Tandarts van Durban sterf tydens Dusi-kanowedvaart

Dr. Heini Jordaan Foto: Facebook

Dr. Heini Jordaan Foto: Facebook

Dr. Heini Jordaan (57) is Vrydag tydens die tweede skof van die 2015 Dusi-kanowedvaart in KwaZulu-Natal oorlede.

Jordaan, ʼn tandarts van Durban, het Vrydagoggend om 07:55 in die G-bondel saam met sy ervare vriend, Neels Meyer weggespring voordat hulle by die Big Bend-stroomversnelling in die moeilikheid beland het, het die wedrenorganiseerders in ʼn verklaring gesê. Die stroomversnelling is ongeveer 7 km van Inanda-dam.

“Jordaan en Meyer se boot het ʼn rots getref. Meyer kon uit die water kom, maar Jordaan was vasgekeer en was ongeveer drie minute lank onder die water,” lui die verklaring.

Van die ander deelnemers het Jordaan en Meyer te hulp gesnel.

Jordaan is uit die rivier gehaal en ʼn paramedikus, wat daar naby was, is ontbied. Een van die deelnemers het ook ʼn veiligheidshelikopter se aandag getrek, maar dit was onmoontlik vir die helikopter om in die gebied te land. ʼn Kleiner helikopter en die mediese helikopter is ook dadelik ontbied.

Jordaan se familie is in kennis gestel van die voorval.

“Dit is ʼn tragedie wat die hele Dusi geskud het,” het Brett Austen Smith, algemene bestuurder van die Dusi-marathon, gesê. Hy het die deelnemers bedank wat gestop het om hulp te verleen.

Die organiseerders betuig hul meegevoel met Jordaan se familie, vriende en Meyer, en het die kanovaart-gemeenskap versoek om hul volle ondersteuning aan Jordaan se geliefdes te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Hartseer dat dit so moes eindig, sport altyd ‘n uitdaaging en sien mens nie na so einde uit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.