Talle vrae ná Jhb-man dood gevind word

Edward Blonski. Foto: Facebook

Die oorsaak van die dood van ʼn Johannesburgse man, wat langer as twee weke vermis was voordat sy liggaam Dinsdagaand gevind is, is nog nie bekend nie.

Edward Blonski (32), ʼn argitektegnoloog, het op 24 Junie in Parkview, Johannesburg, vermis geraak. Jacqueline Wijtenburg, Blonski se niggie, het aan Maroela Media gesê Blonski moes sy pa die middag êrens ontmoet. Sy pa het hom gebel en toe daar geen antwoord was nie, het hy onraad vermoed.

“Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys hoe Edward om die dieretuinmeer draf. Dit is nie heeltemal duidelik of hy draf of wat nie, maar hy loop nie. Hy het nie skoene aan nie,” het Wijtenburg gesê. Sy het gesê ʼn grootskaalse soektog is na Blonski van stapel gestuur. Sy suster wat in Londen bly, het ook na Suid-Afrika gevlieg om met die soektog te help.

Blonski se liggaam is Dinsdagaand deur verbygangers in ʼn dam by die dieretuinmeer gevind. Volgens Wijtenburg was daar geen sigbare beserings aan sy liggaam nie omdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was.

Kapt. Tintswalo Sibeko, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Volgens Wijtenburg word die nadoodse ondersoek tans gedoen en sal die uitslae daarvan moontlik Vrydag of Maandag beskikbaar wees. “Dit is ʼn vreemde gevoel om vir die uitslae te wag,” het sy gesê.

“Daar is nou die wete dat hy oorlede is en dat ons nie verder na hom hoef te soek nie, maar terselfdertyd is daar nie finale afsluiting nie omdat ons nie weet wat gebeur het of hoe hy dood is nie. Om te weet dat sy siel aanbeweeg het, is deel van die afsluiting vir ons familie. Die volgende is feitegebaseerde kennis om ons verstand te bevredig en sin te maak wat tot die einde van hierdie bruisende en kreatiewe lewe gelei het.”

Blonski was ongetroud en het nie kinders gehad nie. Hy was een van vyf kinders. Wijtenburg het vroeër op Facebook Blonski se verdwyning beskryf as ʼn “leemte en leegheid” in die familie se lewens. Sy het gesê die familie is gebreek deur die nuus van sy dood.

Begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakalas

Hoe kon niemand vroeër iets in die dam gesien het nie? Veral nie wanner hy al klaar begin ontbind het nie. Dis omtrent ‘n vreemde storie dié. Hou ons asseblief op hoogte wat die uitslae is. My innige simpatie vir sy familie. Hy was nog baie jonk.

Louise Loubser

Hoop die familie kry gou antwoorde. Nadat my kind (Monique) op 7 April 2016 vermis geraak het, het dinge van sleg na slegter gegaan. Haar liggaampie is 8 Mei in die veld gevind. DNS toetse is oor en oir gedoen, en alhoewel ek geweet het dis my poppie, is ek deur die polisie versoek om niks te se nie. Haar afsterwe is eers in Julie amptelik bekend gemaak en toe kon ek haar finaal neerlê. Die nadoodse ondersoek het NIKS opgelewer nie. Die barbaar wat my kind se lewe gesteel het, lewe voort asof haar lewe sommer niks werd was… Lees meer »

Mars

My medelye aan die naasbestaandes. Ook aan jou Louise. Ek is so jammer oor jou verlies. Dit is verskriklik.

Jeannette

Die berig is ietwat verwarrend – ” … beeldmateriaal wys waar hy om die dieretuinmeer draf. Dit is nie duidelik of hy draf nie of wat nie, maar hy loop nie” Nou wat het hy dan gedoen – gedraf, nie gestap nie, ook nie gehardloop nie en ook nie stilgestaan nie? Sjoe, dit is egter steeds hartseer en ek wens die gesin sterkte toe en die vermoë om wat gebeur het te aanvaar.

Dalk net...

Draf-stap?