Talle vrae oor bestuur van oornagverblyf in Krugerwildtuin

Die ingang na die Krokodilbrug-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: www.krugerpark.co.za)

Die DA het Woensdag sy kommer uitgespreek oor die toenemende getal klagtes wat ontvang word oor SANParke se oënskynlike swak bestuur van besprekings in die Krugerwildtuin. Die meerderheid van die oornagverblyf is glo nog nie vir besoekers beskikbaar gestel nie.

Luidens ʼn verklaring deur SANParke het die wildtuinbestuur besluit om nie alle akkommodasie-eenhede meteen beskikbaar te stel nie, maar eerder geleidelik te heropen.

“Ons wil doodseker maak ons is gereed om ons verblyf, wat voldoen aan die nodige veiligheidsregulasies en gesondheidsprotokol, aan gaste beskikbaar te stel,” lui die verklaring.

Die bestuur voer ook aan dat broodnodige opknappingswerk aan sekere van die blyplekke gedoen moet word en daarom sal sommige van die eenhede eers op ʼn later stadium vir gaste beskikbaar gestel word.

“Die tydperk vir opknappingswerk is beplan vir tot middel-September, wanneer die toerismesektor aanvanklik sou heropen.”

Die uitvoerende hoof van SANParke, Fundisile Mketeni, sê die meeste van die onbewoonde eenhede is tydens die afsonderingstydperk deur diere beskadig en moet eers herstel word.

Talle mense het egter reeds gekla dat geen oornagverblyf in die wildtuin beskikbaar is nie, glo omdat dit deur werkers beset word.

James Lorimer, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, sê sommige van die wildtuin se werkers het tydens die Covid-19-afsonderingstydperk in eenhede ingetrek en dié verblyf moet nou eers weer reggeruk word vir besoekers.

Een voornemende besoeker het verlede week op Facebook haar misnoeë te kenne gegee met die gebrek aan beskikbare akkommodasie omdat eenhede deur werkers gebruik word en dié glo weier om uit te trek.

“Nou kan betalende kliënte nie akkommodasie bespreek nie omdat dit vol is. Ons Erfenisterrein is besig om in ʼn plakkerskamp te verander,” lui die besoeker se inskrywing op Facebook.

SANParke het dié inskrywing op Twitter gedeel en dit as blatante leuens afgemaak.

“SANParke sal siviele en strafregtelike klagtes aanhangig maak teen mense wat sulke vals nuus versprei.”

SANParke voer ook aan die inskrywing is “rassisties” van aard.

Lorimer sê die wildtuin wil nou geld mors om klante te dagvaar.

“As daar rassistiese oortredings was, soos beweer word, is daar ander maniere om dit te hanteer. Dit is gelykstaande aan ʼn restaurant of hotel wat ʼn kliënt dagvaar vir ʼn slegte resensie op sosiale media. Dit lyk nou of die wildtuinbestuur onnodig verdedigend optree. Dit is in die openbare belang om te weet wáárom,” sê Lorimer.

Hy sê die DA gaan ʼn brief aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor omgewing, bosbou en visserye stuur om die uitvoerende hoof en voorsitter van SANParke te versoek om in besonderhede terugvoer te gee van die redes waarom die meeste oornagverblyf steeds nie beskikbaar is nie.

“Ons wil weet waarom word uitgebreide opknappingswerk tegelyk aan al die akkommodasie-eenhede gedoen? Hoeveel van die oornagverblyf word deur werkers beset? Hoe het die Covid-19-pandemie veroorsaak dat skoonmakers nie kon werk nie? Hoeveel van die akkommodasie is deur diere beskadig en hoe erg is die skade?”

Lorimer sê die Krugerwildtuin is ʼn nasionale bate en moet ʼn gesonde verhouding met die publiek handhaaf.

“Deur gaste te dreig dui op ʼn gebrek aan begrip van die gasvryheidsbedryf. ʼn Groot gedeelte van die wildtuin se inkomste is van toerisme afkomstig. Toeriste moet aangemoedig word, daar moenie met hulle baklei word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Nie Verbaas ·

Hier is iets dieper aan die gang. Diere glo ek nie sal eenhede beskadig as dit onbewoon is nie. Hulle ruik of sien gewoonlik kos en sal dan probeer om dit in die hande te kry. Onbewoonde eenhede, nee nie maklik nie. DA moet self gaan kyk wat aangaan.

Pieter J ·

Ek verstaan nie hoe diere die blyplekke wat agter elektriese heinings is kon beskadig het nie. Dit klink vir my meer na personeel wat hulle soos diere gedra en dit beskadig het en nou nog weier om uit te trek ook. Nou sal daar seker nog maande op ń hofbevel gewag moet word om hulle uit te kry.

