde skole het reeds sedert die aanvang van die afsonderingstydperk onder vandalisme deurgeloop.

Skole word afgebrand, geplunder en toerusting van duisende rande word gesteel terwyl wetsgehoorsame burgers tuisbly. Teen verlede week het bykans 400 skole reeds deurgeloop.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê lede van die polisie se taktiese reaksiespan en verskeie ander provinsiale taakspanne het Dinsdag inligting opgevolg oor die diefstal by die Katleho Mpumelelo Senior Secondary School in Sasolburg. Toerusting ter waarde van nagenoeg R250 000 is by die skool gesteel.

Nadat die polisie op die eerste verdagte toegeslaan het, het hulle ook inligting opgevolg wat hulle na verskeie huise in Zamdela gelei het. Dáár is beslag gelê op onder meer skryfbehoeftes en ʼn drukker.

Die polisie is daarna na Viljoenskroon waar hulle op ʼn vermoedelik gesteelde gasstoof, gassilinders en potte beslag gelê het.

Altesaam vyf verdagtes sal Vrydag in die hof op Sasolburg verskyn, het Makhele gesê.

Die polisie sal ook ondersoek instel na die moontlikheid dat hulle by ander rooftogte betrek kan word.

Intussen het die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, die polisie geloof vir die inhegtenisnemings. In Gauteng is twee verdagtes reeds in hegtenis geneem nadat hulle glo items wat by skole gesteel is, in hul besit gehad het.

Nog twee verdagtes is aangekeer nadat hulle ook in besit is van items gevind wat by die Botebotsebo Secondary School in Sebokeng gesteel is. ʼn Derde verdagte is op die skoolgrond in hegtenis geneem. Hy het glo ʼn venster gebreek waarna hy ʼn vuur in een van die klaskamers gemaak en linoleumteëls en stoele aan die brand gesteek het.

Net meer as ʼn week gelede is 41 verdagtes in hegtenis geneem in verband met diefstal en brande by skole in Gauteng, het die onderwysdepartement gesê. Teen verlede week was daar in Gauteng alleen reeds 67 inbrake by skole.

“Ons is verheug en is groot dank aan die polisie verskuldig vir die uitstekende werk wat hulle doen om die verdagtes aan te keer wat aanhou om die afsonderingsregulasies te verontagsaam. Ons verstaan nie waar hulle tyd kry om dié misdade te pleeg nie, want almal is veronderstel om tuis te bly,” het Lesufi gesê.

“Ons hoop die misdadigers beland in die tronk.”

Lesufi het gesê hulle doen ʼn beroep op gemeenskappe om steeds voorvalle aan te meld van misdadigers wat skoolgeboue teiken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Burgermeester ·

Oom LuiSofie maak my glimlag met sy opmerking, en ek haal aan, “Ons verstaan nie waar hulle tyd kry om dié misdade te pleeg nie, want almal is veronderstel om tuis te bly”. As die ANC kaders nie eers by die huis bly nie, want hulle is te besig om oor en weer te kuier, hoe verwag Lesufi ander moet by die huis sit? Weereens is dit ‘n voorbeeld van, moennie maak soos ek maak nie, maar maak soos ek vir jou se.

SomeOne ·

“Ons hoop die misdadigers beland in die tronk.”
dis nie ‘n kwessie van hoop nie, hulle Moet in tronke gesit word vir jare, geen boete of borg nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.