Talle vrae oor ‘entstof-fonds’

Argieffoto (Foto: hakan german/Pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kommentaar ingedien op die voorgestelde vergoedingsfonds vir beserings weens Covid-19-inentings.

Dit volg nadat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, ’n beroep op die burgery gedoen het om binne slegs vyf dae kommentaar te lewer op die regulasies wat die skema daarstel.

Entstofbeserings is anders as newe-effekte en word beskou as ernstige beserings wat kan lei tot permanente of wesenlike beserings, ernstige skade aan ʼn persoon se gesondheid, ander skade of die dood.

AfriForum het gevra dat die volgende inligting aan die organisasie verskaf word:

  • waarom daar nou eers stappe gedoen word om die skema daar te stel;
  • besonderhede oor die vrywaring wat aan entstofvervaardigers verleen is;
  • hoe entstofvervaardigers die regering gaan vergoed vir eise wat met belastinggeld aan burgers uitbetaal word;
  • hoe persone en instellings aanspreeklik gehou gaan word vir hul optrede indien daar nie vir hofaksie voorsiening gemaak word nie.

AfriForum het onder meer die volgende wysigings aan die regulasies voorgestel:

  • dat ’n paneel van kundiges uit die privaat-, nie-winsgewende en openbare sektor daargestel word om die skema te administreer, en dat die administrasie dus nie deur die departement van gesondheid behartig word nie;
  • dat alle Covid-19-entstowwe, ook dié wat nie deur die regering aangekoop en versprei word nie, deur die skema gedek word;
  • dat tydelike beserings verwant aan die entstowwe, wat tot ’n verlies aan inkomste lei, ook deur die skema gedek word;
  • dat die regulasie wat burgers se toegang tot die howe oor eise beperk, geskrap word, óf dat baie duidelike verwerkingstye en uitkomste vir al die fases van die eisproses daargestel word;
  • dat die regulasies wat burgers verbied om regstappe teen entstofvervaardigers of instellings en persone wat entstowwe toedien (nasionale en provinsiale regerings uitgesluit) te neem, geskrap word.

AfriForum het die minister ook op die volgende gewys:

  • Die geld wat tot die beskikking van die regering is, is die burgery se geld.
  • Indien ’n verskaffer wins uit ’n produk maak wat met belastinggeld aangekoop word, moet die verskaffer ook aanspreeklikheid vir die gevolge van die produk aanvaar.
  • Die regering is daar om die burgery te dien en daar is geen plek vir geheimhouding wanneer dit by entstowwe kom nie.
  • Die regering gaan nie die steun van burgers geniet as die doel van stappe wat gedoen word, nie verstaan word nie.
  • Die huidige optrede van die regering is nie besig om die vertroue van die burgery te bevorder nie, en burgers sal slegs regeringsriglyne volg indien daar genoeg vertroue bestaan.

“Die regering se prestasie wys op die noodsaaklikheid daarvan om die administrasie van die skema buite ’n regeringsdepartement te vestig,” sê Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum. “Dit is ondenkbaar dat burgers se reg tot toegang tot die howe beperk word en dat tydelike beserings wat tot ’n verlies aan inkomste lei nie spesifiek deur die skema gedek word nie. Die uitsluiting van entstowwe wat nie deur die regering aangekoop en versprei word nie, is nie in belang van burgers nie. Die onduidelikheid oor hoe instellings en persone aanspreeklik gehou gaan word vir nalatige optrede is onrusbarend.”

Die drukgroep Dear SA het intussen gesê vier dae is hopeloos te kort om te reageer en uitstel tot 10 Mei 2021 versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk Mostert ·

As die entstowwe dan so veilig is, waarom hoegenaamd so ‘n skema instel? Dalk verwag die regering en vervaardigers iets waaroor ons nie ingelig word nie.
Die vervaardigers gaan duisendmiljoene dosisse aan regerings verkoop, maar wil nie pa staan vir die beweerde “minimale” newe-effekte nie. Dit geld ook vir die verantwoordelike besluitnemers.
Nie net word die entings op die publiek geforseer nie, nou moet belastingbetalers opdok vir die (deur baie voorsiene) nagevolge van die entingsveldtog.
Slegs 5 dae (oor ‘n naweek) vir publieke kommentaar is agterbaks. Dit verhoog wantroue in die regering se bedoelings.

Charles ·

Ek hoop lesers neem kennis dat daar ń verskil is tussen newe-effekte en entstof beserings, laasgenoemde kan ń jaar of meer neem om te manifisteer.

Irma ·

Gaan dit op die lange duur dan nie die veiligste wees om nie die entstof te neem nie. ? Hoekom kry ek die idee dat die regering besig is om vir die publiek dinge weg te steek rakende die entstowwe? Hoekom so ‘n fonds stig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.