Talle vrae ná Jhb-man dood gevind word

Edward Blonski. Foto: Facebook

Die oorsaak van die dood van ʼn Johannesburgse man, wat langer as twee weke vermis was voordat sy liggaam Dinsdagaand gevind is, is nog nie bekend nie.

Edward Blonski (32), ʼn argitektegnoloog, het op 24 Junie in Parkview, Johannesburg, vermis geraak. Jacqueline Wijtenburg, Blonski se niggie, het aan Maroela Media gesê Blonski moes sy pa die middag êrens ontmoet. Sy pa het hom gebel en toe daar geen antwoord was nie, het hy onraad vermoed.

“Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys hoe Edward om die dieretuinmeer draf. Dit is nie heeltemal duidelik of hy draf of wat nie, maar hy loop nie. Hy het nie skoene aan nie,” het Wijtenburg gesê. Sy het gesê ʼn grootskaalse soektog is na Blonski van stapel gestuur. Sy suster wat in Londen bly, het ook na Suid-Afrika gevlieg om met die soektog te help.

Blonski se liggaam is Dinsdagaand deur verbygangers in ʼn dam by die dieretuinmeer gevind. Volgens Wijtenburg was daar geen sigbare beserings aan sy liggaam nie omdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was.

Kapt. Tintswalo Sibeko, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Volgens Wijtenburg word die nadoodse ondersoek tans gedoen en sal die uitslae daarvan moontlik Vrydag of Maandag beskikbaar wees. “Dit is ʼn vreemde gevoel om vir die uitslae te wag,” het sy gesê.

“Daar is nou die wete dat hy oorlede is en dat ons nie verder na hom hoef te soek nie, maar terselfdertyd is daar nie finale afsluiting nie omdat ons nie weet wat gebeur het of hoe hy dood is nie. Om te weet dat sy siel aanbeweeg het, is deel van die afsluiting vir ons familie. Die volgende is feitegebaseerde kennis om ons verstand te bevredig en sin te maak wat tot die einde van hierdie bruisende en kreatiewe lewe gelei het.”

Blonski was ongetroud en het nie kinders gehad nie. Hy was een van vyf kinders. Wijtenburg het vroeër op Facebook Blonski se verdwyning beskryf as ʼn “leemte en leegheid” in die familie se lewens. Sy het gesê die familie is gebreek deur die nuus van sy dood.

Begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jakalas ·

Hoe kon niemand vroeër iets in die dam gesien het nie? Veral nie wanner hy al klaar begin ontbind het nie. Dis omtrent ‘n vreemde storie dié. Hou ons asseblief op hoogte wat die uitslae is. My innige simpatie vir sy familie. Hy was nog baie jonk.

Michelle ·

@Jakalas, iemand sou nie vroeër die liggaam in die water kon sien nie. Wanneer mens “verdrink” (sê nie dit het gebeur nie) dan gaan jou liggaam eers bodem toe voordat dit weer opkom. Dan moet mens die water se temperatuur in ag neem. Hoe kouer die water, hoe langer neem dit vir die liggaam om op te kom. Hoe warmer die water, hoe vinniger.

Jakalas ·

Maak sin. Sal maar wag vir die uitslag om te hoor wat met die man gebeur het.

Louise Loubser ·

Hoop die familie kry gou antwoorde. Nadat my kind (Monique) op 7 April 2016 vermis geraak het, het dinge van sleg na slegter gegaan. Haar liggaampie is 8 Mei in die veld gevind. DNS toetse is oor en oir gedoen, en alhoewel ek geweet het dis my poppie, is ek deur die polisie versoek om niks te se nie. Haar afsterwe is eers in Julie amptelik bekend gemaak en toe kon ek haar finaal neerlê. Die nadoodse ondersoek het NIKS opgelewer nie. Die barbaar wat my kind se lewe gesteel het, lewe voort asof haar lewe sommer niks werd was nie. Ek bid dat geregtigheid vir haar en hierdie familie sal geskied.

Jakalas ·

Aai Louise. Jammer om te hoor van jou dogtertjie. Die polisie mag daai persoon nooit kry nie, maar die Here wag vir hom/haar. Hy is nie blind nie.

Wern ·

Ek is baie jammer om te hoor en baie sterkte. Ek het nie eers gelees in die media hieroor nie.

Mrs.B ·

So hartseer!!! Daar kom so baie hoekoms en waaroms in my gedagtes op as ek die boodskap lees. U is in my gebede mevrou en so ook die familie van Mnr. Blonski

Mars ·

My medelye aan die naasbestaandes. Ook aan jou Louise. Ek is so jammer oor jou verlies. Dit is verskriklik.

Jeannette ·

Die berig is ietwat verwarrend – ” … beeldmateriaal wys waar hy om die dieretuinmeer draf. Dit is nie duidelik of hy draf nie of wat nie, maar hy loop nie” Nou wat het hy dan gedoen – gedraf, nie gestap nie, ook nie gehardloop nie en ook nie stilgestaan nie? Sjoe, dit is egter steeds hartseer en ek wens die gesin sterkte toe en die vermoë om wat gebeur het te aanvaar.

Jakalas ·

Dis ook baie vreemd vir iemand om te hardloop/draf sonder skoenne, veral in die dorp.

Retha Homann ·

Ek dink die bedoeling hier was: Draf hy of hardloop hy weg van iemand. Die feit dat hy sonder skoene hardloop is ietwat vreemd. (Se maar net)

Michelle ·

Vreemde storie hierdie vir my.
En – hulle gaan soek ook nie daar waar hul hom laas gesien het nie ????

Gesiggie ·

Dit is n verligting dat hy gevind is, maar ja nou die gewag en talle vrae ? hoe en wat? sal graag opvolg wil lees… My innige meegevoel aan Edward se Familie. En aan Louise ek is so jammer om te verneem… Mag jul kalmte vind en Mag die dag kom, dat jul vrae beantwoord word, en daai Barbaar gevind word… Onthou God slaap nie –

Afrikaanse Knaap ·

Klink vir my hy was met ‘n draf stappie oppad om te gaan swem. Ek kan nie dink hoekom anders ‘n man sonder skoene sou wees nie.

Tracy ·

Die rede hoekom hy sonder skoene was kan wees dat hy gekaap was en hul sy skoene uitgetrek het juis om hom te verhinder om vinnig te beweeg of hy was vasgebind en het losgekom en hulp gaan soek. Hul het hom seker in die dam gaan gooi om ontslae te raak van getuies

C ·

Regtig? Dit is mos ‘n stupid aanmerking om te maak! Duidelik as hy sonder skoene daar was en nie geloop het nie maar ‘gedraf’ het, was daar moeilikheid. Ek is seker sy familie waardeer nie die sarkasme nie. Sê maar net….

Annie ·

En miskien is sy skoene gesteel voordat hy in die water beland het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.