Talle wil Eskom help krag opwek

Solidariteit sê hy is oorval met navrae van mense wat wil aansoek doen om krag te verskaf. (Foto: Maroela Media)

Solidariteit is die afgelope twee weke oorval deur versoeke van mense wat hulp benodig om hul aansoeke om permitte om krag op te wek by die Nasionale Energiereguleerder af te handel.

Solidariteit het vroeër aangekondig dat hy ʼn hulplyn beskikbaar stel om diegene wat wil aansoek doen om ʼn permit om krag op te wek en dit in die netwerk te voer, te help.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê nou weens die magdom versoeke moes die organisasie bykomende hulpbronne toewys om al die navrae te help hanteer. Dit sluit in navrae van diegene wat reeds krag kan opwek, maar wag vir die toestaan van ʼn permit én diegene wat op die punt staan om in die posisie te wees om krag aan die netwerk te kan lewer.

Die SNI het vroeër ʼn verslag bekend gemaak oor die omvang van die land se kragkrisis, asook voorstelle oor hoe dit opgelos kan word. Een daarvan was grootskaalse kleinskaalse opwekking, dus duisende mense wat op ʼn klein skaal krag opwek wat dan in die netwerk gevoer word om druk op Eskom te verlig.

Eskom het Nersa nou egter gevra vir ʼn spesiale tarief vir diegene wat minder as die gemiddelde krag verbruik. Dit sou beteken mense wat minder van die Eskom-netwerk afhanklik is, byvoorbeeld diegene wat sonkrag gebruik, moet – indien Eskom sy sin kry – voortaan opdok daarvoor.

Mulder sê private opwekking is die oplossing vir die toekoms. Hy sê hoewel Eskom vantevore al aangedui het dat hy ten gunste daarvan is, pootjie die praktiese werklikheid van Eskom se omset, inkomste en skuldvlak hom egter.

In 2020 het die regering regulasies gewysig wat beteken net ʼn permit, nie ʼn lisensie nie, is nodig om krag tot op ʼn drempel van 1 MW op te wek. Dit is egter ʼn omslagtige aansoekproses.

Mulder sê gemeet aan die stroom navrae en aanbiedinge om te help krag opwek, is die organisasie nou meer oortuig as ooit dat private opwekking wel ʼn oplossing vir die land se kragkrisis kan bied. “As die regering net uit die pad staan, is daar genoeg kapitaal, vaardigheid en kapasiteit om die probleem op te los.

“Ons is in hierdie situasie omdat die regering hier wíl wees,” sê Mulder.

Boonop is daar sprake dat die regering ʼn tweede kragopwekkingsmaatskappy op die been wil bring wat onder sy departement sal val. Dit sal volgens Gwede Mantashe, minister van energie, saam met Eskom krag opwek. Pres. Cyril Ramaphosa het ook vroeër gesê die skep van ʼn nuwe kragprodusent sal help om die risiko’s van die bestaande stelsel te verminder.

“Dit is soos om ʼn tweede Titanic te bou om die ysbergprobleem uit te sorteer,” sê Mulder.

Oor sprake dat die regering opnuut ʼn noodtoestand wil afkondig om die kragkrisis op te los, meen Mulder dit gaan ook nie die situasie beredder nie.

“Ons het minder regering nodig, nie meer nie. ʼn Noodtoestand is nie nodig om die probleem op te los nie.

“Die ANC se rekord met ʼn ramp- of noodtoestand lei ook nie tot oplossings nie en is ʼn sinnelose poging om te sê ‘ons kort meer mag’.

“Daar is vreemde rompslomp hieraan verbonde en ek dink dit is doelbewus so opgestel. Maar die tyd daarvoor is verby. Ons gaan hulle daaruit dwing.”

Hy sê indien sekere ampsdraers in die pad van oplossings staan, moet hulle die trekpas kry. “Kry die regte mense om die probleem op te los. Die regering kan die probleem oplos, maar hy doen dit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

miche ·

‘n Sekere groep Suid Afrikaners is té lief en gewoond daaraan om klippe en petrolbomme te gooi as hul nie hul sin kry nie.
Kort voor lank loop die son/ kragpanele ook deur onder hul hande.

Jack ·

Die regering wil nie regtig die probleem oplos nie.Privatisering van ESKOM sal hulle soustrein minder winsgewend maak.Ook sal dit beteken dat net die wat betaal elektrisiteit sal hê.Our people sal dit nooit toelaat nie.Chaos.Maar ja die regte pad sal privatisering wees vir Eskom as ons in ‘n normale land gebly het.

