Taxi-operateurs eis Ekurhuleni-burgemeester se kop

Bhuti Johannes Mahlangu, sekretaris van die Ekurhuleni-taxibedryf (Foto: Brenda Masilela /ANA)

Honderde taxi-operateurs van Ekurhuleni het pendelaars Dinsdag gestrand gelaat toe hulle na die kantoor van die munisipale raad opgeruk en geëis het dat burgemeester Mzwandile Masina en die stadsbestuurder binne 30 dae afgedank moet word.

Die taxi-operateurs het gesê Masina het versuim om dienslewering te verseker en hulle is nou moeg vir die oneindige konstruksie van die snelbusdiens (BRT-stelsel).

“Indien die raad versuim om die burgemeester en die stadsbestuurder af te dank, sal dit lei tot die ontwrigting van ʼn volhoubare en voortgesette vervoerdiens,” het Bhuti Johannes Mahlangu, sekretaris van die Ekurhuleni-taxibedryf (ETI), gewaarsku.

Mahlangu het gesê die betoging was hul laaste opsie nadat hulle die afgelope twee jaar al sukkel om die aandag te kry van die burgemeester en die stadsbestuurder. Volgens hom reageer nie een van hulle op hul briewe nie.

“Hy stel nie belang daarin om die ekonomiese ontwikkeling in ons vervoerbedryf te bevorder nie. As ons hom nie kan bereik nie, dan is daar geen ander opsie nie as om te betoog en ʼn memorandum te oorhandig.”

Deel van die griewe in die memorandum is dat hulle ʼn permanente hoof van die departement van vervoer wil hê, omdat hulle al sedert 2015 sewe verskillende hoofde van die departement gehad het, het Mahlangu verduidelik. “Daar is geen kontinuïteit nie, ons sal die saak met ʼn betrokke hoof bespreek en voor ons ons oë uitvee, is daar weer ʼn nuwe een en ons moet alles weer van voor af vir hom verduidelik. Dit is uitputtend. Ons wil ʼn permanente hoof hê.”

ETI het Masina daarvan beskuldig dat hy politiek na die Harambee BRT-stelsel bring en gesê daar is geen vordering nie. Die organisasie het ook gesê hy wil hê pres. Cyril Ramaphosa moet ingryp en gewaarsku dat “ʼn verskerpte aksie, afhangende van hoe hulle reageer op die memorandum” sal plaasvind.

Joe Mojapelo van die Ekurhuleni-stadsraad het die memorandum aanvaar en beloof om die kwessies te hanteer wat aangeroer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Lekker man lekker. Ek ry n TAXI. Veroorsaak chaos op paaie. Is n doodskis op wiele Dra nie n SENT belasting by nie… nevermind Tilgeld. Maar ekndemand en ss voor wat wanneer en hoe. ANC skoothindjies bedryf wat byt en blaf as hulle nie hulle sin kry nie.

snoefie ·

laat hulle n volhoubare staking volhou. fire diegene wie nie kom werk nie en kry locals om die werk te doen.

Gerrit ·

Bou meer snel busdienste , verbeter die trein en munisipale busdienste sodat mense nie hoef die taxis te gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.