Talle werkplekke nie bestand teen Covid-19

ʼn Vrou maak gesigsmaskers in ʼn meubelfabriek in Eldoradopark in Johannesburg. (Foto: Shiraaz Mohamed, AP)

Slegs ʼn bietjie meer as die helfte van werkplekke wat sedert die begin van die afsonderingstydperk deur inspekteurs van die departement van arbeid besoek is, het aan alle veiligheidsvereistes betreffende die koronavirus voldoen.

So het amptenare van die nasionale departement van arbeid vandag aan lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid gesê tydens ʼn virtuele sitting van die portefeuljekomitee.

Die departement het ongeveer 1 000 werkplekke in dié tyd besoek.

ʼn Ander probleem wat arbeidsinspekteurs teëgekom het, is vervalste noodsaaklike diens- sertifikate, en te min beskermende kleredrag vir die inspeksie van hospitale.

ʼn Voorlegging deur die vergoedingskommissaris het dit duidelik gestel dat die fonds tans in krisisbestuur is, dat die koronavirus tot ʼn beroepsverwante besering verklaar is en dat diegene wat daaraan ly dus by die werkloosheidsvergoedingsfonds (WVF) om vergoeding aansoek kan doen.

Tot dusver het 37 000 maatskappye reeds die WFV suksesvol om korona-verwante hulp gevra, en 790 000 werkers word suksesvol bygestaan.

Thulas Nxesi (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het nogmaals gewaarsku dat die nagevolge van die koronavirus erg gaan wees, dat sommige maatskappye lank gaan vat om te herstel en dat ander glad nie gaan herstel nie.

Namens die VF Plus het Heloise Denner, LP, haar kommer uitgespreek oor die vermoë van die WVF om die verhoogde aanvraag vir die fonds se dienste te hanteer.

Denner het gesê die inbelsentrum is oneffektief. Sy het gevra dat die R39 miljard wat die WVF tot die staat se stryd teen die koronavirus bydra, spesifiek vir die verligting van werkloses se lot gebruik word.

Dr. Michael Cardo, DA-LP, het gevra hoe die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die WVF gaan bystaan, waarop die antwoord was dat die stelsel waarvolgens dit sal geskied, nog ontwerp word.

Cardo wou ook weet oor hoeveel geld die WVF beskik. Die antwoord hierop was dat daar, benewens die R40 miljard wat vir koronaverwante gevalle begroot is, ʼn verdere R60 miljard in die fonds beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.