Talle vrae ná tiener in watergraf sterf

Marilize Nortier (18). (Foto: Facebook)

Die Oudtshoorn-polisie in die Wes-Kaap sê die presiese verloop van omstandighede wat gelei het tot die ongeluk waarin die 18-jarige Marilize Nortier gesterf het, word nog ondersoek.

Marilize, ʼn matriekleerder aan die Langenhoven Gimnasium op die dorp, se liggaam is Sondag kort voor 08:00 sowat 10 km buite Oudtshoorn ontdek nadat ʼn verbyganger die motorongeluk aangemeld het. Die tiener was steeds in die passasiersitplek van die motor vasgegordel waar dit in ʼn sloot met water beland het.

Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê die BMW waarin Marilize ʼn passasier was, het vanuit die rigting van die Kangogrotte na Oudtshoorn gery. Om ʼn draai het die bestuurder vermoedelik beheer oor die motor verloor, dit het omgeslaan en in die watersloot tot stilstand gekom.

Visser het gesê ʼn verbyganger het Sondagoggend die motor langs die pad opgemerk en die owerhede ontbied.

Die bestuurder van die voertuig het op die toneel aangekom terwyl die polisie daar was. Die 22-jarige man is ná die ongeluk langs die pad opgelaai. Hy was glo baie deurmekaar.

Visser het gesê die nadoodse ondersoek het gewys Marilize het veelvuldige beserings opgedoen en is dood weens verdrinking. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Volgens Visser is dit standaardprosedure dat die polisie in só ʼn geval eers hulle ondersoek afhandel, waarna die dossier aan die nasionale direkteur van openbare vervolging voorgelê word wat ʼn besluit oor moontlike vervolging neem.

ʼn Facebook-blad, Truth4Marilize, is ná die ongeluk begin waarop mense gevra word om met inligting oor die ongeluk na vore te kom. Op die blad word onder meer gevra vir kringtelevisiemateriaal wat moontlik in die ondersoek na gebeure kan help. Alle inligting word glo aan die polisie deurgegee.

“Daar is baie meer vrae as antwoorde. Al waarvan ek seker is, is dat sy verdrink het,” het Morné Nortier, Marilize se pa, Vrydag gesê.

Marilize was sy enigste kind.

Volgens hom het die motorbestuurder glo ná die ongeluk aan iemand wat hom langs die pad opgelaai het, gesê daar was niemand anders in die voertuig nie. Die motorbestuurder moes waarskynlik sy sitplekgordel losmaak reg langs Marilize wat in daardie stadium ook steeds in haar sitplek vasgegordel was.

Dit is ook nog onseker waarom Marilize en die bestuurder op die spesifieke pad was waar die ongeluk gebeur het.

Nortier het gesê die polisie se ondersoek tot dusver was baie gerusstellend en dat hy volle vertroue in die ondersoekbeampte het om vas te stel wat gebeur het.

ʼn Gedenkdiens vir Marilize word Dinsdag om 13:00 by die NG kerk Welgeluk in Oudtshoorn gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Francois ·

Iets nie reg hiermee nie – die bestuurder se vir iemand wat hom optel daar is niemand anders in die motor nie…ne? Is dit moontlik dat hy aan geheu-verlies gely het agv die skok/trauma – kan moontlik wees…dis weer een van DAAI legkaarte die.

Deloris ·

My innige innige simpatie aan die ouers en vriende en skool vriendinne… Dis Baie tragies.
Maar hoop dinge maak vorentoe sin. Die bestuurdero kon wel deur mekaar gewees het maar jo die 3de laaste paragraaf Iesh

James ·

O maar dit is slegte nuus.
Dit is vreeslik.
Sterkte aan almal betrokke.

Agter die skerms ·

Ondersoek is nou helemal nodig – helemal sodat die pa die waarheid kan weet. God se arms is helemal om Marilize se mense.

