Verskeie mense is dood en ʼn paar moes uit vloedwater gered word, nadat swaar reën die afgelope paar dae oor groot dele van die land geval het.
Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het gesê polisiebeamptes moes Saterdag, saam met verskeie ambulans- en reddingsdienste help om ʼn man te red, wat in die Dennilton-gebied in ʼn boom deur vloedwater vasgekeer is. Volgens Mojapelo moes die man ure lank aan die boom vasklou voordat hy uiteindelik gered en veilig na die oewer gebring kon word.
Lede van die Limpopo-polisie se soek-en-reddingseenheid het gister ook gehelp om die liggame van drie jong seuns uit groot waterslote in onderskeidelik die Giyani en Mankweng-gebiede uit te haal nadat hulle in vloedwater verdrink het.
Mercia Blake, woordvoerder van Life24 ambulansdienste, het gesê van die ambulansdiens se beamptes is Saterdag na die Moosrivier-karavaanpark naby Marble Hall ontbied. Die park moes vinnig ontruim word nadat vloedwater deur die park gespoel het. Volgens Blake is geen beserings aangemeld nie en is die omvang van die skade nog nie bekend nie.
Mojapelo het gesê die polisie moes Donderdag, in samewerking met die SAPD se lugvleuel, twee vrouens en drie meisies tussen die ouderdomme van ses en 10 jaar red, nadat hulle in die Limpopo-rivier naby Beitbrug vasgekeer is. “Daar word vermoed dat die vyf probeer het om die land onwettig binne te kom, toe die stygende watervlak hulle vasgekeer het. Nadat hulle mediese behandeling ontvang het, is hulle aan die departement van binnelandse sake oorhandig vir verdere ondersoek,” het Mojapelo gesê.
Hy het gesê die liggame van nog twee onbekende mans is Vrydag in dieselfde gebied gevind nadat hulle deur die rivier meegesleur is.
Maroela Media het vroeër berig twee mense het Saterdag in Kwaggafontein in Mpumalanga verdrink, nadat ʼn taxi by ʼn laagwaterbrug in vloedwater vasgekeer is.
“Die SAPD wil ʼn beroep op alle mense doen om versigtig te wees wanneer hulle riviere, strome of brûe te voet of met ʼn voertuig oorsteek. Die water lyk dalk op die oppervlak kalm, maar sterk strome onder die oppervlak kan ʼn mens of voertuig maklik meesleur,” het Mojapelo gesê.
“Ouers word ook aangeraai om nie hul kinders toe te laat om in waterslote of gate vol reënwater te swem nie. Dit is maklik om die diepte van die water te onderskat, wat tot verdrinking kan lei.”
Dankie vir di milde reen wat ons ontvang O Here!!!…..Net deur U genade !!…..U ken ons behoeftes!..
Amen, Halleluja. Dankie Here vir die Reën Seën.