Taxi aangeval; ‘snelwegrower’ doodgeskiet

Die taxi waarbinne die slagoffers doodgeskiet is.

(Foto: AP Photo)

ʼn Vermeende snelwegrower is Sondag op die N12 naby Sundra in Mpumalanga doodgeskiet nadat hy passasiers glo van hul besittings beroof het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, was ʼn Quantum GL tiensitplek-taxi van Gauteng op pad na Mpumalanga toe die betrokke opsporingsmaatskappy die taxi se brandstoftoevoer afgesny het wat die taxi tot stilstand gebring het.

“Die bestuurder wat ook die eienaar van die taxi is, het uit die taxi geklim terwyl hy die opsporingsmaatskappy probeer bel het. Hy het glo vergeet om hulle [die opsporingsmaatskappy] in te lig dat hy na Mpumalanga reis.

“Vier mans het skielik verskyn en gemaak of hulle hulp wil aanbied. Twee van die mans het glo skielik daarna die passasiers met vuurwapens begin dreig terwyl die ander twee die taxi binnegedring het en selfone, sakke en geld van die passasiers geëis het,” sê Mohlala.

Hy sê nadat die boewe die items gebuit het, het die verdagtes te voet van die toneel in die bosse in gevlug. Die eienaar het daarna ʼn paar skote in hul rigting afgevuur.

“Die polisie is direk daarna na die toneel ontbied. Tydens ʼn ondersoek is die liggaam van ʼn man – met ʼn skietwond aan die agterkant van sy linkeroor – aangetref. Twee selfone is ook langs die oorledene gevind.”

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes wat nog op vrye voet is. Die polisie is ook steeds op soek na familielede van die oorledene om hulle van sy dood in kennis te stel.

“Enigiemand met inligting kan die teenmisdaad-nommer by 08600 10111 bel, alternatiewelik kan lede van die publiek inligting via die MYSAPSAPP stuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Manie ·

Hy het hoogs waarskynlik groot probleme wat voorlê, want hy het ‘n vlugtende rower van agter geskiet terwyl sy lewe nie meer in gevaar was nie.

Nico ·

Waarom word woorde soos vermoedelik, waarskynlik, en die woord glo, so baie gebruik, is die waarheid of nie.

George ·

Tot dit nie in die hof is nie, of enige arrestasie nie, is dit net aantuigings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.