Talle wapens by veiligheidsmaatskappy gesteel

Altesaam 18 wapens is uit die kluis gesteel. (Foto: SA Polisie)

Die polisie in Limpopo doen ʼn ondersoek om vas te stel of talle vuurwapens wat die afgelope naweek by ʼn perseel van ʼn veiligheidsmaatskappy gesteel is, in ooreenstemming met wetgewing oor die stoor van vuurwapens geberg is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn onbekende aantal verdagtes het glo tussen Saterdagaand en Sondag in die vroeë oggendure by die veiligheidsmaatskappy se perseel in Polokwane City ingebreek.

“Die verdagtes het vermoedelik die deur met ʼn voorwerp oopgedwing om toegang tot die perseel te kry. Hulle is daarna na ʼn kluis waar hulle glo die vuurwapens, ʼn onbekende hoeveelheid ammunisie en ʼn rekenaar en sleutelbord gesteel het,” het hy gesê.

Altesaam 18 vuurwapens is gebuit.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende polisiehoof in Limpopo, het sy misnoeë met die voorval te kenne gegee.

“Terwyl ons die stryd voortsit teen geweldsmisdaad wat met vuurwapens gepleeg word, kan ons nie bekostig dat hierdie wapens in die verkeerde hande beland nie,” het Scheepers gesê.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die voorval om ao. Simon Kutumela by 071 1944 625, die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111, of hul naaste polisiestasie te bel.

ʼn Saak van diefstal is aanhangig gemaak en die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.