Talle vrae ná seun by Pta-oord sterf

Bohlale Mokoena. Foto: Best Care-ambulansdienste

Die eienaar van die Zambibush Resort in die noorde van Pretoria waar ʼn sewejarige seun se liggaam Sondag in een van die swembaddens gevind is, het Woensdag gesê “dit is ʼn raaisel” dat sy liggaam nie vroeër gevind is nie.

Bruwer Nel, eienaar van Zambibush, het in ʼn verklaring gesê die tragiese dood van Bohlale Mokoena die afgelope naweek is vir al die personeel by die oord ʼn groot skok. “Ons is saam met sy familie verskriklik hartseer oor die tragedie en het ná die ontdekking van Bohlale se liggaam alles in ons vermoë gedoen om die gesin te ondersteun,” het Nel gesê.

Maroela Media het vroeër berig Bohlale het omstreeks 16:00 Saterdag by die oord vermis geraak. Volgens sy ma het hy “binne minute” net verdwyn. Personeellede van die oord en lede van die publiek het ure lank na Bohlale gesoek, maar sonder enige sukses.

Nel het gesê daar was skole wat die naweek die oord besoek het en hulle is genader om vas te stel of Bohlale nie dalk op ʼn manier saam met een van die groepe in ’n bus beland het nie. “Die swembaddens, visdamme en die veld rondom die oord is deursoek,” het hy gesê.

Zambibush Resort in Pretoria. Foto: http://zambibush.co.za

Die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF), Best Care-ambulansdienste en die Tshwane-nooddienste is later ook ontbied om met die soektog te help.

Bohlale se liggaam is Sondagoggend deur ʼn bestuurder van Zambibush in een van die swembaddens gevind. “Dit is vir ons ʼn raaisel dat Bohlale se liggaam nie vroeër gevind is nie, aangesien die swembad waarin hy gevind is, se water helder is,” het Nel gesê.

“Zambibush Resort hoop dat ’n polisieondersoek lig sal werp op die gebeure wat tot die tragiese dood van Bohlale gelei het. Ons sal alles in ons vermoë doen om die oorsaak van hierdie voorval vas te stel en te verseker dat families steeds veilig by die oord kan ontspan. Daarom gee ons ook ons volle samewerking aan die polisie om te probeer vasstel wat tot die voorval gelei het.”

Beamptes by die oord tydens die soektog. Foto: Best Care-ambulansdienste

Talle mense het vandeesweek op Zambibush se amptelike Facebook-blad dit bevraagteken hoe dit moontlik is dat Bohlale se liggaam eers die volgende dag gevind is indien daar in al die swembaddens gesoek is. Ander het dit bevraagteken of daar lewensredders aan diens was om ʼn ogie oor die swembaddens te hou en hoekom die polisie se hulp nie onmiddellik ingeroep is toe die seun vermis geraak het nie.

Nel het gesê die oord het wel voltydse glybaan- en swembadtoesighouers, noodhulppersoneel en veiligheidsmaatreëls soos dit deur aanspreeklikheidsversekering vereis word.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie is steeds besig met ʼn geregtelike doodsondersoek na die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JP Botha ·

Ek kan nie die nuusberigte lees op my iphone app nie. Alles maak oop tot voor due berigte? Wat gaan aan

Sune van Heerden ·

Dagsê JP

Dankie vir jou terugvoer en jammer vir die fout!
ʼn Probleem wat ons vir Android-toestelle reggemaak het, het toe ʼn probleem vir iOS-toestelle veroorsaak. Ons het reeds die fout reggemaak in ʼn nuwe weergawe en reeds die nuwe weergawe na iOS aangestuur. Die nuwe weergawe, waar hierdie fout opgelos is, sal binne die volgende dag of twee in die App Store beskikbaar wees.

Jammer vir die ongerief en dankie vir jou geduld!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

A. Mac ·

Ja, dis is omtrent ‘n raaisel, veral met so baie mense wat help soek het. Nou moet ek maar goor klink maar was daar enigsins drank betrokke by die ouers se geselskap? Daar is meer agter die storie as die oord wat nou die skuld moet kry vir ander mense (dalk die ouers) se agterlosigheid. Ek laat my nie vertel ‘n kind raak binne minute weg, verdrink in ‘n swembad wat sekerlik deur duikers deursoek is, en word eers die volgende oggend gevind na so baie mense help soek het na die kind.

