Taxi-betoging: Vermy dié strate môre

Argieffoto

Die Tshwane-metropolisie het bevestig metrobeamptes sal Woensdag ontplooi word om ʼn protesoptog in Pretoria deur lede van die Nasionale Taxi-alliansie (NTA) te monitor.

Maroela Media het vroeër berig Alpheus Mlalazi, die NTA se hoofsekretaris, het gesê die optog is genoodsaak deur Joe Maswanganyi, die minister van vervoer, se versuim om ag te slaan op verskeie probleme wat die taxibedryf ervaar. Dié probleme sluit glo in diskriminasie en uitsluiting van openbare passasiersvervoersubsidies, swak stelsels om operasionele lisensies te verkry, misdaad en die goedkeuring van “swak deurdinkde wetgewing” soos aspekte in die AARTO-stelsel.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die optoggangers sal van 09:00 by die ou Putco-busdepot in Marabastad bymekaarkom. Van 11:30 sal hulle via Strubenstraat begin beweeg na Maswanganyi se kantoor op die hoek van Bosman- en Strubenstraat waar hulle om 12:00 ʼn memorandum sal oorhandig. Van daar af sal hulle regs draai in Nelson Mandela-straat en dan links in Madibastraat waar hulle om 13:00 ʼn memorandum by die Uniegebou sal oorhandig.

Die optog sal deur Madibastraat, Nelson Mandela-straat en Johannes Ramokgoase-straat terugbeweeg na die busdepot in Marabastad.

Motoriste word aangeraai om die genoemde strate te vermy en eerder van Nana Sita-, Francis Baard- en Boomstraat as alternatiewe roetes gebruik te maak.

Intussen het Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, ouers gemaan om voorsorgmaatreëls te tref en hul kinders se veiligheid te prioritiseer te midde van die taxi-staking. “Dit is belangrik om uit te wys dat hierdie staking tydens ons kritieke eksamentydperk plaasvind en daarom sal leerders nie benadeel word deur ʼn gebeurtenis wat buite hul beheer is nie,” het Mabona gesê.

“Alle hoofopsieners sal help deur gr. 12-leerders wat dalk laat mag wees om hul eindeksamenvraestel te skryf, die geleentheid te gee om laat met hul vraestel te begin. Die departement sal die nodige voorskrifte aanwend vir enige leerders wat dit dalk nie maak tot by die eksamenlokaal nie. Hoofopsieners sal ook hul diskresie gebruik om leerders by alternatiewe eksamensentrums te akkommodeer,” het Mabona gesê.

Hy het ʼn beroep op ouers gedoen om betyds alternatiewe vervoerreëlings vir môre te tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DD ·

Snaaks hoeveel klagtes daar was omdat boere op Black Monday matrieks verhoed het om eksamen te skryf. Nou is die skoen aan die ander voet en skielik is hulle geensins bekommerd daaroor nie. Dubbele standaarde is SA se leuse deesdae.

Wit vlaggie ·

Toe ek vinnig kyk, sien ek tax-betoging…Het amper bly geword!!

Willie ·

Waar kla ons oor die Taxi’s se swak optrede, stop waar hul wil, tel op waar hulle wil, ry in aankomende bane…moet ek aangaan?

Penellope Jones ·

So dis heeltemal aanvaarbaar dat hulle strate kan blok ens?
Ai, die “Double-Standard-South-Africa.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.