Talle vas vir beweerde Sassa-skelmstreke

Altesame 12 mense is in verband met die beweerde bedrogspul aangekeer. (Foto: SA Polisie/Valke)

Altesaam 12 verdagtes is agter tralies vir beweerde bedrog en korrupsie wat met die uitbetaling van ongeskiktheidstoelae verband hou.

Lede van ʼn multidissiplinêre taakspan bestaande uit onder meer polisielede en amptenare van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) – onder leiding van die Valke se eenheid vir ernstige korrupsieondersoeke – het Maandag op verskillende plekke in Tzaneen in Limpopo toegeslaan.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê die betrokke Sassa-amptenare het glo in 2018 en 2019 met die hulp van ʼn tussenganger saamgespan om mense teen betaling vir ʼn ongeskiktheidstoelaag te help registreer. Dié mense het glo nie vir sodanige toelae gekwalifiseer nie.

Die Valke se ondersoekers het bevind 21 mense is op hierdie manier gewerf en het R3 500 elk betaal om as begunstigdes te registreer. Dit het tot ʼn verlies van meer as R300 000 vir die departement van maatskaplike ontwikkeling gelei.

Die verdagtes sluit in drie amptenare verbonde aan die Sassa-kantoor op Nkowankowa, iemand wat as tussenganger opgetree het, asook agt mense wat wederregtelik toelae ontvang het.

Hulle sal in die Tzaneen-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie, het Maluleke gesê.

Die soektog na die res van die verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8
Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

8 Kommentators

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thelsa

Hierdie is ‘n netwerk van korrupsie. Die wat gevang is, is net die uitvoerende been.

Misky

Hulle is skelm tot in die murg!!!!

Raakvatter

As die departement R300,000 verloor het, en 12 mense is gevang vir bedrog oor 2 jaar, het hierdie skelms maar elk R25,000 gescore teen R1,000 per maand oor die 2 jaar. Nou kriminele rekord (as hulle skuldig bevind word) vir so min geld. (Waarvan hulle weet bygesê). Oopsie, minus 21 mense se R3500 = R73,500 ook nog. Lekker dom.

Moedeloos

Hoop hul betaal die geld terug

Eragrostis

Dit moet darem vir Ramaphosa ongelooflik moeilik wees om betroubare amptenare aan te stel, want dit blyk dat die eerlikes by verre in die minderheid is. Korrupsie, diefstal, nepotisme ensovoorts vier hoogty in die regering. Dit blyk egter die norm te wees. Dis egter al so erg dat mens amper kan aanvaar dat elke ANC aanstelling gaan uitloop op een of ander vorm van misdryf. Soos een persoon onlangs opgemerk het dat korrupsie en diefstal endemies is aan die ANC. En skaamteloos gaan hulle net voort daarmee.