Taxi-bestuurder ry Comrades-drawwer raak

Argieffoto

Argieffoto

‘n Klag van roekelose en/of nalatige bestuur is teen ‘n taxibestuurder gemaak nadat hy Melany Delaney (28), ‘n atleet van Pretoria, Maandag raakgery het.

“Dié klag is skreiend onvoldoende en ‘n klag van poging tot moord moet teen hom ondersoek word omdat hy doelbewus ‘n verkeerswet oortree het, het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, in ‘n verklaring gesê.

Die VF Plus het gesê volgens Beeld is Delaney, ‘n arbeidsterapeut, aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en het dalk breinskade opgedoen nadat sy in Stanza Bopapestraat (die ou Kerkstraat) in Arcadia, Pretoria, deur die taxi getref is. Sy het vir die Comrades geoefen.

“Volgens ooggetuies het Delaney by ‘n rooi verkeerslig gestaan en wag tot dit na groen verander voordat sy begin hardloop het,” het Alberts verduidelik. “Die minibustaxi het van die teenoorgestelde rigting gekom en haar teen ‘n hoë snelheid getref.”

Adv. Alberts sê die totale gebrek aan die nakoming van verkeersreëls is die gevolg van onvoldoende strawwe wat geensins as afskrikmiddel dien nie.

“In hierdie geval is dit duidelik dat die persoon nie van plan was om by die rooi verkeerslig stil te hou nie en daarom moes voorsien dat hy iemand kon dood of ernstig beseer en homself met daardie moontlikheid versoen het. ‘n Blote klag van roekelose en/of nalatige bestuur is daarom nie voldoende nie. Die VF Plus gaan derhalwe ‘n versoek aan die vervolgingsgesag rig om ‘n klag van poging tot moord aanhangig te maak,” het Alberts bygevoeg.

Hy sê die persoon het boonop weggejaag en hy is nog nie in hegtenis geneem nie. “Dit moet verswarend teen hom tel met vonnisoplegging,” aldus Alberts. “Die voorval herinner aan een waar die 16-jarige Bernadine Kruger van Pretoria dood is toe ‘n taxi haar op haar motorfiets raakgery het.” In hierdie geval is die taxi-bestuurder, Percyval Matji, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die hof bevind het dat hy haar met opset gevolg en raakgery het. “Die klag was van strafbare manslag na moord verander nadat die VF Plus ‘n versoek daaroor aan die vervolgingsgesag gerig het,” het Alberts bygevoeg.

“Dit het tyd geword dat wetteloosheid op ons paaie met swaarder strawwe gestuit word. Solank vonnisse nie as afskrikmiddel dien nie, sal die slagting eenvoudig voortduur,” sê Alberts. “Daarom moet die staat ernstiger klagtes teen bestuurders lê waar die omstandighede dit toelaat. Die VF Plus sal ‘n blywende rol daarin speel om te verseker dat ons paaie veiliger word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rentia ·

Taxi bestuurders steur hul doodeenvoudig nie aan verkeersreëls nie, ek stem, hy moet aangekla word van poging tot moord.

Mens kan net hoop en bid dat sy geen breinskade opgedoen het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.