Lee ·

Baie sterkte aan Marilize se ouers. Baie snaaks dat die bestuurder gesê het daar is niemand anders in die voertuig nie. Glo my, al is jy in skok en deurmekaar gaan jy defnitief onthou dat daar nog iemand in die kar was saam met jou, tensy hy te dronk was om te onthou. Plaas hy net langs die pad gestaan het en iemand gekry het om te stop en net haar kop uit die water probeer oplig sodat sy tenminste nie verdrink het nie. Rus Sag Engelkindxx

charmaine ·

Dis erg kon hy nie maar net haar ook gehelp het nie? En so vroeg op n sondag oggend oppad Oudtshoorn toe so dis oppad huistoe en niemand weet hoekom hulle op daai spesifieke pad was nie ook nie die ouers nie?

JohanR ·

Vra maar die vraag……hoekom is die meisie soe gou veras? Dit was seker nie eers 24 uur nadat sy gevind is dat sy veras was nie. Nou is daar geen liggaam ingeval daar verder ondersoek moet gedoen word.

Nettie ·

@Johan

Die ongeluk het 22/09/2019 plaasgevind. Dis vandag 27/09/2019 – sy is gister veras, NADAT ‘n nadoodse ondersoek uitgevoer is en bevind is dat sy aan veelvuldige beserings en hoofsaaklik verdrinking dood is.

Dit is moontlik dat sy bewusteloos was net na die ongeluk en dat die voertuigbestuurder (verkeerdelik) gedink het sy is reeds dood. Dalk was hy onder die invloed of dalk was hy eenvoudig net gedisoriënteerd (self beseer?) na die ongeluk. Kom ons lewer kommentaar, maar met genoeg respek en meelewing aan ALBEI jong mense se gesinne, familie en vriende, toe?

MS ·

Hierdie klink vir my baie na ‘n ongeluk so paar jaar gelede tussen Kriel en Witbank waarin ‘n pragtige tweeling meisiekinders hulle lewens verloor het op die ouderdom van 16. Die bestuurder het skotvry afgekom, en daai arme dogters se ma le nog wakker snags met al die onbeantwoorde vrae. Toe ek van hierdie ongeluk lees Sondag het ek dadelik aan hulle gedink, hulle het ook verdrink en die ou was nie eers beseer of nat na die ongeluk nie.

Lolla ·

Kringtelevisie in die middel van die karoo ……… ai ek kan maar net lag.

Bianca ·

Lolla, die plek waar die ongeluk gebeur het is naby ‘n groot wildreservaat asook gasteplaas. Hoekom lag oor die kringtelevisie vraag? Kyk ‘n bietjie hoe baie plase deesdae kameras het vir beveiliging.

Hanlie ·

Hoe verwerk mens ooit ‘n kind se dood? Baie sterkte Pappa. Rus in Vrede Marelize.

Jean ·

Stem saam met Nettie….en Dankie Johan min mense sal hulle foute erken soos jy!

Baie Tragies vir almal betrokke.

B.B. ·

Jammer vir albei ouers…Die verlies van iemand…altyd Baie hartseer….Nogtans wil ek vra….
“Kyk net die afgelope week se verskriklike ongelukke….wat gaan aan met ons mense op die paaie”?
Ons dink 2 keer deesdae voor ons ry..Op die einste N4…Wys mense vir jou ligte, of skuur by jou verby, en dwing jou om Geel-streep toe te gaan, aangesien hulle nie teen 120km agter jou wil ry nie…en dit terwyl daar voertuie van voor kom…ABSOLUUT…skokkend..!!

Michael ·

Hiers iets snaaks aan die gang.

Ek en seker almal hier is afrikaans en dit maak ons nuskierig.
Dus as ek die persoon was wat die bestuurder opgetel het sou ek verseker na die wrak haan kyk het en natuurlik gesien het daar is iemand daar binne

Luister ·

Innige simpatie aan haar familie.
Klink vir my baie soos die geval van Ted Kennedy, by die eiland Chappaquiddick.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.