Natasha ·

A.Mac ek stem heeltemal saam met jou. Ek was al baie by Zambibush Lodge, hulle kom in en worry glad nie verder oor hulle kinders nie (drie kwart van hulle kan nie swem nie) – en ek bedoel dit nie lelik nie. Ek het innige simpatie met enige ouer waarmee dit gebeur, maar die opset is so dat jy omtrent die heletyd ‘n ogie oor jou kind kan hou. En die swembandens is nie so diep nie. Ja ‘n ongeluk gebeur in ‘n oogwenk maar ek sit my kop op ‘n blok dat die kind iewerste ingeklim het waar hy nie mag nie. Dis nie die oord se skuld nie. Jy as ouer is verantwoordelik vir jou kind se veiligheid veral by so ‘n oord. Daar is so baie mense op ‘n naweek daar, dat mens skaars kan loop!!!!!!

Theresa ·

Dit maak baie sin dat die arme kind nie verdrink het nie. Van die begin af vermoed hy is dalk vermoor en in die swembad gegooi die oggend voor hy gevind is. Wat bewys die nadoodse ondersoek – het hy verdrink of is hy aangerand/vermoor en toe in die swembad gelos?
Daar is geen ander keuse vir mense om hul kinders die heeltyd self op te pas nie. Tuis, winkels, vakansieplekke. Niks is meer dieselfde nie – aanvaar daardie feit en lê streng reëls neer oor afdwaal en gou weghol om iets anders te gaan doen. Ongelukkig is dit nou so en kan daar nie net vrylik rondbeweeg word soos mens graag sou wou nie.

TC ·

Weet van n kind wat amper daar verdrink het waar n pa die kind gehelp het met geen “lewensredder of helper”in sig by Zambibush nie.Toe hulle aangevat is daaroor toe is die bestuur baie ongeskik gewees.Nee hulle jaag net geld na,hoe meer in die plek kan inkom hoe beter.Jammer oor die seun se dood,maar daar def n slang in die gras……

Hanna ·

Hoe vuil was daardie swembaddens as polisieduikers moes inkom om te kom soek na die kind? En dan is die swembaddens blykbaar nie eers diep nie… Nee wat, ek hou maar verby daardie oord!

C ·

@Hanna gaan lees vorige berig ook en lees dan noukeurig. Die swembaddens is baie skoon, daar was van duikers gebruik gemaak om in die visdamme te soek. Gaan besoek die lodge eers en dan kom spoel jy jou mond uit.

Wonder net ·

Sit nou net en dink as daar so baie mense by die swembad was en elkeen doen sy nr 1 daarin hoe sal die swembad naderhand lyk. Party is dit nog n lekker bad ook na hul moeg gespeel is. Sommige mense mos maar baie lui om uit te klim en kleedkamers te besoek! Kan nie die kleur van die water voor die oordbestuur hou in so n besige tyd nie. As die duikers hom nie kon kry nie was daar beslis iets anders betrokke by hierdie geval.

Griet ·

Hulle laat teveel mense toe om 1 dag. Veral skool kinders wat met 4 busse aangery word. Wie kyk na hullle.

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar word beweer swartes kan nie swem nie. Waarom word ‘n jong swart kind dan sonder sy ouers toegelaat om alleen by ‘n swembad te wees.

Wilma ·

Ek en my gesin was Saterdag by Zambibush. Die water was skoon en helder. Ek het by die glybane lewensredders gesien en hulle het voor jy mag gly seker gemaak dat die vorige persoon uit die pad is. Ek het ook gehoor hoe die lewensredder uitdruklik in engels herhaal het indien jy nie kan swem moet jy nie gebruik maak van ‘n spesifieke swembad en by die vlak swembaddens gaan swem. Dit is wat ek ondervind het Saterdag.

Kwagga ·

Ek was ook al baie by Zamibush. Daar is lewensredders bo by elke gly baan en onder by die swembaddens ook. As iemand af gly kyk hulle tot dit veilig is voor n ander kan gaan. Een keer wat ons daar was, was n kleintjie in n doek alleen gelos by die kinders se swembad terwyl die ouers sit en dop het. Daai kind het ook amper verdrink as dit nie v n blanke vrou was wat gehelp het nie. En some die ma gaan vas vat het. Ons as ouers moet na ons kinders omsien. Jy kan nie iemand ander aanspreeklik hou nie. Daar teveel kinders wat weg raak. Ek het 4 kinders en ek en my man vat 2 elk om na tekyk. Waar ons gaan gaan hulle en kla. Maar nee dis temaklik om van hulle ontslae teraak sodat daar gekuier kan word . Ek is jammer maar dis die ouers se skuld. Hkm het hulle so lank gevat voor hulle begin soek het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.