Tatjana laat nóg ’n Olimpiese rekord spat!

Vreugde is wanneer jy ’n Olimpiese rekord verbeter. Tatjana Schoenmaker het nóg ’n rekord laat spat. Foto: Oli Scarff/AFP.

Iemand moet dalk daaraan begin dink om vooraf ’n brandweerstasie te bel wanneer Tatjana Schoenmaker swem, want die Suid-Afrikaner is aan die brand in Tokio.

Die 24-jarige swemmer het van begin tot einde voorgeloop om haar 200 m-borsslaguitdunronde op ’n drafstap te wen. Maar toe sy omdraai om na die horlosie te kyk het die vreugdevure selfs hoër gebrand: Sy het nóg ’n Olimpiese rekord laat spat!

Schoenmaker het die uitdunronde in ’n rekordtyd van 2:19:16 gewen om die vinnigste pad na die halfeindstryd te neem.

Daardie silwer medalje in die 100 m-borsslagitem het ongetwyfeld die vuur helder in Schoenmaker laat brand, maar ’n uitstekende prestasie (maak nie saak hóé spoggerig nie) in die uitdunrondes beteken nie noodwendig Olimpiese goud nie.

Tog het Schoenmaker ’n volwasse kop op haar jong skouers; iets waarvoor Penny Heyns waardering het.

“Ek hou van Tatjana se houding in die swembad. Dit lyk nie asof sy haar met ander wil vergelyk nie; sy wil net na die beste van haar vermoë swem. Dit is die sleutel tot sukses op die hoogste vlak: Dit help nie om met iemand anders mee te ding nie, want dan kan jou aandag maklik afgelei word,” het Heyns gesê.

Kaylene Corbett. Foto: Verskaf.

Dan het Kaylene Corbett ook haar uitdunronde gewen om die vierde vinnigste kwalifiserende tyd saam met haar na die halfeindstryd te neem.

Die Tukkies-swemmer het met ’n goeie eindpoging vorendag gekom om swembadwater in haar teenstanders se oë te skop.

“Ek droom al my hele lewe daarvan om my land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en ek kan ongetwyfeld sê dat ek nog nooit so opgewonde was nie!” het sy destyds vir Maroela Media gesê toe sy vir die Spele gekwalifiseer het.

  • Vinnigste tye:
  1. Tatjana Schoenmaker 2:19:16
  2. Lily King 2:22:10
  3. Evgeniia Chikunova 2:22:16
  4. Kaylene Corbett 2:22:48

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pim

Dis fantasties! Wel gedaan Tatjana.

Marius Gerhardus

Baie goed dame. En as ek mag… Jy het n lieflike smile. Iets meti rekord te doen? Nogmaals baie geluk en mag jy die eind rondte selfs beter vaar.

Frank

Hierie sussie KAN!!!!

piet

Swem die tiener wat haar geklop het in die 100m ook in hierdie item? Indien wel, sal ek maar enige kommentaar vir myself hou tot na die finaal.

piet

Pasop vir die Lydia Jacoby nagmerrie.