Talle vrae oor peperduur stadion

’n Skermskoot van die eerste plasing wat die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit van die Lesseyton-sportstadion op Facebook gemaak het.

Die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit het onder skerp kritiek deurgeloop nadat hy Maandag foto’s van die splinternuwe Lesseyton-sportstadion naby Komani (Queenstown) in die Oos-Kaap gedeel het.

Dié stadion het glo R15 miljoen gekos om op te rig.

Talle skeptiese sosialemediagebruikers is egter van mening dat dié stadion – op grond van die foto’s wat gedeel is – onmoontlik soveel kon kos.

Ander gebruikers het op dié platforms uitgevaar en geëis dat die Valke ondersoek moet instel.

Die oorspronklike plasing is sedertdien van Facebook verwyder.

Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in dié provinsie, het Dinsdag gesê hy is bekommerd oor “mediaberigte omtrent ʼn R15 miljoen-projek wat ʼn nasionale storm op sosiale media veroorsaak het” en dat hy ʼn volledige verslag met feite van die munisipaliteit versoek het.

Nqatha sê die verslag sal na verwagting deur die loop van die week by hom wees.

“Ek verstaan ​​die negatiewe en openbare kommentaar op die saak ten volle. Daarom het ons die leiers van die munisipaliteit versoek om alle feite oor die omvang van die werk vir die projek en wat tot dusver gelewer is te kry,” sê Nqatha.

Die munisipaliteit het Dinsdag ʼn nuwe plasing met 14 foto’s op sy Facebook-blad gedeel om glo die “feite oor die sportfasiliteit reg te stel”. Die koste van die projek was nie by dié plasing ingesluit soos met die aanvanklike plasing die geval was nie.

“Die munisipaliteit betreur die wyse waarop die aanvanklike plasing met minimale besonderhede gedeel is.”

In sy nuutste plasing verduidelik die munisipaliteit nou wat die omvang van die projek behels het –onder meer die oprig van ʼn 780 m lange palissade-omheining, die aanlê van ʼn rugby- en sokkerveld, ʼn atletiekveld, ablusiegeriewe en kleedkamers, ʼn rioolstelsel en ʼn staalpaviljoen.

“Die munisipaliteit het hierdie belegging in die platteland gemaak om sportaktiwiteite in die omgewing te ondersteun. Dit is daarop gemik om aan die gemeenskap, veral die jeug, ’n fasiliteit te bied wat as ʼn geskikte sportsentrum vir meer as ses dorpe sal dien.

“Die gemeenskap het ’n ryk geskiedenis in sport en het ook ’n professionele sokkerspeler opgelewer waarop die munisipaliteit trots is,” lui die inskrywing op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

anniekiewiet ·

O nè? Ergste is dat mense aanhou met sulke projekte ten bedrae wat nie sin maak nie, en dan nie kan glo dit word bevraagteken nie.

Nie Verbaas ·

En hulle is tog so trots op nog n ANC flater. Die mense het net geen benul van waarde nie behalwe as dit by Gucci kom.

Thelsa ·

Die finansiële oorsig en beheermeganismes wat deur die pre-1994 groepe ingestel is, word natuurlik verbreek tot eie gewin van enige persoon wat ‘n pen kan vashou. Geen konsekwensies vir sulke brutale oneerlikheid.

marius ·

Betreur ? Daar is nie EEN ding in die land wat gedoen word sonder om te plunder nie .

Robbie ·

Alle openbare besteding is korrup totdat die teendeel bewys word. Die onvermoeide strewe is om Suid-Afrika die korrupste land in die wêreld te maak.

Perdeby ·

Dit is onmoontlik wat ek daar sien kan nie meer as R200 000.00 gekos het nie, maw die geld is weer in iemand se gatsak in, so kry maar weer vir Zondo in.

Baardman ·

Wat my nog altyd pla is dat daar ander politieke partye ook op die rade sit wat sulke projekte goedkeur en moet monitor. Is hulle net daar om salaris te trek? Hulle kan mos sulke geldmors projekte openbaar maak, VOORDAT die geld vermors raak.

Belinda ·

ja bou stadiums sodat die honger mense buite kan staan en bedel vir geld en kos. ons land se prioriteite is so op punt (sarkasties bedoel)…. dan kan hulle hom nog later weer afbrand ook. lekker man, lekker.
Dis net weer n verskoning om weer te steel, dis al.

Sandra ·

15 miljoen vir die hoender stellasie? Wie gaan sit en wie gaan staan tydens ‘n sportbyeenkoms. Daardie stellasie kan nie eens 30 000 kos nie. Dis net ‘n metaal konstruksie met geen skuiling nie. Ek stem dat die Valke die storie moet navolg.

Debby ·

Seker 10 miljoen betaal vir die veldgras wat alreeds daar was

Annelize ·

Dit lyk meer na ‘n gemeenskapsprojek wat deur die gemeenskap self befonds is, op ‘n lappie grond wat aan die gemeenskap geskenk is.

My ogies moes meer skade oorgehou het na my onderonsie met Covid so drie weke terug as wat ek gedink het, want ek kan werklikwaar nie sien waar die R15 000 000.00 hier ingeploeg is nie, hier is beslis R14 500 000.00 kort.

“Jubilant Community members” moet eerder lees “ignorant community members”.

Nicolaas ·

Maar tog vertrou ons die daaglikse statistieke oor C19 en hoe besorg die regering oor ons Suid-Afrikaners is. Wat ‘n grap.

Jack ·

Beslis weer korrupsie maar hoe lyk die behuising en daardie geriewe. More breek hulle die stadion af uit protes teen swak dienslewering. Bose spul.

Inkpot ·

Sien ek reg?
Is dit die stadion op die foto wat R15 miljoen gekos het??

Zombie ·

Howe het al by meer as een geleentheid die woord “irrasioneel” in uitsprake gebruik om na optrede van regeringsamptenare se besluite en gedrag te verwys. As iets irrassioneel is, beteken dit vir my dat rasionele denke ontbreek. Hierdie stellasie is vir my ń goeie voorbeeld van irrassionele denke wat in irrassionele optrede uitspeel. Mens kan dit as voorbeeld gebruik om klein kindertjies lewenslesse te leer – met die (spot)prentjies.

twaalfboor ·

Een profesionele sokker speler? Lag my in ñ papie in.

Kokerboom ·

Sjoe nie besef inflasiekoers so hoog dat dit al is wat jy vir 15 mil kry!!Ala Afrika!!

Jacobus ·

Ons land moet ophou om vooruit te betaal vir belaglike projekte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.