Mariana ·

Groet maar kuiertjies aan die wildtuin. Dit sal tyd vat om als te herstel wat beskadig is. En om diere die skuld te gee vir die skade is mos ook net ‘n verskoning. Nee gaan delf dieper. So word als opgemors deur onbevoegde mense wat in poste aangestel word. Ai en dan word die rasse kaart darem vinnig uitgepluk. Altyd rassisme……..regtig Sanparke?

lon ·

Ek het by ‘n betrou bare bron gehoor wat daar werk, dat die personeel wel ingetrek het by al die kampe en weier om uitte trek alvorens hulle nie ‘n maand kennis kry nie, dit was vroeg in laas maand. so daar is iets ligits aan die gang.

Hansie ·

Ek was op daardie Sanparke groep op Facebook, maar het myself daar afgehaal. Daar is admins op daardie groep wat jou glad nie toelaat om te kla nie. Jy mag net mooi foto’s plaas en komplimente gee. En dit is ‘n amptelike Sanparke groep vir die Kruger Wildtuin. Volgens Sanparke word die personeel se akkomodasie opgeknap om aan die Covid 19 reëls te voldoen. Ek wens ek kon hier ‘n screenshot vir julle opsit waar die een admin apartheid blameer vir die swak akkomodasie van die personeel. Daardie admin is ‘n blanke vrou en sy is die GROOT BAAS van daardie groep. As jy te veel kla, gooi sy jou sommer af. Sanparke se website het gecrash in die 1ste week van Augustus. Dit is nou nog nie reg nie!!

Alleen Wolf ·

Watter opknapping aan personeel behuising vir COVID 19, my huis het geensins verander nie, liegstorie.

J ·

Nóg een van talle van die ANC (rampokker) regime se mislukkings!

Soos ESKOM, SAL, PRASA, DENEL. ESTINA en vele meer.

Die eens glorieryke Nasionale Kruger wildtuin is nou ‘n slagveld waar wilde diere GESTROOP word en waar gulsige kaders hulself verryk.

Ek haan hou liewer vakansie in Etosha, of die Okavango delta in Botswana want Mzansi het ‘platgeval’!

Gawie ·

Ek wil graag weet hoekom die eenhede waar werkers gewoon het ‘eers reggeruk’ word? Wat het die werkers aangevang? Het iemand tydens hulle verblyf ooit inspeksies gedoen om te verseker die plekke bly in ‘n goeie toestand? Ek sou hoop dis behoort net nodig gewees het om die plekke ordentlik skoon te maak (wat die tydelike inwoners self moes doen), en dan is dit beskikbaar vir die betalende publiek.
As daar skade aan hierdie wooneenhede is, moet die werkers wat daar gebly het verantwoordelik gehou word vir die herstelkoste.
Iewers is daar ‘n baie groot slang in die gras!

Oujongvrou ·

Hierdie is die grootste aantrekking vir oorseese toeriste. Ek glo dit was diere wat daar verwoesting gesaai het. Vraag is watter soort diere dit was????

Alleen Wolf ·

Meneer Lorimer, jy sal nooit die waarheid uitvind nie, hulle sal dit verdoesel om hulle onbevoegdheid weg te steek. Hoe kry die diere toegang om die eiendom te beskadig, eerder ‘n geval van luukse akkomodasie wat nie prys gegee wil word nie en hoekom was die personeel in die eerste plek toegelaat om die akkomodasie te beset

Anoniem ·

Nie net die werkers het ingetrek nie, ook hulle gesinne. Waar kom die kinders wat daar gesien word dan vandaan?

My siening ·

Ja dis jammer da erfenis gebiede deur anc beheer word. Almal het lekker vakansie gehou en salaris gekry en strukture vernietig nou dreig hulle kliënte. Swak baie swak en dis of apartheid of rassisme. Shame dan kla julle oor verliese gelei in die tyd. My vriende oorsee sal hiervan hoor en versprei dat julle chaoties isa

Inkpot ·

Waar was die werkers dan toe die diere die woonplekker so beskadig het?
Hoe het die diere in die rondawels gekom wat gesluit moes wees?
Jammer Sanparke vir die geld wat julle gaan mors en verloor op dagvaardings.
Daar is net te veel mense met fotos wat die klagtes kan staaf.

Africangrey ·

Ag née, sies man, ek gaan al my vriende deur stuur Okavango toe, en self ook daai kant van die draad kuier, ek bly tans oorsee, so ek gaan heel wat mense ontmoedig om kruger wildtuin toe te gaan, veranderd maar sommer die naam ook, wat van Monkey Town?

Ria ·

So… die werkers is nou onwettige besetters of gewoonweg opportunistiese plakkers

Niklaas ·

Sodra daar gekla, gekritiseer of berispe word weens onvermoë om te regeer of te beheer, wat dan? Dan word die raskaart uitgeruk in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.