Taxi los kleuter alleen in ‘hoë-misdaadgebied’

ʼn Lid van Rusa, Angel Mpiri, het Isiphile na Cottonlands geneem waar sy ʼn vrou ontmoet het wat haar meegedeel het dat sy die kind ken (Foto: Rusa)

ʼn Vyfjarige seun van Verulam, KwaZulu-Natal, is Maandag langs die pad afgelaai nadat hy nie sy rit huis toe kon betaal nie. Die seun is intussen met die hulp van lede van die Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) met sy gesin herenig.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van die Rusa, het inwoners van Station Park in Canelands, Verulam, Rusa omstreeks 15:00 gekontak oor die seun wat stoksielalleen langs die pad gesit en gehuil het. Die seun is later geïdentifiseer as Isiphile Jamangile.

Balram sê volgens inligting wat hulle ontvang het, is Isiphile van die taxi “afgeskop” nadat hy die bestuurder van die minibustaxi meegedeel het dat hy nie sy taxi-geld sal kan betaal nie. Hy sê die gebied waar Isiphile afgelaai is, word as ʼn hoë-misdaadgebied bestempel.

“Ons het probeer om meer inligting by Isiphile te kry om hom veilig huis toe te neem. Hy kon egter geen inligting oor die ligging van sy huis, in watter skool hy is of enige van sy ouers se besonderhede verskaf nie,” vertel Balram. “Ons het ’n boek in sy tas gevind, wat bevestig het dat hy ’n gr. R-leerling is.”

Isiphile is omstreeks 17;00 met sy gesin herenig (Foto: Rusa)

Rusa se lede het na sy gesin begin soek en hy is omstreeks 17:00 met hulle herenig. ʼn Inskrywing oor die voorval op Rusa se Facebookblad het ongelooflike reaksie ontlok. Besorgde mense van wyd en syd het hul misnoeë oor die situasie uitgespreek en ook hul hulp aangebied.

Volgens Balram het Rusa tot 60 oproepe ontvang van mense wat aangebied het om geld te stuur. Daar was ook mense wat aangebied het dat Isiphile by hulle bly totdat sy ouers gevind is.

“ʼn Lid van Rusa, Angel Mpiri, het Isiphile na Cottonlands geneem waar sy ʼn vrou ontmoet het wat haar meegedeel het dat sy die kind ken. Sy het Mpiri aanwysings tot by Isiphile se huis gegee waar hy toe weer met sy gesin herenig is.”

Balram vertel Isiphile was nie veronderstel om die taxi huis toe te neem nie en het daarom nie taxi-geld gehad nie. Hy het ʼn ander leerder ná skool gevolg en saam met hom in die taxi geklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Androclus ·

Daar is nie medikasie vir daardie taxi driver nie.(Dom verby)

Sêmanet ·

Ek hoop sy enjin gee in, en hy verloor sommer baie geld. Net oor sy selfsug.

Tania ·

Ek gaan haal my werkers se kinders in Olivenhoutbos, ek ry nou die dag, 3 Kinders seker so 4jaar en 2 jaar en ‘n ouer seun van so 13 wil oor die pad kom. Ek kyk toe rond en sien niemand aankom nie. Ek wys toe vir hulle ek sal wag dat hulle gou oor hardloop. Volgende oomblik kom daar ‘n taxi en ry hulle amper raak en hy het die cheek om vir hulle te toot en te skree vir hulle nadat hy oor die stop straat gery het???????

Chanel ·

Ja nee Tania, hulle dink mos die pad behoort net aan hulle.

Charmain ·

Ai so jonk en weerloos…dit is hartseer dat so n jong kind aan sy eie genade oorgelaat word sonder behoorlike reelings in plek om hom by die skool & huis te kry

Sandra ·

Aai julle, hy is dan nog so klein. Hy verstaan mos nou nie die sisteem nie. Daardie taxi bestuurder sal dubbel verloor wat dit sou kos om die kind te vervoer. Hoekom kon niemand in die taxi net sy geldjie betaal het nie. En al weet hy nie waar hy bly nie, hom liewer veilig kon hou tot sy ouers opgespoor kon word. Die wereld is besig om mal te word. Hulle jaag Mamon. Rusa, dankie dat julle omgee.

Antjiepat ·

Ag nee hel man dis ‘n kind, magtig! As daardie kind nou vermis geraak het, dan sou die taxi drywer net sy skouers opgetrek het… nee maggies man.. kyk na ons land se kinders..

E ·

Ek dink as die kind nie eers sy huis adres of ouers se sel no of name kon gee nie,m het die taxi drywer moontlik homself van ‘n onaangename situasie gered. Want hoe sou hy kon veduidelik hy ry met ‘n kind wat geen geld het nie en ook weet die taxi drywer nie eers waar hy hom moes aflaai nie. Net nou het hy ‘n saak van kinder ontvoering. Kinders moet van baie kleins af verduidelik word hulle kan nie net saam met maats gaan omdat hulle wil nie. Ook moet ‘n kind baie klein geleer word wat sy area of straat se naam is, Ek dink die kind moes seker deur ‘n familielid gehaal word. Verder moet sy ouers sy klere en tas merk met name sel nommers en ook adres. Hulle weet dan hy is klein.

Antjiepat ·

al ooit gedink dat die taxi drywer hom na die naaste polisie stasie toe kon gevat het vir veiligheid?? net sooo bietjie verder gedink het…

Mariana ·

Daai taxidrywer kort ‘n paar warm klappe verdomp! Arme kind moes baie bang en alleen gevoel het en wat kon nie als met hom gebeur het nie. Bly hy is herenig met sy gesin en ek hoop sy ouers verduidelik hom mooi oor al die gevare en miskien moet hulle net ook sy naam, adres en tel no iewers in sy tas of klere skryf.

Fedup ·

By the look on that little one’s face, that taxi driver will get it if he see him again.

Louise ·

Nee genade, hoe word so klein kind oorgelaat in sy eie genade.
Ek dink kinders wat so alleen loop, moet sommer n arband of iets kry wat darm n nommer en adres op het of tenminste die skool se naam of area.
Wat het van menslikheid geword!

Anoniem ·

Dit wys net weer hoe waardeloos hulle ‘n lewe ag, hul eie mense maak nie eers saak nie.

Anoniem ·

Hoe op deesaarde kan ‘n volwassene ‘n 5 jarige kind afskop omdat hy nie genoeg geld het nie.
Nou waar is al die oranisasies wat so gerieflik hul eie wette maak, maak dan tog asseblief wette vir die Taxi’s ook.

Cecilia ·

My enigste raad aan jong ouers is:
Dis lewens belangrik dat kinders op n jong ouderdom (myne al op 4jr) d ouers se tel nr ken en sy adres.
As jou kind nie dit kan onthou nie. Skryf dit asb erens in sy tas of laat hom n armbandjie ( soortgelyk aan n alergie waarskuwing) drae met d besonderhede.

Maar dit gaan my verstand te bowe dat ouers sulke klein weerlose lyfies met taxis skool toe stuur.

Moedeloos ·

Ouers het geen keuse nie. Nedersettings is taxi ry al vervoermiddel. Baie skole het nie busdienste en ouers het nie karre nie so hoe moet die kinders by die skool kom. Ek stem dat alle kinders bandjies moet dra met hul inligting daarop. Ek kry hierdie kinders so jammer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.