Tannie Koelsoem Kamalie oorlede

Koelsoem Kamalie in die kombuis (Foto verskaf deur Lapa Uitgewers)

Koelsoem Kamalie is Saterdag oorlede. Dié tannie van Bonteheuwel het luisteraars van RSG aan haar lippe laat hang met die heerlike resepte wat sy gedeel het, haar humor en die reguit manier waarop sy kon praat.

Alles het begin toe Riaz Kamalie, haar seun, eendag vir Amore Bekker ’n e-pos gestuur het om te sê sy ma kan lekker kook. Amore moet haar bel.

Dit was die begin van groot dinge. Koelsoem Kamalie het ’n gereelde deelnemer op Amore Bekker se Tjailatyd geword.

Einste rondom Paasfees het die ander tannie van Bonteheuwel aan Amore en haar luisteraars bekend geword: Amore wou ’n kerrievisresep hê, toe sê Koelsoem, “Nee, ek is Slams, maar my vriendin Flori is Kris. Bel haar.”

Só het dit gebeur dat Flori Schrikker ook gereeld resepte gedeel het daar uit Bonteheuwel. Luisteraars het begin vra vir meer.

Koelsoem Kamalie (Foto verskaf deur Lapa Uitgewers)

Lapa Uitgewers het die tannies genader en met Amore Bekker se hulp het Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se eerste boek Kook saam Kaaps ’n wegholsukses geword. Dit was meer as ’n jaar lank sonder ophou op Nielsen se Top-100 vir niefiksie, waar dit met al die groot oorsese kookboeke meegeding het.

Die TV-reeks, Flori en Koelsoem se kosse, met Nina Swart as aanbieder, was eweneens ’n enorme sukses.

Die tannies het ’n tweede boek, Soettand, by Lapa uitgegee en het ook ’n tweede TV-reeks gemaak.

Koelsoem Kamalie word oorleef deur haar man, oom Osman, vier kinders en haar pragtige kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vida ·

Dis sulke hartseer nuus. Rus in vrede liewe mens. Jy sal gemis word.

Poplap ·

Rus sag liewe Tannie. Ons sal jou nooit vergeet nie. Solank as wat ons jou resepte beproef sal jy in ons gedagtes wees. Sterkte aan die familie en vriende. Liefde groete. Wees veilig.

Realis Thailand ·

Sulke mense maak die reenboognasie so effens met n kleur
Jammer daar is nie nog baie van hulle soort nie
Simpatie aan die familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.