Tandartsrekords glo in verkragtingsverhoor gebruik

Rensia de Wet Foto: Facebook

Rensia de Wet Foto: Facebook

Die staat sal na verwagting tandartsrekords gebruik om ʼn man, wat van die verkragting en moord op dr. Rensia de Wet beskuldig word, op die toneel te plaas.

Die man was op parool vrygelaat vir ʼn vorige verkragting toe hy in Desember vir De Wet se verkragting en moord in hegtenis geneem is, het ʼn Sapa-korrespondent berig.

“Die DNS-toetse en tandartsvergelyking met die bytmerk in die saak is afgehandel,” het staatsaanklaer Isabet Erwee in die Witrivier-landdroshof gesê. “Ons wag nog slegs vir een verslag. Dit is byna afgehandel.”

De Wet, ʼn veearts in die omgewing, is op 9 Desember verkrag en met ʼn skerp voorwerp in haar huis in die Witrivier Equestrian Estate doodgesteek.

Die verdagte word ook beskuldig van die verkragting van ʼn vrou in Desember in Mataffin buite Nelspruit. Hy staan ook tereg op aanklagte van verkragting en huisbraak in hierdie saak.

Erwee het die hof versoek om die twee sake te verbind en dit na die Nelspruit-streekshof oor te plaas vir verhoor. Sy het gesê die staat wag op die DNS-uitslae in die Mataffin-saak.

Daar was vroeër ʼn dispuut in die hof of die man ʼn Suid-Afrikaner of Mosambieker is. “Ons wag vir die verslag van die departement van binnelandse sake om die man se nasionaliteit te bevestig,” het Erwee bygevoeg.

Die saak is uitgestel tot 27 Februarie sodat dit na die Nelspruit-streekshof oorgeplaas kan word.

Lees alle vorige berigte oor Rensia de Wet op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neptunus ·

Bytmerke as forensiese bewysstukke is nie juis die mees betroubare getuienis nie. Kom ons hoop die staat het meer as dit op die tafel en dat die SAPD die regte prosedure met die DNS-monsters gevolg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.