Hannes ·

Wat Eskom uit die oog verloor is, mense wat “grid-connected” sonkrag stelsels gebruik, benodig min Eskom krag. Diegene kan net “unsubscribe” dan verloor Eskom die inkomste ook. Ek weier om R900 per maand optedok vir ‘n stelsel wat ek betaal het agv hulle onvermoë.

Geert ·

Die ANC gebruik die belasting betalers se geld teen hulle en tog bly ons betaal. Dit is nie hulle persoonlike geld om te gebruik soos hulle goed dink nie, dit behoort aan almal wat belasting betaal nie aan die ANC se idiologoeë nie.

Albertus ·

Die regering is die grootste klomp idiote in die heelal, hulle sal dit beheer deur hulle eie stelsels op te sit en hulle nog meer geld kan kry vir hulle eie sak, daar is nie n manier dat nadat ek so duur betaal het vir n solar sisteem dat ek iets gaan betaal nie, dis agv hulle onbevoegheid en ek sien hul in die hof

Pietertjie ·

Iets maak nie sin nie: mense wil aan die een kant help om ekstra elektrisiteit op te wek, maar aan die ander kant wil Eskom hulle belas as hulle dan selfversorgend raak. Quo Vadis?

Witbaard ·

Hulle wil CR se swaer se energiemaatskappy die stelsel laar oorneem.

Manie ·

Natuurlik sal die regering nie die probleem wil oplos nie, want dan is die melkkoei weg.

Witbaard ·

Die 2e kragopwekkingsmaatskappy wag al lankal. (CR en sy swaers).

Piet parys ·

Kader en brothers ja Cyril is nie verniet n biljoener nie .Skep en skep en skep net

SjN ·

Die een kader het hoeka gese die klomp panele gaan al die son se hitte trek.

PieterJ ·

Kom by mense, Eskom soek nie hulp nie, net baie geld vir niks in ruil, soos alle staatsdepartemente.

Papsak ·

Eskom kan ons nie voorsien van krag nie maar wil slings kom raak om ons te laat betaal wat ons nie eers het of gebruik nie nou raak hulle net so skelm soos die vrot anc regering regtig

Koos 100 ·

Hoe klink dit Mnr. De Ruiter?
Hallo, Eskom hier. Ons is ‘n maatskappy wat elektriese energie vervaardig vir Suid Afrika, maar net somtyds. Ons is 500 miljard rand in die skuld maar gelukkig betaal die belasting betalers die rekeninge. Ons het bewyse van groot skaalse bedrog en korupsie, maar weens regeringsbeleid mag ons niks daaraan doen nie. Ons missie en wissie is om nie voltyds voldoende krag te lewer aan ons kliente wat betaal nie, en ons produk gratis te voorsien aan die potensiële kliente wat die nie kan bekostig nie. Verder versoek ons almal, wettige en onwettige gebruikers om minder van ons produk te gebruik, dat ons die regering en hulle kaders voltyds van ons produk kan voorsien. Dan het ons ook nog planne om die wettige gebruikers meer te laat betaal, en die wat minder of geen van ons produk gebruik ook nog meer te laat betaal. Belê asb u geld in ons maatskappy. Ons belowe om dit binne ‘n aansienbare tyd aan ons werkers oor te betaal of in ‘n pit van duisternis te verloor.

Piet parys ·

Eskom die regering beheer alles . Tyd geword dat iemand met baie geld die regering aanvat vir hulle totale beheer in die kragvoorsiening . Die beste vir mense sal wees om van eskom af weg te breek en jou eie krag op te wek As die brood maatskappye saamspan om die pryse te beheer dan is die ( hel los ) gort gaar. Maar Eskom sit met die monopolie .

Hennie ·

Rampspoedig en Motsepe wil dit nie hoor nie…Julle moet ophou om krag te wil lewer, die bakkoppe daar bo wil alleen geld maak!

Gert ·

“Dit sou beteken mense wat minder van die Eskom-netwerk afhanklik is, byvoorbeeld diegene wat sonkrag gebruik, moet – indien Eskom sy sin kry – voortaan opdok daarvoor.”
So, wat gaan Eksdom maak as ek nie opdok vir my solar sisteem wat ek ten duurste ge-instaleer het nie, my krag afsit? LOL, idiots.

Nettie ·

Hoe erg gaan dit nie in ‘n land, waar die mense erger af is MET ‘n regering, as wat hulle SONDER ‘n regering sou wees nie?

AJ ·

Al wat oorbly vir die ANC om te doen, is om van homself ontslae te raak op die mees waardige manier!

‘tsek ANC!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.