Talle vas wat bedreigde plante smokkel

Al die verdagtes het dieselfde vetplantspesie in hul besit gehad. (Foto: Verskaf)

Agtien verdagtes is in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat hulle verlede week met bedreigde plantspesies betrap is.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, is vier verdagtes Woensdag op Swawelskloofplaas in Worcester aangekeer nadat hulle met bedreigde vetplante in hul besit gevind is. Die aantal vetplante het ʼn geskatte waarde van sowat R500 000.

Polisielede het kort hierna nog ses verdagtes in dieselfde omgewing met dieselfde vetplantspesie vasgetrek.

In ʼn afsonderlike geval het die polisie in Philadelphia inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig by ʼn vulstasie op die N7. Beamptes het die voertuig deursoek en ʼn sak vol bedreigde vetplante gevind. Die drie insittendes is glo van die Bitterfontein-omgewing. Hulle is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van bedreigde fauna en flora.

Een groep verdagtes het vetplante ter waarde van R500 000 probeer smokkel. (Foto: Verskaf)

Polisielede van Vanrhynsdorp en Nuwerus het Donderdag in ʼn gesamentlike poging ook vyf verdagtes op die N7 in hegtenis geneem. Die verdagtes het glo bedreigde vetplante in hul besit gehad.

Al die verdagtes het dieselfde vetplantspesie, bekend as Conophytum ficiforme, in hul besit gehad. Dié soort vetplant groei veral in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap en blom in die herfs.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklag van die besit van flora sonder geldige dokumente, asook vir die besit van beskermde flora.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Perlemoen en Sad-Afrika amper vernietig nou vat ons die volgende spesie so sal hulle aangaan totdat niks oorbly nie.

Hennie J ·

Na alles opgevreet , weggedra, besoedel en vernietig is en daar niks oor is nie, gaan dit nog apartheid se skuld wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.