Talle vrae ná Pta-ongeluk drie eis

Shane Dormehl (Foto: Facebook)

Daar is in hierdie stadium meer vrae as antwoorde ná ʼn gru-ongeluk op die N1-hoofweg naby die Atterbury-afrit in Pretoria wat die lewe van drie mense geëis het.

ʼn Video, oënskynlik van die oomblikke voor die twee voertuie mekaar reg van voor op die snelweg tref, het die afgelope paar dae boonop soos ʼn veldbrand versprei. Op die video kan gesien word hoe ʼn Volkswagen Polo in die teenoorgestelde rigting van aankomende verkeer op die hoofweg ry, skynbaar vir ʼn vragmotor uitswenk en dan teen ʼn aankomende voertuig bots.

Die ongeluk het die lewe van ʼn ma en haar kleuter, asook ʼn student geëis. Nog twee mense het geringe tot matige beserings opgedoen.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, sê die ongeluk het Saterdag omstreeks 04:15 plaasgevind. “Drie pasiënte was met aankoms van die nooddienste nog in hul voertuie vasgekeer.

“Paramedici het twee pasiënte op die toneel dood verklaar en twee volwassenes en ʼn kleuter het noodbehandeling vir beserings ontvang. Die kleuter is egter kort daarna weens die kritieke aard van sy beserings ook oorlede.”

Een van die slagoffers was Shane Dormehl, ʼn 24-jarige dieselwerktuigkundige, wat pas sy praktiese opleiding by die beroepsopleidingskollege Sol-tech voltooi het. Dormehl het die Polo bestuur.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, sê die instelling is in rou gedompel en ʼn gedenkdiens is Maandag vir Dormehl gehou.

“Shane was ʼn baie gewilde student. Hy het ʼn vreeslike groot passie vir sy diesel-ambag gehad en sy lektore vertel graag watter goeie werk hy gedoen het.

“As dit by die regmaak van motors kom, kon jy maar weet dat hy altyd die ekstra myl sou stap.”

Volgens sy lektore het hy sy medestudente gereeld poetse gebak en het hy ʼn mooi sin vir humor gehad.

“Hy kon glo al Early B se liedjies woord vir woord saamsing,” skerts Van Deventer.

Dormehl se vriende beskryf hom as ʼn ware staatmaker en sê hulle kon altyd op sy knoppie druk.

“Hy was ʼn regte bok vir sports, maar hy sou ook altyd help waar hy kon. Hy het ʼn baie sagte hart gehad.”

Wat tot die noodlottige ongeluk aanleiding gegee het, is in hierdie stadium steeds onduidelik.

Samantha Jacobs, ʼn jarelange vriendin van Dormehl, beskryf hom as ʼn liefdevolle mens en sê hy sou nooit iets doen om iemand doelbewus seer te maak nie.

“Shane was enig in sy soort en dit is hoekom sy dood ons so hard tref. Niemand weet hoekom hy in die aankomende verkeer se baan was nie.

“Dit is juis wat nie sin maak nie. As iemand so iets moes doen terwyl [Shane] nog geleef het, sou hy in die persoon se graf inklim en hom iets aandoen; hy was gekant teen enige iets wat leed aan iemand anders kon veroorsaak. Hy het nie ʼn been in sy lyf gehad wat iemand anders sou seermaak nie,” sê Jacobs.

Volgens Mabaso is die oorsaak van die ongeluk steeds onbekend.

Supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie (TMPD), wou nie kommentaar lewer oor die video wat glo die oomblikke voor die ongeluk wys nie. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wit Leeu ·

Baie tragies, sterkte aan almal betrokke. Kan net nie verstaan hoekom die Polo in die verkeerde baan was nie………….

Andries ·

Ons, wat Shane geken het, is heeltemaal in die duister. Alles maak nie sin nie.

Papsak ·

So tragies jammer foute kan in glip jammer vir mense wat hulle lewens daar verloor het sterkte aan families

Skappie ·

So tragies. Jammer aan almal wat moet iemand aan die dood afstaan. Mag julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle, kom.

Niklaas ·

Dan het wyle Shane mos die ongeluk veroorsaak as hy die Polo bestuur in die teenoorgestelde rigting .
Simpatie in elk geval met al die familielede in hierdie tyd .

Andries ·

Alles bewyse wys dit maar vir ons as vriende maak dit glad nie sin nie.

Andries ·

Rus sag Shane. Ons hou sy familie en die ander betrokke mense in ons gebede.

Minnie ·

Altyd so tragies. Ons dink aan al die families en vriende van die slagoffers. Dis hartverskeurend.
Pla my dat die Polo daardie tyd van die oggend in die verkeerde baan was….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.