Tandarts terug in hof ná seksdade met seun (13)

Ian Venter. Foto: Facebook

Die probleme om ʼn maatskaplike werker te vind om ʼn voorvonnis-verslag op te stel in die saak van dr. Ian Venter, ʼn bekende tandarts van George in die Wes-Kaap wat skuldig bevind is aan die seksuele aanranding van ʼn minderjarige seun, is opgelos.

Dít het Woensdag aan die lig gekom tydens ʼn sitting in die streekhof in Thembalethu.

Venter is in April skuldig bevind op ’n klag van seksuele aanranding van ’n minderjarige seun. Dit het gespruit uit ʼn voorval op die aand van 11 April 2015 toe hy ʼn 13-jarige seun wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het.

Venter dien reeds ʼn vonnis van korrektiewe toesig uit vir ʼn soortgelyke voorval wat in 2011 plaasgevind het. Hy is later skuldig bevind dat hy seks met ʼn minderjarige seun in ʼn huis in Victoriabaai gehad het.

Tydens Woensdag se verskyning sou die staat vir ʼn omskakeling van sy korrektiewe toesig na ʼn alternatiewe vonnis vra. Die staat vra dié omskakeling aan omdat Venter onlangs skuldig bevind is en volgens die staat daardeur die voorwaardes vir sy korrektiewe toesig verbreek het. As die staat daarin kan slaag om Venter se korrektiewe toesig om te skakel, kan hy ʼn boete of gevangenisstraf opgelê word.

Venter het verlede week in die George-streekhof verskyn en die voorvonnis-verslag vir die 2015-voorval sou bespreek word. Die saak is toe egter uitgestel tot 31 Julie omdat daar vrae was oor ʼn verslag van ʼn maatskaplike werker. Venter het sy regsverteenwoordiger, John Gillespie, toe meegedeel daar is onakkurraathede in die verslag.

Streeklanddros Frances Makamandela het gelas dat Gillespie tydens vandag se sitting in Thembalethu moet aandui wie die voorvonnis-verslag gaan opstel en watter vordering daar is.

Gillespie het die hof meegedeel daar was bepaalde probleme om ʼn maatskaplike werker te vind om ʼn voorvonnis-verslag op te stel. Dit is egter intussen opgelos en Arina Smit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders (Nicro) in Kaapstad sal die verslag opstel.

Gillespie het Woensdagoggend tydens ʼn verdaging met Makamandela gepraat en gevra dat die saak steeds op die hofrol vir 31 Julie in die George-streekhof bly.

Streeklanddros Eugenia Jacobs het intussen die saak wat Woensdag aangehoor sou word rakende die staat se versoek om Venter se korrektiewe toesig na ʼn alternatiewe vonnis om te skakel, tot 31 Augustus uitgestel.

Venter se borgtog is verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

A ·

Hoekom kry hy korrektiewe toesig? En hoekom moet hy op vrye voet loop as hy sy voorwaardes verbreek het met presies dieselfde oortreding. Hy moet toegesluit word tot die hofsaak.

Pennie ·

Hoekom word die persoon nog Dr genoem na als wat hy gedoen het? Hy verdien dit nie. Dis walglik verby!

Nettie ·

@Pennie: hy is steeds ‘n dokter – sy kwalifikasie as tandheelkundige verval nie net omdat hy ‘n misdaad gepleeg het nie.

Pennie ·

Nettie, ek verstaan dit. Ek bedoel maar net dat iemand soos hy dit nie verdien om nog die titel te hê nie, juis omdat n mens jou vertroue in n Dr plaas, veral met jou kinders. Hys alreeds skuldig bevind in een saak. Ek dink net hys n vernedering vir almal in die mediese veld. Om as Dr aangespreek te word gee hom n mate van aansien en hy is in my oë n skurk. Ek hoop maar net dat hy n vonnis sal kry wat hy verdien en daar nie eers na sy kwalifikasie gekyk word en dan na die skade wat hy aan die kinders gedoen het nie.

Zoro ·

Ja as jy in n beskuldigde bank in hof staan is jou word daar geen erkening aan jou titel gegee nie, wat nog te sê van n veroordeelde – Hy behoort van beter geweet het .

Nelie ·

Al wat ek kan sê is die man het werklik ‘n probleem en moet geplaas word waar hy uit die samelewing kan kom want hy gaan aanhou

Hanna Hoekom ·

Jammer dat so n aantreklike (en ek neem aan slim ook) man sulke vieslike streke het. Geen verskoning! Sies!

Woedend ·

Ek blamer die regstelsel.Gaan lees n bietjie in George Harold al die berigte aangaande die sogenaamde “Dr”.Dit gaan al vir baie jare aan en nogsteeds is daar nie n uislag nie.

Colleen ·

Hy moet nie borgtog toegestaan word nie, want daar lyk my is geen salf te smeer aan sy walglike dade nie en sodra hy kans kry doen hy dit weer. Sies!

kas ·

Pennie,sy titel dokter gaan teen hom tel by vonnisoplegging.Hy was in ‘n vertrouenswaardige beroep om mense in nood te help.Hy sal verseker nie ‘n boete kry nie.Was hy van die rol geskraap deur die mediese en tandheelkundigeraad of het hy nog gepraktiseer.

Sue ·

Laat em maar my gedagtes spaar want netnou sit ek in die tronk vir my groot mond.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.