Taxi ry hoërskoolseun van sy fiets af

Henry Garnett-Bennett (Foto: Verskaf)

Dokters is positief oor die 14-jarige Henry Garnett-Bennett se herstel nadat hy Woensdagoggend op sy fiets deur ʼn minibustaxi in Centurion raakgery is.

Henry, ʼn gr. 8-leerder aan die Hoërskool Zwartkop, het die oggend oudergewoonte om 06:00 op sy fiets skool toe vertrek. By die kruising van Mopanistraat en die Ou Johannesburgpad wat by sy skool is, wou Henry regs draai toe die minibustaxi hom van agter af aan die linkerkant getref het. Henry se kop het die taxi se ruit getref.

Henry se pa, Dirk (51), sê volgens ooggetuies het sy seun se kop blykbaar die taxi se ruit so hard getref dat die ruit versplinter het.

“Henry is met die slag van sy fiets afgeslinger en hy het in die pad geval. Sy fiets se agterwiel is morsaf gebreek en sy voorwiel is gebuig,” vertel Dirk.

Die minibustaxi wou glo van agter af verby stilstaande verkeer ry en in die proses het hy Henry getref.

“Binne sekondes was onderwysers en bystanders wat die ongeluk gesien het daar om Henry by te staan. Zwartkop se skoolhoof was ook een van die eerstes op die toneel en het dadelik die ambulans ontbied. Hulle was binne ʼn oogwink op die toneel.”

Dirk sê sy vrou, Annerie (45), was omstreeks 06:30 op die toneel en het saam met Henry in die ambulans na die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria gery.

Henry is sowat 08:00 in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid (ICU) opgeneem en die dokters het breinskanderings gedoen. Hulle het bepaal dat Henry ʼn skedelfraktuur asook swelling en bloeding op die brein het.

Hy is tans by sy volle bewussyn en is steeds in die intensiewe sorgeenheid. Hy hoef in hierdie stadium nog geen operasie te ondergaan nie.

“Vandag gaan dit al beter as gister. Hy kan al rondloop en het gelukkig geen been gebreek nie. Hy word nog noukeurig deur die dokters gemonitor.”

Volgens Dirk het Henry se skooltas sy lewe gered.

“Hy het op sy skooltas geval wat gekeer het dat sy kop die teerpad tref. Dit was ʼn haarbreedte tussen lewe en dood.”

Die polisie is na die ongeluk na die toneel ontbied, maar hulle het eers twee uur daarna opgedaag en volgens Dirk wou die taxibestuurder intussen al die toneel verlaat.

“Van die bystanders het die taxibestuurder op die toneel probeer hou totdat die polisie daar aangekom het. Toe die polisie daar aankom, het hulle die bestuurder laat gaan en gesê sy lisensie is geldig.”

Dirk en sy vrou het ʼn saak by die Wierdabrug-polisiestasie aanhangig gemaak.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie oor die ongeluk gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Dirk sê hulle gesin was geweldig geskok nadat hulle die nuus van die ongeluk ontvang het, maar is baie dankbaar dat Henry vir hulle gespaar is en dat dit al beter met hom gaan.

“Ons het deur en deur net genade ontvang. Ons is vol vertroue dat hy volkome sal herstel.”

Hy is baie dankbaar vir die gemeenskap en skool se ondersteuning die afgelope twee dae.

“Die skoolhoof bel my gereeld om te hoor hoe dit gaan. Mense van heinde en ver, wat ek nie eers regtig goed ken nie, kontak my om hul ondersteuning te bied. Ek het nuwe respek vir die mensdom gekry en besef hulle harte is nog vol van omgee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Gerhard ·

Ek ry elke oggend daai pad om my seuns af te laai . Elke oggend ry die taxis dubbel op die skouer verby … elke oggend druk hulle voor verkeer in .. hulle ry teen die verkeer op langs die skool … hulle druk op n voetoorgang vir leerders voor die verkeer in op strepe … dis n totale gemors op daai ent pad .. kla by die stadsraad .. dan is dasr verkeersbeamptes 1 dag daar .. en dan is ons terug op die ou maniere …

Inkpot ·

Hulle moet beboet word en die boete onmiddellik betaal of hulle sleutels moet weggevat word totdat die boete betaal is.
Dis hoe dit in Botswana werk en daar is nie sulke wetteloosheid nie.

Hexadane ·

Ek ry ook elke oggend die ou jhb pad verby die skool. Mens word letterlik van die pad afgedwing as die taxi’s voor jou wil indruk. Hoekom laat ons die tipe goed toe? Ek verstaan hulle raak geweldadig ens. Maar ons lewens is ook ingedrang as ons niks doen nie. Boetes help nie hulle betaal dit net eenvoudig nie. Hulle moet op die kol hulle lesensies verloor en die taxi moet geskut word.

Persheks Adri ·

Ons bid saam met julle! Maroela hou ons op hoogte asb

Mary Charlotte ·

Wat my stomslaan, is dat hy, die taxi, die motors verbysteek op skouer van die pad, is dit nie teen die padreëls nie? en word laat gaan, want sy lisensie is geldig?

Diets ·

Ek is ook stomgeslaan….en ons aanvaar dit maar want ons is in die minderheid en soek nie drama en moeilikheid nie….ai????????

