Tariefverhogings in Vrystaat ‘onrealisties’

Die VF Plus het tariefverhogings in die Vrystaat as “onrealisties” bestempel. (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Die VF Plus het Dinsdag tariefverhogings in die Vrystaat as “onrealisties” bestempel en sê dat dit tot ʼn veel erger finansiële krisis kan lei.

Armand Cloete, VF Plus-LP in die nasionale raad van provinsies, sê diensteheffings in sommige munisipaliteite word met meer as inflasie verhoog, terwyl inwoners onder swak munisipale dienslewering gebuk gaan.

Volgens Cloete het groter owerhede, soos die Metsimaholo-munisipaliteit, wat Deneysville, Kragbron, Oranjeville en Sasolburg bedien, onder meer hulle riooltariewe met 6% verhoog. Dít terwyl rioleringsdienste in dié dorpe uiters problematies is.

Die Matjhabeng-munisipaliteit, wat Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, en Welkom bedien, het watertariewe met 6% verhoog hoewel talle inwoners al jare lank ernstige watertekorte en -probleme ervaar weens gebrekkige instandhouding en agterstallige skuld aan Sedibeng-water.

Maroela Media het verlede jaar berig dat dié munisipaliteit ook miljarde rande aan Eskom skuld vir grootmaatkragvoorsiening.

Daar is ook al vir die afgelope ses jaar geen brandweerdienste in die Matjhabeng-munisipaliteit nie.

“Tariefverhogings in Vrystaatse munisipaliteite bewys weereens hoe buite voeling die ANC is met die finansiële realiteite van die Vrystaat én sy inwoners.

“Die Vrystaat is tans onder geweldige ekonomiese druk en onrealistiese tariefverhogings in munisipaliteite sal bykomende finansiële druk op inwoners plaas. Dit sal meer wanbetaling veroorsaak en munisipaliteite se finansiële toestande verder laat versleg.”

Cloete sê munisipaliteite het nie faktore soos verhoogde werkloosheidsyfers en swak ekonomiese groei met die opstel van dié begrotings ingereken nie.

Maroela Media het vroeër die maand ook berig dat werkloosheid in die Vrystaat tussen Januarie en Maart vanjaar met 2,2% toegeneem het vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

“Om slegs belastings en tariewe te verhoog, sal nie die finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite herstel nie.

“Ekonomiese groei is nodig en sal slegs deur ʼn meer gunstige ekonomiese omgewing met bekostigbare belastings en tariewe bewerkstellig word. Munisipale belastings en tariewe moet dus eerder verlaag word om sodoende die plaaslike ekonomie te stimuleer,” sê Cloete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Arme Vrystaat! Op gemors deur die ANC, maar kom October verkiesing is die X maar weer by die ANC. Dit is asof iemand jou vir 5 jaar neuk met ‘n sjambok, dan gaan stem jy weer vir die ou met die sjambok, dan hou hy aan om jou te neuk vir nog 5 jaar!

Tiptol

Hulle wil net vat vat vat. Pla hul glad nie om geld te kry en om niks te doen nie.

Nie Verbaas

Soek nou net meer geld om korrupsie en wanbesteding te finansier. Dat mense nou soveel moet betaal vir totale onbevoegdheid.

Jeff

Al WEER – VF SÊ – – – MAAR DOEN NIKS DAAR OMTRENT

Petrus Klipkop

Nie net in die Vrystaat nie. In Port Elizabeth (ten minste in die wyk waar ons woon), styg water, sanitasie en vullisverwydering met 6%, eiendomsbelasting met 5% en elektrisiteit met 14.59%. Tesame met ‘n 15% verhoging in elektrisiteit, is daar ‘n totale verhoging in elektrisiteittariewe van 31.7785%, baie hoër as die VPI. (Bron: https://www.algoafm.co.za/local/hefty-electricity-tariff-looms-for-nmb-residents-after-budget-approved Besoek op 14 Junie 2021)