Taxi-geweld: Roete vir twee maande gesluit

(Foto: Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR van vervoer en openbare werke/Twitter)

In die lig van onlangse taxigeweld sal die Wes-Kaapse staande komitee oor vervoer en openbare werke Donderdag vergader.

“Dit is belangrik om die werk van alle rolspelers te monitor om die geweld tot ʼn einde te bring sodat pendelaars veilig kan reis,” sê Ricardo Mackenzie, woordvoerder van die komitee. “Ons het ook begrip dat die kwessies wat deur die taxibedryf in die gesig gestaar word, nie in ʼn silo beskou kan word nie. Ons het ʼn breër siening nodig van die posisie van openbare vervoer in sy geheel in die Wes-Kaap, want ons prioriteit bly inwoners se veiligheid en gerief vir gemeenskappe.”

Mackenzie sê Stad Kaapstad, die nasionale departement van vervoer, Prasa, Santaco, die SAPD, Golden Arrow, die LUR van gemeenskapsveiligheid Albert Fritz en sy departement en die LUR van vervoer en openbare werke Daylin Mitchell en sy departement, is ook genooi om aan die vergadering deel te neem. “Al dié belanghebbendes het groot belangstelling getoon in die vergadering en ʼn bereidwilligheid om vorentoe te beweeg tot voordeel van almal in die provinsie.”

Hy sê die komitee ondersteun Mitchell en Fritz, premier Alan Winde en nasionale minister Fikile Mbalula se pogings om alle belanghebbendes in die taxibedryf om die tafel te kry vir onderhandelings. “Ondanks dié toewyding en beskikbare onderhandelingshulpbronne, is dit betreurenswaardig dat taxiverenigings nog steeds nie ʼn ooreenkoms kon bereik vir roete B97 (tussen die Paarl en Bellville) nie.”

Volgens Mackenzie word minister Mitchell se ferm besluit, om die betrokke roete te sluit, geloof. “Alhoewel ons almal dit wou verhoed, kan ons nie duld dat die boewery van ʼn paar mense ander se lewens in gevaar stel nie.”

Golden Arrow het intussen met die regering ʼn vennootskap aangegaan om bykomende ritte vir die betrokke roete beskikbaar te stel. Pendelaars sal ook van bestaande Metrorail-treindienste tussen Bellville en die Paarl gebruik kan maak.

“Ons sal dié verwikkelings dophou en sien uit na ʼn produktiewe gesprek met leiers in die openbarevervoerbedryf.”

Mitchell het gesê die B97-roete tussen die Paarl en Bellville word vanaf 26 Julie 2021 vir twee maande gesluit. Twee taxistaanplekke in Mbekweni (die Paarl), sekere plaaslike bane by die Bellville- openbarevervoerwisselaar (PTI), die langafstand-fasiliteit by die Bellville-PTI, die “Paint City”-taxistaanplek in Bellville en ʼn informele taxistaanplek in Bellville is ook vir twee maande gesluit vir minibustaxi’s.

Mitchell sê dié buitengewone besluit is geneem om die geweld te beëindig tussen mededingende taxiverenigings wat reeds die lewens van 24 mense geëis het en waartydens minstens 29 beseer is en om grootskaalse ontwrigtings aan openbare vervoer in die streek te hanteer.

Pogings om die konflik op te los, was tot dusver onsuksesvol. Die plaaslike Paarl Alliance-taxivereniging (Pata), wat ʼn filiaal is van Codeta (Congress of Democratic Taxi Associations), en Cata (Cape Amalgamated Taxi Association) Boland dring albei aan op regte om die B97-roete te beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

miavos ·

Dis ‘n goeie besluit. Leef en laat leef. Die taxibedryf moet dit nog leer.

Boon ·

DA doen uitstekend om oplossings op langtermyn te onderhandel.. taxi base moet leer geweld is nie die oplossing nie

Samuel ·

Baie goeie besluit. Taxi’s het lank genoeg ons paaie regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.