Talle vrae ná SA soldaat in DRK sterf

Lede van Monusco in Kitshanga in die DRK (Foto: Guerchom Ndebo/AFP)

Daar is in dié stadium géén aanduiding dat die Oryx-helikopter waarop daar die naweek in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) geskiet is, deur ʼn tweede Oryx óf ʼn Rooivalk-aanvalshelikopter vergesel is nie.

Die aanval tydens ʼn vlug van Beni na Goma het Sondag die lewe van ʼn vlugingenieur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geëis. Die ingenieur is in die bors getref terwyl ʼn bevelvoerder in die skouer geskiet is. Hy is in ʼn kritieke toestand.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het verskeie vrae om te beatwoord, sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, nadat hy Maandag gevra het dat die minister die gesamentlike staande komitee oor verdediging dringend oor die voorval inlig.

Marais wil spesifiek weet onder watter omstandighede die aanval Sondag plaasgevind het en of daar afgewyk is van ʼn “staande bevel” wat bepaal dat Oryx-helikopters van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag altyd in pare moet vlieg, “veral van Goma af noord,” sê Marais aan Maroela Media.

Volgens Marais word Oryx-helikopters ook normaalweg in hoë risiko-gebiede deur twee Rooivalk-aanvalshelikopters vergesel. Die helikopters dien nie net as afskrikmiddel nie, maar maak dit ook moontlik om dadelik terug te vuur.

Marais sê hy is bewus van gevalle waar soldate met dissiplinêre verhore gedreig is omdat hulle geweier het om alleen te vlieg en aanspraak gemaak het op die beleid dat Oryx-helikopters altyd in pare vlieg.

Marais het ook vrae oor die hoogte waarop daar gevlieg is.

Marais sê die gradiënt van die koeël deur die helikopter se voorruit, soos gesien op foto’s, dui daarop dat die Oryx-helikopter redelik laag gevlieg het. “Dit laat óók vrae ontstaan. Het hulle intelligensie ontvang en daarop gereageer?” wil Marais weet.

Die voorval laat ook die vraag by Marais ontstaan of dit nog die moeite werd is om soldate en helikopters in die DRK te hê.

“Suid-Afrika sit met ʼn baie groot probleem wat hulpbronne betref. Ons het in hierdie stadium slegs een Rooivalk in volle werkende toestand in die hele Suid-Afrika beskikbaar teenoor die 11 op die bateregister.”

Drie van dié Rooivalk-aanvalshelikopters is tans in die DRK.

“Ons moet onsself nou vra of dit die hoogste prioriteit is om in die DRK betrokke te wees, of moet ons nie liefs daardie helikopters onttrek en in Suid-Afrika en veral Mosambiek beskikbaar stel nie waar daar geen Rooivalk-helikopters beskikbaar is nie?

“Miskien is dit tyd om te oorweeg of die hoogste prioriteit steeds is om ons lugondersteuningsvermoëns in ʼn vreemde land te hê terwyl ons ʼn kritieke tekort aan lugverdedigingsvermoëns in Suid-Afrika en langs ons land- en maritieme grense het.

“Ons kan nie toelaat dat ons soldate onnodig aan gevare in die vreemde blootgestel word indien dit verhoed kan word nie.”

Marais sê hy het ook vrae oor of die aanval moontlik verhoed kon word.

“Dit is baie moeilkik om in ʼn oorlogsgebied aanvalle te verhoed, maar indien hulle in pare van twee gevlieg het en deur ʼn Rooivalk vergesel word, kon dit as afskrikmiddel dien en die skade kon minder traumaties gewees het.”

Marais meen die minister behoort nou politieke verantwoordelikheid vir die aanval te aanvaar.

Die betrokke soldate is deel van die Verenigde Nasies (VN) se vredesmag, Monusco, in die DRK.

Amadou Ba, ʼn woordvoerder van die VN-sending in die DRK, het ná die aanval gesê die presiese omstandighede van die voorval is nog onduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Manie ·

Mnr Marais, dis wensdenkery om te dink dat die minister van verdediging jou gaan antwoord. Dieselfde minister is ons nog ‘n antwoord verskuldig oor wat op en afgelaai is vanaf die Russiese vragskip in Simonstad.

domheks ·

Weet Thandi Modise ooit waarvan jy praat – Kobus Marais.?????

Grassie ·

Ek weet nie waaroor mnr Marais kla nie. Tydens die bosoorlog het ons choppers dikwels net bo boomtophoogte gevlieg. Dit was die veiligste. As hy hoër vlieg is hy verder sigbaar en ‘n makliker teiken vir grond-tot-lug missiele. Ek stem ook saam dat ons troepe nie in die DRK hoort nie hulle word hier benodig vir o.a plattelandse veiligheid, onlusbeheer en wildstropery. Soos die Engelse sê, charity begins at home.

christo ·

Die terrein is nie plat soos in Owambo nie. Dis heuwelagtige en te oordeel aan die hoek waarteen die helikopter getref is dui dat nie van onder getref is nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ander choppers daar is seker ondiensbaar. Die troepe in Mozambiek het selde lugsteun.

Roek ·

Hulle sal nooit hul pas Sommige mense van die SA en ander se belange op soos bv die mangaan myne en die blink klippies !

Danie ·

Laat n mens dink hoeveel geldjies gaan daardie kant toe.Dalk moet die SA regering meer tyd en aandag aan misdaad in die vrot misdaad beheerde land bestee.Gedagte wat pla.

Astrain ·

Ek dog soldate wat hulle lewens is op risiko…is dit nie hoekom hulle danger pay kry nie….wonder ek manet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.