Taxi-staking: Busdienste nou onbepaald opgeskort

Foto: http://myciti.org.za/

Die stad Kaapstad het Maandagmiddag laat hoor dat hulle die MyCiti-busdiens in Khayelitsha vir ʼn onbepaalde tyd opgeskort het.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het gesê dit kom nadat drie MyCiti-busse met klippe bestook is en twee Golden Arrow-busse aan die brand gesteek is.

“Twee MyCiti-busse is aangeval op pad na die Kuyasa-stasie in Khayelitsha en ʼn derde is langs die N2 met klippe bestook net voor die dienste opgeskort is,” het Herron gesê.

Volgen Herron is niemand beseer nie, maar is minstens vyf busvensters stukkend geslaan tydens die aanvalle.

“Die aan die brand steek van die twee Golden Arrow-busse blyk direk verwant te wees aan die besluit van die taxi-industrie om hul dienste te weerhou.”

Maroela Media het vroeër berig lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is in verskeie dele van die Wes-Kaap ontplooi om wet en orde te handhaaf tydens die staking deur die taxi-operateurs vanoggend.

Volgens Herron is die dienste tot verdere kennisgewing opgeskort om die veiligheid van hul bates, personeel en pendelaars te verseker.

Hy het die geweld wat met die stakingsaksie gepaardgaan ten sterkste veroordeel. Hy het gesê die pendelaars loop die ergste deur onder die staking en gaan nou óf laat by die werk aankom óf glad nie kan werk en ʼn inkomste verdien nie.

Die staking gaan na wat verneem word oor die leierskapsdispuut by die South African National Taxi Council (Santaco) se provinsiale tak.

Hy het MyCiti-pendelaars van ander omgewings gewaarsku oor moontlike vertragings en diegene wat van taxi’s gebruik maak gewaarsku om alternatiewe planne te maak wat vervoer betref. Hy het ook ʼn beroep gedoen op die taxi-industrie om die dooiepunt so gou moontlik op te los.

Pendelaars kan MyCiTi se webtuiste by www.myciti.org.za besoek, hulle op Twitter by  @MyCiTiBus volg, of die Vervoer-inligtingsentrum by 0800 65 64 63 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Treine, Busse ens ens ens. Alles word afgebrand. Wonder wat dink die buitelandse beleggers van die opset.

Nita ·

Uit verskillende oorde word georkestreerde pogings aangewend om die land onregeerbaar te maak en in chaos te dompel. Busse en treine word uitgebrand sodat taxis weer kan koning kraai. Stakings veroorsaak werkverliese. Grondbesetters begin nou al gryp waar hulle kan. Waar gaan dit alles eindig?

Ettienne ·

Ai man, dis so skattig wanneer iets veroordeel word, “ten sterkste” nogal. Was daar al een geval waar hierdie “ten sterkste” veroordeling iets vermag het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.