Talle vrae oor megastad-ontwikkeling in Pta-Oos

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die bekendstelling van die ontwikkleing. Foto: Siyabulela Duda

Daar is die afgelope week uit verskeie oorde indringende vrae gevra oor die megastad-ontwikkeling by Mooikloof in die ooste van Pretoria wat verlede Sondag deur pres. Cyril Ramaphosa van stapel gestuur is.

Inwoners van die omliggende spogwoonbuurte is bekommerd dat die waarde van hul eiendomme gaan daal as volgens beplanning tot 50 000 deeltiteleenhede in die omgewing gebou word waar die gemiddelde prys van eiendom die hoogste in die stad is. Hulle vrees ook dat die beplande hoëdigtheid-ontwikkeling tot ʼn verdere toename in die reeds problematiese verkeer in die gebied sal lei.

Ramaphosa sê die Mooikloof- geïntegreerde ontwikkeling, ter waarde van meer as R84 miljard, is bestem om by voltooiing uiteindelik die wêreld se grootste deeltitel-eiendomsontwikkeling te wees met eie skole, winkels en kantore.

“Dis veral daarop gemik om ruimtelike integrasie mee te bring en ʼn hoofkenmerk van apartheid ongedaan te maak,” het hy tydens die bekendstelling gesê.

Die projek is ʼn vennootskap tussen die staat en die ontwikkelaar, die genoteerde maatskappy Balwin Properties. Gauteng-provinsie én die Tshwane-metro verleen steun aan die projek. Dit sal oor etlike jare in fases ontwikkel word en die waarde van die residensiële gedeelte is tussen R30 en R44 miljard.

Balwin se uitvoerende hoof, Steve Brookes (links) praat met Patricia de Lille (middel) en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda

Balwin se stigter en uitvoerende hoof, Steve Brookes, sê die megastad is spesifiek ontwerp om ʼn gaping in die huismark te vul en ʼn geleentheid aan mense te bied wat gesamentlik tussen R3 501 en R22 000 maandeliks verdien om ʼn huis te besit.

“Dis die groep wat te veel verdien om ʼn gratis huis van die regering te ontvang en te min kry om vir ʼn bankverband te kwalifiseer. Individue wat vir die eerste keer huis koop, sal ʼn subsidie van tussen R27 960 en R121 626 van die regering ontvang.”

Die koopprys van die sowat 2 500 woonstelle wat in fase een gebou word, wissel van tussen R499 000 en R799 000 en meer as 200 eenhede is reeds tydens die bekendstellingsdag verlede Saterdag van die planne af verkoop.

Die megastad gaan op twee gedeeltes van die plaas Rietfontein 375 ontwikkel word wat voorheen onder die Kungwini- plaaslike owerheid geval het voordat dié munisipaliteit by Tshwane ingesluit is. Volgens Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, het Kungwini die dorpstigting in 2007 goedgekeur en toestemming verleen dat 1 664 eenhede gebou kan word, onderhewig aan die beskikbaarheid van grootmaat-infrastruktuur.

Die grond behoort aan die maatskappye Forum SA Trading 284 (Edms.) Bpk. en Central Plaza Investsments 28 (Edms.) Bpk.

Balwin se stigter en uitvoerende hoof, Steve Brookes, wys vir pres. Cyril Ramaphosa hoe die ontwikkeling gaan lyk. Foto: Jacques Naude/African News agency (ANA)

Volgens Balwin Properties se mediawoordvoerder, Morné Reinders van Articulate Capital Partners, het Balwin die grond deur middel van sy filiaal, Mooikloof Mega City (Edms.) Bpk. onder opskortende voorwaardes bekom. Central Plaza Investments 28 en Forum SA Trading 284 besit ʼn 30%-aandeel  en Balwin Properties die ander 70% in die filiaalmaatskappy wat op 15 Maart vanjaar geregistreer is. Die twee direkteure is Steve Brookes en Norman Gray.

Hoewel die projek verlede naweek met groot fanfare van stapel gestuur is, lyk dit asof die spreekwoordelike wa dalk voor die perde gespan is. Dit kan vier jaar duur voordat dorpstigting geproklameer word. Mashigo sê die beoogde omvang en voorgestelde digtheid van die ontwikkeling benodig groot infrastruktuurinsette. Gedetailleerde ondersoekstudies vir onder meer openbare vervoer en ruimtelike beplanning moet eers gedoen word vóór ʼn meesterplan opgestel kan word.

