Talle vrae oor Gautengse tienling

Gosiame Sithole het vandeesweek glo aan 10 babas geboorte geskenk. Langs haar sit haar man, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Daar hang talle vraagtekens oor die geboorte van ’n tienling in Gauteng wat glo ook ’n nuwe Guinness-wêreldrekord laat spat het.

Die nuus dat die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa Maandagaand aan sewe seuns en drie dogters geboorte in “’n Pretoriase hospitaal” geskenk het, het Dinsdag soos ’n veldbrand versprei.

Die storie is deur Pretoria News gebreek en spog met foto’s van ’n hoogswanger Sithole by haar man, Tobogo Tsosetsi.

Die blyk egter dat niemand, selfs nie die regering nie, weet waar om dié egpaar en hul spruite op te spoor nie. Daar is ook nog geen foto’s van die babas gepubliseer nie.

Intussen het Ekurhuleni se burgemeester, Mzwandile Masina, Woensdagoggend op Twitter gesê die familie is gevind en dat dit volgens hulle inligting “goed gaan”. Daar is egter nie verdere besonderhede verskaf nie.

Phumla Williams, direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-​inligtingstelsel, het gister op Twitter gesê dat haar departement bykans die hele dag na dié tienling gesoek het.

Williams het ook in ’n verklaring gesê die geboorte kon nog nie by enige staatsfasiliteit bevestig word nie.

“Ons moet die geloofwaardigheid van hierdie geboorte bevestig sodat ons die nodige ondersteuning kan bied,” sê Williams.

Williams het nog nie aangedui of daar intussen vordering met die soektog gemaak is nie.

Boonop het Jessica Dawes, senior reklameagent by Guinness Wêreldrekords, gesê dat hulle ook nog nie dié nuwe wêreldrekord kon verifieer nie.

“Ons rekordspan, in samewerking met ’n spesiale konsultant, ondersoek die saak en sal so gou as moontlik meer inligting beskikbaar stel.”

Opgewonde Suid-Afrikaners was ywerig om vir dié nuwelinge ’n “nasionale babatee” te hou met skenkings wat van heinde en verre ingestroom het.

Lucky Star het hulle gelukwense op Twitter uitgespreek en gesê dat hulle ’n jaar se Pilchards-visvoorraad aan die gesin gaan skenk.

Hungry Lion SA, wat ’n reeks kettingrestaurante bedryf, het ook aangedui dat hulle die gesin elke maand vir jaar lank met ’n 21-stuk-hoenderboks sal bederf.

Die storie het sedertdien opslae in plaaslike sowel as internasionale nuus gemaak.

Luidens berigte was die egpaar se eerstelinge ’n tweeling en is hulle nou ’n gesin van 14.

Maroela Media kon nie die familie se sogenaamde woordvoerder vir kommentaar bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Een , tweee …tien !

Kerneels

Ek het êrens raaklees die bevalling was by Medunsa?

Misky

Daai man moet in die spaarkamer gaan slaap, want as hy vir haar “kyk”, word sy swanger – ha ha ha ha. Sjoe, vrugbaarheid se moses!!!!! Geluk aan hulle, maar baie bly dis nie ek nie

Tipper

kry net nie genoeg nie.

Sarel

Wat nou ” Pretoria News” waar is hulle en hoekom wird dit bekend gemaak dn dzn kruip hulle weg….veral vir al die skenkings en hulp…