Tannie Flori Schrikker ook oorlede

Tannie Koelsoem Kamalie (links) en tannie Flori Schrikker. Foto: VIA-TV

Tannie Flori Schrikker is Saterdag oorlede, net ʼn paar maande na tannie Koelsoem Kamalie saam met wie sy Kaapse geregte aan die res van die land bekend gestel het.

Schrikker is Saterdag oorlede nadat sy verlede maand ʼn dubbele hartomleiding gehad het. Sy het tipe 2-diabetes gehad en haar been is in 2011 afgesit weens die siekte.

“Sy was een van die legendariese kokke van Bonteheuwel wat ons in haar kombuis ingenooi het om van die geheime van Kaapse kookkuns te deel in Flori en Koelsoem se kosse,” het VIA-TV in reaksie op die nuus gesê.

Schrikker en Kamalie se TV-reeks, Flori en Koelsoem se kosse, met Nina Swart as aanbieder, was ’n enorme sukses.

Kamalie is in April vanjaar aan nierversaking dood. “Rus in vrede, ons gunstelingtannies,” het VIA-TV gesê. Die ATKV het ook hulde aan Schrikker gebring. “Tannie Flori se stem is nou stil, maar haar nalatenskap sal vir lank nog ’n verskil maak. Tannie Flori, dankie dat jy deel van die ATKV se storie was. Ons eer jou. Rus sag.”

Schrikker en Kamalie het as buurvroue in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte begin bekend raak vir hul Kaapse kosse. Eers het hulle die luisteraars van RSG aan hul lippe laat hang, waarna Lapa Uitgewers die twee vroue genader het en met Amore Bekker se hulp het hul eerste boek, Kook saam Kaaps, ’n wegholsukses geword.

Die tannies het ’n tweede boek, Soettand, by Lapa uitgegee en het ook ’n tweede TV-reeks gemaak.

Schrikker laat haar man, vier kinders en tien kleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blondie76 ·

Dis vreeslik hartseer. Hulle was beide al volks besit en het diep in die kykers se harte gekruip. Mag hulle rus in vrede en saam die potte behoorlik laat prut in die hiernamaals.

christo ·

Sterkte aan die familie, veral haar man. Dié twee vroue het die ryk Suid-Afrikaanse kultuur met ons gedeel. Dankie aan RSG wat dié vroue ‘ op die map ‘ gesit het.

antieke antie ·

mag hulle families vrede vind met die gemis… hulle was WOWmen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.