Talle vuurwapens al tydens amnestie ingegee

(Argieffoto)

Duisende vuurwapens en ammunisie is in die eerste maand van die amnestietydperk vir vuurwapens ingegee.

Dit sluit in 1 465 vuurwapens en 14 861 koeëls. Onder die vuurwapens wat ingegee is, was 1 248 handwapens, 76 haelgewere en 142 gewere.

Die vuurwapenamnestietydperk het op 1 Desember begin en duur tot einde Mei.

“Terwyl die meeste vuurwapens vir vernietiging ingegee is, het ons 264 aansoeke ontvang vir die herlisensiëring van vuurwapens waarvan die lisensies ingevolge art. 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens verval het. Dit sluit in 247 handwapens (rewolwers en pistole), agt haelgewere en nege gewere,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, gesê.

Die polisie het diegene aangemoedig wat onwettig in besit van vuurwapens en ammunisie is om gebruik te maak van die amnestietydperk om wapens sonder vrees vir vervolging in te gee. Diegene wat ʼn wapen ingee wat in die pleeg van ʼn misdaad gebruik is, kry egter nie dié kwytskelding nie.

Alle wapens wat ingegee word, ondergaan ballistiese toetse voor dit vernietig word.

Naidoo het gesê wapens word in nege sentrale bergingsfasiliteite in elkeen van die provinsies gestoor. Toegewysde vuurwapenbeamptes en polisielede wat streng keuring ondergaan het, is aangestel om die proses te hanteer.

ʼn Speurtaakspan sal wapens wat by misdaad betrokke was, ondersoek.

In November vanjaar is meer as 20 000 onwettige vuurwapens, vuurwapenonderdele en ammunisie vernietig.

“Ons is vol vertroue dat meer mense na vore gaan kom met onwettige en ongewenste vuurwapens, gegewe die hoeveelheid wat ons reeds in die feestyd ontvang het,” het Naidoo gesê.

Die amnestie is egter nie sonder omstredenheid nie. Die burgerregtegroep AfriForum het vroeër kommer uitgespreek oor die veilige bewaring van wapens wat ingegee word, terwyl die Nasionale Jag-en-Sportskietassosiasie van Suid-Afrika (NHSA) hom tot die hof gewend het in ʼn poging om die proses ter syde te laat stel.

Diegene met navrae oor die vuurwapenamnestie kan die Sentrale Vuurwapenregister kontak by 012 353 6111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.