Talle vas oor dwelms in Pta-middestad

Polisiebeamptes in die Pretoriase middestad. (Foto: ANA)

Meer as 20 mense is vandeesweek in die Pretoriase middestad in hegtenis geneem vir die smous en misbruik van dwelms.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes van die plaaslike misdaadsvoorkomingseenheid het oor die afgelope paar dae klopjagte in berugte gebiede in en om die middestad, waaronder Marabastad, Brownstraat en die brug oor Dr. Savage‑straat, uitgevoer om dwelmmisbruik en misdaad in dié deel van stad te beveg.

Die klopjagte is by wyse van stop-en-ry-patrollies in die vroeë oggendure van Woensdag en Donderdag uitgevoer.

Volgens Selepe is 21 verdagtes, tussen die ouderdomme van 22 en 25 jaar oud, gedurende dié klopjagte in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

“Dwelmverwante misdade, insluitende roof, sakkerollers en diefstal uit motorvoertuie is algemeen,” het Selepe gesê.

“Dit weerspieël egter nie ’n algemene toename in misdaad in die middestad van Pretoria nie, aangesien misdaad oor die algemeen onlangs ’n afname getoon het,” het sy verduidelik.

Dwelmmisbruik kom egter algemeen in die middestad voor met dwelmhandelaars wat handel dryf by die Ultramar-gebou wat regoorkant die Pretoriase middestad se polisiestasie geleë is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Willie ·

Ag twak, Pretoria rondom die dieretuin is n misdaat hool… Gaan kyk mooi hoe die SAPD en Metro daar stop en geselsies aanknoop, wonder wat nog…

Davy Crocket ·

Dit sal great wees as hulle `n plan kan maak, en reg voor die Department van Water en Sanitasie `n klopjag kan doen. Ons moet elke oggend oor urine en ontlasting loop, en die mense loop al-dag heeldag met naalde in hulle arms rond. Dit reg voor die deure van Sanitasie. Soveel van ons mense was al aangeval, maar niks word gedoen nie, dit terwyl Pretoria Sentraal Polisie `n klipgooi weg is van ons voordeur af.
Die polisie loop en skryf boetes vir motors reg langs die ouens, maar het nie `n saak om hulle te verwyder nie. Francis Baard straat, Pretoria middestad

Kol ·

Dwelms is oral. Enige land, stad, skool, kerk, werk en families. Sal nooit gestop word nie.

piet piet ·

Dit kan gestop word as jy regte polisie het wat nie lui is nie en net hulle werk doen

Dorothy ·

Is dit hoe Pretoria se Middestad lyk? Ek is Geskok! Maak Skoon die Gemors.

D B ·

@Sweis, sy’s so reg, hierdie DA is so onbevoeg, as jy kla, is daar altyd ‘n verskoning, maar betaal moet ons betaal. Hulle sal nooit weer my stem kry nie!

marous ·

Hool van ‘n land . Waarom gaan plak hulle nie op die unie gebou se grasperke en dring aan om die spoel toilette te gebruik nie …

wielie ·

Misdaad in Pretoria afneem ???? Ek dink nou nie ons is in dieselfde PRETORIA nie! Ek werk ini stad en misdaad is elke dag aan die orde van die dag ,,,, vuil, stank en vrot ………..
So my liewe mens kom by ,,,,,,,,,,, misdaad NEEM TOE in Pretoria.

Anon ·

Vra jý… Ek wonder waar Kaptein Selepe haar rang gekoop het? Of sal ek vra wanneer sy vir oogtoetse gaan?

Ben ·

Werklik, is dit nou die prestasie van 2019! Hel ouens julle kan sonder moeite 200 per dag arresteer en julle het nog nie ‘n duik in die problem gemaak nie. Wees net meer pro-aktief.

Boet Fasie ·

In die Wes- Kaap wil die DA die kweek van dagga befonds en aanmoedig, kinders begin met dagga en gaan oor na sterker as die skop nie meer daar is nie. Die howe is te sag met dwelm smouse en dit sluit dagga smouse in. Hierdie smouse voel vere vir jou of jou kinders se toekoms nie, solank hulle kan geld maak en hulself verryk.

Tony ·

Dit is hoe die DA regeer en die inwoners is tevrede want hulle stem vir hulle.

Sarie ·

Loop in die oggend in Voortrekker weg en kyk hoe spuit die straatslapers hulle in die oomblik as hulle wakker word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.