Tastic-produkte herroep

tastic-simply-delicious-herroepTiger Brands se graanafdeling het Donderdag sekere Tastic Simply Delicious-produkte herroep nadat spore van die moontlik giftige kleurmiddels daarin gevind is.

Laboratoriumtoetse wat in Suid-Afrika op die betrokke produkte gedoen is, het spore van metielgeel en Sudan 1 ontdek. Die betrokke produkte is tussen Junie en Julie 2014 vervaardig.

“Tastic glo dat elke produk perfek moet wees, en die gesondheid van ons verbruikers is van kardinale belang,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. “Tastic se Simply Delicious-produkte word in Indië onder streng maatreëls van ʼn bekende internasionale geurhuis vervaardig en word weer in Suid-Afrika deur ʼn onafhanklike laboratorium getoets om te verseker dat dit aan ons hoëgehaltevereistes voldoen.”

Volgens die maatskappy is hierdie kleurmiddels skadelik weens die moontlike toksisiteit en karsinogeniese eienskappe van die verbindings. “Albei middels word deur die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) beskryf as ʼn moontlike gesondheidsrisiko vir mense en word in sekere lande, waaronder Suid-Afrika, verbied.”

Die maatskappy het gevolglik die Simply Delicious-reeks tydelik uit alle winkels onttrek.

Enige verbruikers wat Tastic Simply Delicious se “cook-in-sauce” of “ready-to-eat”-rys aangeskaf het, en wat in Junie en Julie 2014 vervaardig is, word versoek om die produkte terug te neem na enige groot supermark in hul omgewing. “Die betrokke klant sal ʼn koepon ter waarde van die Tastic-produk ontvang, wat dan vir enige ander produk van hul keuse gebruik kan word.”

Tiger Brands het verbruikers gerusgestel dat slegs hierdie twee betrokke Simply Delicious-produkte wat tydens hierdie spesifieke periode vervaardig is, hierdeur geraak word en dat alle ander Tastic-produkte aan hul hoë standaard voldoen.

“Sodra ons tevrede is dat produkte uit die Simply Delicious-reeks weer aan ons hoë gehalte voldoen, sal dit so gou as moontlik weer beskikbaar gemaak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.