Talle vrae ná vierjarige na dood val

Armaan Cassim (Foto: Reaction Unit South Africa, Facebook)

Die polisie in Verulam in KwaZulu-Natal ondersoek die omstandighede rakende die dood van ’n vierjarige seun nadat hy glo Maandag uit ’n venster van ’n woonstel op die derde verdieping van ’n gebou daar geval het. Verskeie teenstrydige weergawes van hóé die kleuter geval het, word onder die loep geneem.

Armaan Cassim het Maandag omstreeks 10:00 sowat 15 m ver uit die woonstel in Irelandstraat in Verulam geval.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê volgens aanvanklike berigte het Cassim se ma en stiefpa stry gekry en die kind daarna oënskynlik deur ’n oop venster gestoot.

“Hy het lewensbedreigende beserings opgedoen en is inderhaas na die Umhlanga-hospitaal vervoer waar hy later aan sy beserings beswyk het,” sê Balram.

“Sy liggaam is daarna na die Mahatma Gandhi-gedenkhospitaal vervoer waar ’n nadoodse ondersoek gedoen is.”

Rusa het egter verskeie oproepe van familielede ontvang wat beweer het dat die kleuter vermoor is en dat sy 30-jarige ma en sy 39-jarige stiefpa op die vlug geslaan het. Volgens die familielede was daar vier volwassenes in die woonstel tydens die voorval.

Cassim het van die derde verdieping geval (Foto: Reaction Unit South Africa, Facebook)

“Die stiefpa en dié se bejaarde pa het aan ons gesê dat Cassim ’n venster oopgemaak en toe uitgeval het. Die stiefpa het bevestig dat hy Cassim na die Umhlanga-hospitaal gehaas het.”

Die stiefpa was nie bewus daarvan dat die kind daarna na ’n provinsiale hospitaal oorgeplaas is nie.

Die kleuter se stiefpa het die reaksiebeamptes ook ingelig dat sy vrou (Cassim se ma) se familie ná die voorval na die woonstel is en glo sy bejaarde ma aangerand het. Hulle het glo ook sy Volkswagen Touran met klippe bestook.

Rusa het ook later ’n anonieme oproep ontvang van ’n man wat beweer het dat die kind tydens ’n stryery by die venster uitgegooi is.

“Hy het die oproep beëindig sonder om verdere besonderhede te gee, maar het beloof om reaksiebeamptes later te ontmoet en ’n verklaring by die ondersoekbeampte af te lê.”

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Dit is die tweede kleuter wat die afgelope jaar in die provinsie uit ’n gebou na sy dood getuimel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gawie ·

So hartseer as kinders moet ly as die ouers nie oor die weg kom nie.

Debbie ·

Hoop die skuldige kry wat hy verdien. Bring die doodstraf terug, dis al wat hierdie land gaan help. Oog vir n oog en tand vir n tand

LANA is ELANè ·

So mooie onskuldige ou seuntjie, ek kan my net indink watse hel sy kort lewe hierop aarde was as hy so aan sy einde gekom het. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.