“Studies rakende die opgradering van paaie in die omgewing word gedoen wanneer nuwe aansoeke by die munisipaliteit ingedien is,” sê hy.

Dit kan ook jare duur voordat die paaie uiteindelik verbreed word. Die opgradering van Garsfonteinweg, die hooftoevoerroete na die ontwikkeling, is byvoorbeeld nog nie eens ontwerp nie.

“Tshwane het wel sowat R12 miljoen vir die ontwerp van die opgradering begroot, maar dis slegs vir 3,6 km tussen die Waterglenpark- en Parkview-winkelsentrums omdat dit die enigste gedeelte is waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik is,” sê Elmarie Linde, die DA se voormalige voorsitter van die oorsigkomitee oor vervoer in die stad.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die Mooikloof megastad-ontwikkeling.

“Die ontwerp van dié stuk pad gaan tussen Maart en Junie 2021 gedoen word en sal bepaal wat die opgradering gaan kos. Dan moet Tshwane daarvoor begroot om in die volgende finansiële jaar gedoen te word.”

Die res van die roete val onder die provinsie en Linde sê Gauteng moes dit lankal opgegradeer het, want dis ʼn prioriteit, juis omdat daar soveel ontwikkelings in die ooste is. “Maar hulle het nog nie die ontwerpe gedoen of enigsins met Tshwane bespreek wat hulle beplan nie en bowendien is daar ook nie in die provinsie daarvoor begroot nie.”

Moneyweb het vroeër berig dat die regering, deur sy voorgestelde infrastruktuurfonds van meer as R350 miljard, sowat R1,4 miljard in grootmaatinfrastruktuur gaan belê om die Mooikloof-ontwikkeling te ontsluit. ʼn Gedeelte van die geld sal waarskynlik deur die provinsie aangewend word om die provinsiale gedeelte van Garsfonteinweg op te gegradeer.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die Mooikloof megastad-ontwikkeling.

Intussen is daar die afgelope week op sosiale media bespiegel dat Balwin se uitvoerende hoof, Steve Brookes, skenkings aan die ANC gemaak het en daarom voorkeurbehandeling van pres. Ramaphosa en die regering ontvang. Verder word ook beweer dat Balwin ʼn subkontrakteur is vir die maatskappy wat die kontrak ontvang het om die megastad te bou.

Maroela Media het die vraag direk aan Brookes deur Balwin se mediawoordvoerder gestel. In ʼn skriftelike antwoord sê hy:

“Ons is bewus van die bespiegeling op sosiale media rakende skenkings aan politieke partye. Nóg mnr. Steve Brookes, nóg Balwin Properties, nóg sy stigting het ooit finansiële skenkings aan enige politieke party gemaak.

“Die bewering dat Balwin ʼn subkontrakteur vir ʼn ander onderneming is, is belaglik. Balwin het ʼn 25 jaar lange rekord en is ʼn genoteerde maatskappy. As sodanig word die maatskappy aan streng regulatoriese en beleggersondersoeke onderwerp en bedryf sake volgens die standaarde vir korporatiewe bestuur in ooreenstemming met verskillende kodes en JSE-noteringsvereistes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adriana

Waar kan ek aansoek doen vir ñ hophuis, want ek kwalifiseer nie vir die behuising, ek kry veel minder as die minimumloon per maand. Wie mag in elk geval aansoek doen vir die behuising, mag almal aansoek doen daarvoor ongeag kleur.

Tjom

Waar is DeLille se masker of is sy verhewe?

Joos

Ek kan nie help om skepties te wees as daar by sulke bekendstellings lede van die die parlement teenwoordig is nie. Wanneer gaan die blik wurms oopgemaak word?

annie

Eiendomskonsultante praat van location, location, location om aan te dui dat dit uiters belangrik is om eerder ‘n kleiner plekkie in ‘n goeie buurt te koop as ‘n paleis in ‘n swak buurt. Diè teorie gaan nie in hierdie mega-location-location-location werk nie.

Trotse Boervrou

Ons belastingbydraes wat so vrylik en skaamteloos gebruik word. Ek dog daar is nie meer geld nie? Wat van die hordes wat so honger ly? Waar kom die geld nou skielik vandaan? Koop se gat. Waar moet die mense skielik geld kry om dit te koop? Ek glo dit gaan weggegee word. Die verkiesing is mos om die draai. Laaste stuiptrekkings…