Taxi-staking: Byna 200 klagtes reeds aangemeld

(Foto: JP Smith/Facebook)

Daar is teen Woensdag reeds altesame 198 strafregtelike klagte by die polisie aanhangig gemaak in verband met die ontwrigtende taxi-staking wat die afgelope week chaos in Kaapstad en omliggende gebiede veroorsaak het.

Die klagte wissel van moord, poging tot moord, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging tot aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, moedig mense wat enige vorm van verlies of skade ervaar of beserings opgedoen het, ook aan om ʼn saak by hul naaste polisiestasie aanhangig te maak.

“Beeldmateriaal sal ook tydens strafregtelike ondersoeke as bewysstukke dien om diegene wat aan misdaad aandadig is, te identifiseer,” sê Smith.

Dienste en sakeondernemings se bedrywighede word al vir ʼn week in Kaapstad ontwrig weens die voortslepende stakings. Vyf mense, onder wie ʼn Britse dokter, is reeds weens geweld tydens die stakings dood. Die staking word gelei deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco).

Die Britse toeris, Kar Hao Teoh, wat tydens die taxi-staking doodgeskiet is (Foto: Twitter)

Inwoners se lewe word regstreeks geraak: ouers kan nie werk toe gaan om ʼn salaris te verdien nie en kinders kan nie by die skool kom nie. Busbestuurders en pendelaars leef in vrees, terwyl selfs verkeersbeamptes deur stakers aangerand is.

Hoewel Santaco gesê het die staking sal tot Woensdag voortduur, het dit vanoggend voortgegaan, met sporadiese voorvalle van onrus wat aangemeld is.

Alle hoofroetes in en om Kaapstad was Donderdag oop en verkeer het soos gewoonlik gevloei. Busdienste het ook normaalweg voortgegaan, maar wel onder die begeleiding van wetstoepassers.

ʼn Vergadering tussen die leierskap van Santaco, die Wes-Kaapse regering en die Kaapstad-metro is vir Donderdag om 12:00 belê. Geen terugvoer oor die vergadering is al ontvang nie.

(Foto: JP Smith/Facebook)

Verskeie partye en organisasies, ook Santaco, vra dat ʼn ooreenkoms so spoedig moontlik bereik word om die vrede in die Moederstad te herstel.

Die vakbond Cosatu het aan die direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), die minister van onderskeidelik polisie en vervoer, die premier van die Wes-Kaap en die burgemeester van Kaapstad geskryf en dringende ingryping versoek om onderhandelinge te vergemaklik om die verwoestende staking te beëindig.

Die DA versoek alle belanghebbendes om aan opbouende dialoog deel te neem en te werk aan ʼn vreedsame oplossing wat die bekommernisse van alle betrokke partye hanteer.

“Dit is slegs deur eenheid en begrip dat ons ʼn omgewing kan skep waar veiligheid en welvaart saam bestaan,” sê Willem Faber, DA-lid van die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking.

“Aangesien Kaapstad steeds as ʼn wêreldwye toeristebestemming floreer, doen ons ʼn beroep op alle betrokke partye om ʼn spoedige oplossing vir die voortslepende taxi-staking te vind. Ons glo dat ʼn onmiddellike beëindiging van hierdie staking noodsaaklik is om te verseker dat oorsese toeriste nie hoef te vrees om Suid-Afrika te besoek nie, asook die skoonheid en diversiteit wat ons land bied ten volle kan geniet.”

Die party Rise Mzansi doen ʼn beroep op die Wes-Kaapse onderwysdepartement om aan leerders, ouers en lede van die publiek inligting te verskaf oor watter maatreëls hy ingestel het of gaan instel om te verseker dat leerders wat skooldae weens die staking verloor het, dit behoorlik kan inhaal.

Soos Dinsdag berig, het 852 259 – of 71% – van leerders skool misgeloop; 92 skole is gesluit en 17 725 personeellede was afwesig.

Stappe teen skut van taxi’s

(Foto: JP Smith/Facebook)

Santaco was ook ontstoke oor die skut van taxi’s en het gesê hy gaan aansoek doen vir ʼn hofbevel om al die taxi’s wat die afgelope week in Kaapstad geskut is, te laat vrystel en te verhoed dat nóg taxi’s geskut word.

Taxidienste sal nie hervat word tot daar uitsluitsel hieroor is nie, het die organisasie Woensdagaand gesê.

Die GOOD‑party het Santaco se besluit om die hof te nader verwelkom, sê Jonathan Cupido, GOOD-raadslid.

Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, het Dinsdag ook ʼn beroep op die Kaapstadse metroraad gedoen “om alle voertuie wat op grond van ʼn bedryfslisensie en ingevolge die Nasionale Landvervoerwet van 2009 geskut is, onmiddellik vry te stel, sonder enige voorwaardes”.

Volgens Chikunga sal die stad hom nie buite die raamwerk van nasionale wetgewing definieer en strafmaatreëls instel wat nie daarmee strook nie.

“GOOD is egter skepties hieroor en meen die arrogansie van uitsprake wat deur die DA-politici gemaak is, naamlik dat ‘nie ʼn enkele taxi kragtens die nuwe verordeninge geskut is nie’, ʼn leuen is,” sê Cupido.

“Die party doen ʼn beroep op die rekenpligtige beamptes om duidelikheid oor hierdie kwessie te gee.”

Matthew Parks, woordvoerder van Cosatu, sê die party glo dat die taxibedryf se besware hanteer en opgelos moet word, naamlik die oortuiging dat die stad buitensporig opgetree het met die skut van taxi’s.

