Taxi-geweld duur voort in Moederstad

Die Kaapse verkeersdiens het beslag gelê op talle minibustaxi’s. (Foto: Verskaf)

Owerhede in Kaapstad sê hulle werk daaraan om die voortdurende taxi-geweld in die Moederstad hok te slaan nadat taxi-verwante moorde en misdade sedert verlede week die hoogte ingeskiet het.

ʼn Metropolisiebeampte is verlede week by ʼn informele nedersetting in die stad geskiet, terwyl busse en ander openbare vervoer gebuk gaan onder skietgevegte en brandstigtings. Die polisie is steeds besig om verskeie sake van moord en poging tot moord wat verband hou met dié geweld te ondersoek.

Volgens JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, doen owerhede alles in hul vermoë om die situasie te beredder nadat ʼn vredesbelofte wat voor verlede week deur die Wes-Kaapse regering en taxi-verenigings onderteken is, verbreek is.

“Die afgelope paar dae het beamptes vyf inhegtenisnemings gemaak wat verband hou met dié geweld en talle vuurwapens is gevind.”

Die Kaapse verkeersdiens het ook die afgelope week beslag gelê op 44 taxi’s wat onwettig bedryf word of die voorwaardes van hul bedryfspermitte oortree het. Dié syfer is egter laer as gewoonlik, aangesien baie taxi-operateurs hul dienste tydelik opgeskort het.

Desnieteenstaande het die polisie die afgelope jaar op 6 688 openbare vervoermiddels, waar onder minibustaxi’s, beslag gelê.

“Maandagaand het metropolisiebeamptes en ander wetstoepassers busse begelei om te verseker dat pendelaars veilig tuis kom. Owerhede sal voortgaan om hulp aan pendelaars te verleen,” het Smith gesê.

“Die Stad Kaapstad doen egter ʼn beroep op mededingende taxi-verenigings om ʼn volhoubare oplossing vir hul verskille te vind wat reeds soveel tyd, geld en lewens gekos het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek’s seker daar is die meeste ongelisensieerde wapens! Taxi mafia op hul eie…

Keelvol ·

Die slagoffers moet maar eise teen die DA instel. Versuiming om hulle te beskerm.

Boon ·

JP Smith weet wat die probleem.is, maar kry nie Valke se samewerking nie. Die taxibedryf is in die hande van mafia base. Dis hulle wat nou baklei.met mekaar. Maar omdat hulle n monopolie op vervoer verkry het deur afdreiging, moord en omkopery, is alle publiek vervoer verlam en gekaap. Dus verlam ‘n hand vol mafia die hele Kaapstadse ekonomie. TREE asb sterk op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.