Talle verdrinkings aan kus, binneland die afgelope naweek

‘n NSRI-reddingspan (Foto: NSRI, Facbook)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die afgelope naweek op talle noodlottige en amper-verdrinkings aan die kus en in die binneland gereageer. Dit volg kort nadat strande, damme, riviere, parke en openbare swembaddens landwyd verlede week weer oopgestel is.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê in die meeste voorvalle het lede van die publiek ingetree en gehelp voordat die NSRI en nooddienste op die toneel opgedaag het.

Twee vroue het Sondag omstreeks 17:32 by die Trafalgarstrand aan die KwaZulu-Natalse suidkus verdrink. ’n Tienermeisie en -seun is tydens dieselfde voorval betyds gered deur onderskeidelik ’n pa en seun, asook ’n branderplankryer.

Byna twee uur daarna het twee jong branderplankryers twee mans by Palmietstrand in Kleinmond uit die see gered. Een van die mans is op die toneel dood verklaar.

’n 12-jarige meisie het dieselfde middag omstreeks 16:00 in die Glenvairn-getypoel in Kaapstad verdrink.

’n 14-jarige meisie is Vrydag omstreeks 15:43 by Victoriabaai deur lewensredders – wat in daardie stadium nie aan diens was nie – uit die see gered. Paramedici kon haar bybring en het haar na ’n nabygeleë hospitaal gejaag vir verdere mediese behandeling.

Nog twee amper-verdrinkings is Saterdag by Cape Vidal in KwaZulu-Natal en Plettenbergbaai aangemeld.

In die binneland is nooddienste en polisieduikers steeds op soek na minstens vyf mense wat in vloedwaters vermis geraak het. Onstuimige watermassas het in Mpumalanga die lewe van agt mense geëis.

’n 13-jarige meisie het ook ernstige beserings opgedoen nadat sy van ’n rots by die Clanwilliamdam afgeval het.

In talle voorvalle is mense betyds gered wat geswem het of op bote en kano’s in die moeilikheid beland het.

Lambinon doen ’n dringende beroep op mense om versigtig in en rondom groot massas water te wees. Veral noudat strande weer oopgestel word en in die lig van die vloede weens swaar reënval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.