“Die taxibedryf is die ruggraat van openbare vervoer en miljoene werkersklasgemeenskapslede is daarvan afhanklik om na die werk, skool, universiteite en plekke van aanbidding te gaan,” sê Parks.

(Foto: JP Smith/Facebook)

Cosatu meen benewens die huidige krisis moet ʼn nasionale gesprek oor die formalisering van die taxibedryf gevoer word.

“Die bedryf moet dieselfde vlak van ondersteuning ontvang wat ander vorme van vervoer van die staat ontvang. Die bedryf moet ook aan alle wetlike vereistes voldoen, soos verkeer-, belasting- en arbeidswette. Taxibestuurders is onderhewig aan onaanvaarbare vlakke van uitbuiting in stryd met ons arbeidswette wat betref beperkings op werksure, oortydbetaling, betaalde verlof, beroepsgesondheid en -veiligheid, minimumloon, werkloosheid en beserings-aan-diens-versekering, asook kollektiewe bedinging.

“Die kern van die eindelose krisis in die taxibedryf is dat taxi-eienaars eis dat bestuurders daagliks buitensporige gelde aan hulle lewer en eers nadat hulle dit betaal het, word die bestuurders en ander taxi-werkers betaal. Dit is hoekom bestuurders dan die behoefte voel om so vinnig moontlik te ry om te verseker dat hulle daagliks genoeg geld kan insamel om sodoende vir hul gesinne te kan sorg.

“As ons aanhou om hierdie krisis soos gewoonlik te hanteer, moet ons nie verbaas wees as ons hierdie gewelddadige stakings keer op keer sien nie.”

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Die lug is nou vol engeltjies. Die Stad Kaapstad is nou die skuldiges. Al wat SANTACO geen sê is dat hulle lede mooi gevra is om nie soos gewoonlik alles te verwoes nie en dat hulle lede by die pleidooi gehou het. Dus sal die pendelaars die skuld kry vir die brand en klippe gooi en dan stem Cele en die minister ook saam met die klomp boewe

Wit Leeu ·

Kla so veel aan as wat julle wil. Die polisie kan en gaan niks doen nie.

Sandra ·

praat, praat, praat, neem, neem, neem, en nee, hulle gee niks in ruil nie

Wondermaarnet ·

Die ANC sit agter alles. Die taxi base sal nie staak vir 8 dae sover en nie ‘n sent daaruit kry nie. As hul taxis nie loop nie, is daar mos geen inkomste nie. Die ANC betaal hulle seker onder die tafel deur en die ANC word weer befonds deur Rusland en dit om stemme in die Wes-Kaap te werf vir volgende jaar se verkiesing.

Daisy ·

Ha ha
Hulle wil besering aan diens versekering he, maar hulle ry soos besetenes.

Owlie ·

Hoe dink hierdie mense?
Hulle tantrum oor n wetgewing wat ons almal moet uitvoer sedert ons begin bestuur het maar nie vir een oomblik dink hulle daaraan dat ‘n ontwrigtendevtaxi staking, moord, poging tot moord, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging tot aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer alles oortredings van bestaande lands wette is nie.

Die tyd het aan gebreuk om op te hou waarsku en arresteer die hele spul. Hulle is te gewoond daaraan om te tantrum en dan te kry wat hulle wil hê. Santaco, Cosatu en selfs due regering is nie bo die wette nie dus is n ooreenkoms so eenvoudig soos aanvaar die lands wette, voer dit uit, erken jul foute, betaal jul boetes en respekteer die land se vrede nie jul definisie van vrede wat uit geweld plunder ens bestaan nie.

SomeOne ·

as die taxi bestuurder verkeerd was, vat sy taxi en kry klaar, dat hulle kan voel wat dit is om aan die wet gehoorsaam te wees
die unies dink mos hulle woord is wet, ek veroordeel hul denkrigtings

Owlie ·

Die groot vraag is wie gaan vir al die skade betaal? Beslis nie Santaco, enige van die ministers of wie ookal met al hierdie fandalistieste idees uuitkom nie. Geld kan duidelik nie verstand koop nie.
Meneer Burgemeester staan vas by jou besluite, jy gaan druk kry maar as jh nou ingee tot hulle druk is jy net nog n speedball op hul sokkerbaan. Covid lockdown kon onnodig lank uit gerek word netso kan taxis onbepaald van die pad af gehou word maar ook die plunderaars. As hulle werklik nie geld verdien vir tye wat hulle nie hul taxis op die pad het nie sal hulle gou terug gaan werk toe as hulle aanhou met hul siek selfsugtige speletjie kry hulle geld van iewers af.
As ons almal jaag en ry soos ons wil omdat ons n inkomste wil inbringven dit elke keer meer en meervwil maak gaan daar te min hospitale en dokters wees
Get real pas in by die Suid Afrikaanse wetgewing of trek na n kind waar julle kan doen wat julle wil doen

Anel ·

So die taxibestuurders moet beskerm word, maar wat van hul passasiers? As daar ‘n ongeluk is en van die passasiers kry seer of word gedood en die taxi het nie aan die padverkeersreëls voldoen nie, kan die beseerdes geen eise indien nie. Die taxis is orals arogante bestuurders, hulle is duur en voldoen baie keer nie aan wetgewing nie. Ek gee nie om of hulle die “ruggraat” van vervoer is nie. Mens waag jou lewe in een van hulle. En dan die arrogansie om die land af te brand omdat hulle nie hulle sin kry nie!!!

Theresa ·

Taxi eienaars moes daaraan gedink het voordat hierdie wetteloosheid begin het, well done aan die DA moenie kopgee nie, hiérdie behoort as voorbeeld te dien vir toekomstige stakings en geweld…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.