Boksombende ·

Watse reëls is daar in Suid Afrika? Bitter min mense in die staat volg reëls, en die man op die straat sien wat hierdie mense doen en boots hulle na. Almal doen wat goed is in hull eie oë (Rigters 21:25).

Mariana ·

Met ander woorde as jou lisensie geldig is mag jy ‘n kind van sy fiets afry of dalk ‘n voetganger tref. Jy mag dan ook ry soos ‘n besetene……solank daai lisensie net geldig is en jy ‘n taxibestuurder is……..het daai polisie in ag geneem dat daardie seun kon dood gewees het. Hoe kan mens die einste mense wat jou moet beskerm vertrou as hulle so optree. SA is regtig in die moeilikheid met sulkes.

Jandup ·

Nee Mariana jy verstaan verkeerd. Onthou net dat die taxis spesiale voorrregte het. Hulle skryf selfs aan die regering voor hoe die dinge moet en mag werk. Ons as wetgehoorsame burgers sal dadelik toegesluit wees.
Die SAPS is te bang om teen die taxi bestuurders op te tree en so ook verkeers departemente reg oor die land.

Johan ·

Gooi maar die bakkies en fortuners ook in daai sin saam, ten minste kyk die Taxis nie nog op hul selfone ook nie..

Inkpot ·

Dis omdat die verdomde taxi’s geen padreëls gehoorsaam nie en ry net soos hulle wil.
Hulle is aggressiewe bestuurders vir wie almal net moet padgee.
Dis hulle wat die meeste ongelukke veroorsaak.
Die polisie en verkeerspolisie sien hoe roekeloos hulle is, maar doen niks. Hoekom sit hulle nie by kruisings en beboet hulle daar en dan nie. Hulle weet mos watter gevaar taxi’s op die paaie is.

TRP ·

So as jou lisensie geldig is kan jy maar kinders dood ry? Ok, klink reg. GESKOK.

Sterkte Henry, mag jy spoedig herstel, ek dink aan jou en jou ouers. Jammer dat dit met jou moes gebeur het.

Riaan ·

Wierdabrug-polisiestasie is bekend vir hulle patetiese diens, en korrupte lede.

Toktokkie ·

Kan almal asb hierdie petisie teken. Ons moet begin om druk toe te pas dat die nodige mense hul werk doen om die veiligheid van kinders op daardie provinsiale pad te verseker. Die beste ding daar sal eintlik ‘n voetoorgang brug wees, as hulle dit oor snelweë kan aanbring naby townships kan hulle dit by skole ook doen.

://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLSeMdBstWbubCqTTyY1wbUoT7Rw9uxg30wHdT1tiSwTVFPoPwg/viewform?usp=sf_link

Chantz ·

Daar gaan absoluut niks van dit kom nie want ons velkleur is nie reg nie…ongelukkig.

Kompas ·

Baie bly dit gaan beter met die seun. Wat my stomslaan is dat die taxi- bestuurder nie aangekla word van roekelose bestuur nie, maar blykbaar het die taxi’s ń ander stel padreëls as ons gewone landsburgers.

Mallie ·

Henry sterkte en n vinnige herstel word jou toe gebid. Sterkte aan die ouers. Sit n eis in teen die taxi vereniging, want daar is mediese kostes wat betaal moet word. Die padongelukke fonds is bankrot soos die res van Suid Afrika.

Sonneblomkind ·

Ons bid saam vir julle. Ek hoop die Polisie tree streng op teenoor die Taxi bestuurder.

Johan ·

Volgens die wet, as jy iemand van agter af tref, is jy skuldig. Daai is roekeloos en nalatig. Hoe kan die polisie net die drywer laat gaan? Maar laat daar net n sjampoo advertensie uitkom, dan is almal in rep en toer. Regtig?!?! Ek meen REGTIG?!?!?! Kan ons nie maar net die ANC uitkry en ons land weer regruk nie? Genoeg is genoeg. Daai kind het OOK n toekoms in die land en hy het ook regte. Dank die Vader hy is ok.

NetM ·

Ek dink van die mense van Centurion wat nie so vroeg by die werk moet wees nie moet oral op die skouers van die ou Jhb pad gaan staan in die oggende. Die ander motoriste sal dan forseer wees om op die pad te bly.

pompies ·

Die taxi’s word deur die ministers en hulle trawante besit, so moet nie julle asems ophou vir enige verbetering as ditr by hulle kom nie. Hulle is gemagtig om te doen net wat hulle wil.

Anoniem ·

Nee wat As enige persoon ‘n Taxi wil hê vra maar net vir Ramaphosa. Dit word verniet weggegee vir enige een wat wil jaag !!!

JohanR ·

Soe ‘n skoolseun moet eers dood wees, en ‘n taxi bestuurder se lisensie ongeldig wees voordat daar ‘n saak gemaak word? Wat ‘n land! Was die polisie en taxi bestuurder groot pelle?

Juls ·

Die polisie het hom laat gaan en gese sy bestuursbewys is geldig??????????????????????!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Medepligtiges!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Nonnie ·

….. En NIKS sal met die taxibestuurder gebeur nie, want dis ‘n blanke kind wat raak gery is…….. ????????

Johan ·

Hier in Lyttelton ry mense ook maar soos mal goed, gaan een van die dae hier ook n kind raakry. Dan stop hul nog op die fietsbaan ook wat die mense in die pad in druk. Gaan kyk bietjie in Selbourne Ln en Dorinkloof by AL die skole….skande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.