Talle vas wat glo ‘goedkoop’ elektrisiteit smous

(Argieffoto: Eskom)

Vier mense wat elektrisiteit veel goedkoper as die normale prys verkoop, is in Mpumalanga en die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van die handel in elektrisiteit, diefstal van elektrisiteit en geldwassery.

Volgens Eskom is drie verdagtes in onderskeidelik Tweefontein en Siyabuswa in Mpumalanga en nog ʼn vrou in King William’s Town in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Dié vrou het Eskom glo uit minstens R300 000 bedrieg.

Strokies, kredietbewyse en meternommers is by hulle gevind.

Die verdagtes gebruik glo kredietverkoopeenhede wat nie aanlyn is nie en reik dan Eskom-kragbewyse teen spotgoedkoop pryse aan lede van die publiek uit.

Eskom sê dit is ʼn misdaad wat boonop toeneem.

Die kragvoorsiener het in samewerking met die Valke en die batebeslagleggingseenheid sy pogings verskerp om onwettige kragverkope te stuit.

“Daar sal beslag gelê word op die bates van diegene wat voordeel trek uit hierdie diefstal van elektrisiteit en geldwassery,” het adv. Karen Pillay, Eskom se waarnemende hoof van sekuriteit, gesê.

Eskom sê dit is onwettig om krag te koop van smouse wat nie geregistreer is nie en hy werk hard om te verseker dié verkopers én hul klante ry aan die pen.

“Verbruikers wat krag van onwettige verkopers koop, beroof Eskom en Suid-Afrikaners van broodnodige inkomste. Hulle sal vervolg word as hulle betrap word en hul onwettige krediete sal geskrap en hul kragvoorsiening opgeskort word,” het sy gesê.

Die polisie het tydens die inhegtenisnemings ook verskeie klantelyste gevind. Beslag is gelê op die selfoon wat gebruik word om die transaksies te doen en dit sal verder ontleed word.

“Met die hulp van die Valke gaan ons verseker dat almal betrokke by die onwettige verkoop van elektrisiteit voor stok gekry word. Ons bedank alle Suid-Afrikaners wat onwettige kragverkope aan die groot klok hang.”

Volgens die polisie is die operasies reeds in Maart vanjaar met die volle samewerking van Eskom van stapel gestuur.

Die verdagte wat in King William’s Town vasgetrek het, verkoop glo 600 eenhede teen R350 aan verbruikers. Hulle kon die geld inbetaal of deur selfoonbankdienste betaal. Die kragbewyse word dan aan hulle voorsien.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê die vrou is vermoedelik sedert 2018 bedrywig.

“Sy het glo klante so ver as die Wes-Kaap en werk na bewering vir ʼn sindikaat in Gauteng,” het Tonjeni gesê.

Nog inhegtenisnemings is volgens die polisie op hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Maar hoe kry hulle reg om verby die sekuriteit op Netwerke te kom sonder hulp van binne

Tanniepetoors

Die pogings om staatsentiteite se ondergang te probeer bewerkstellig kry net nie ent nie.

Frans

Dit sou nie gebeur het as Eskom nie besig was om die publiek gruwelik uit te buit nie en nou allerhande verskonings maak hoekom elektrisiteitpryse nou meer as die inflasiekoers verhoog moet word.Die waarheid is dat die ANC-regering deur sy kaderontplooingbeleid alle ‘State owned enterprises’ tot in die afgrond vernietig het en nou verwag dat belastingbetalers moet opdok wat korrupte amptenare en hul handlangers oor dekades verwoes het. Voeg daarby dat Munisipaliteite meer as 70% wins op elektrisiteitsverkope maak om hul selfsugtige lewensstyl te finansier en jy het die resep vir ‘n totale eknomiese mislukking omdat geen besigheid kan voortbestaan… Lees meer »

Eltan

Ja..maar wat van die regering en kaders wat MY beroof van my hard verdiende geld deur middel van belasting waarvoor ek absoluut GEEN voordeel sien…behalwe die verryking van kaders wat dit geensins verdien nie…so kry maar vir julle…ek verstaan waarom dit gebeur…alhoewel ek dit nie goed praat nie…

AJ

Ek doen ‘n beroep op politieke partye en nie-regeringsorganisasies om al die SA banke te DWING om verdere skuld (finansiering) aan Eskom te STOP! Al daardie ESKOM skuld moet uiteindelik deur ONS betalende gebruikers en belastingbetalers betaal word. ESKOM dien as tussenganger (rookskerm) waardeur diewe die Staatskas leeg plunder! Die genoemde grootskaalse PLUNDERING van die Staatskas deur o.a. elektrisiteit diewe, is georkestreer deur die ANC rampokker regering. Dit het begin met die (ANC goedgekeurde) SOWETO wanbetalings van 30 jaar gelede. Hoewel die polisie se goeie werk met dié vervalsers en bedriërs lof verdien, is dit maar ‘n druppel aan die… Lees meer »